Is die Heilige Gees in my?
Daar is min dinge wat so belangrik is as om te weet of die Heilige Gees in jou is nie. Van al die seëninge wat ons in Christus ontvang is die inwoning van die Heilige Gees een van die belangrikstes. Die werk van die Heilige Gees is om Christus te verlig (Johannes 16:13-14) en dis deur Hom wat ons God aanroep as ‘Abba Vader’ (Romeine 8:15). Hy is die onderpand, of die deposito en waarborg dat ons die ewige lewe ontvang het (Efesiërs 1:13-14).
1. Die gelowige het die Heilige Gees
Romeine 8:9 maak die volgende stelling “Julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon. Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie.” Dit wil sê dat elke ware gelowige het die Gees van Christus. Daar bestaan nie ‘n ware gelowige wat nie die Heilige Gees het nie.
Sonder die Heilige Gees kan ons nie die ewige lewe ontvang nie, want sê die Apostel Paulus in Efesiërs 1:13-14 “[Christus]in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte, wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid.” Hulle wat nie die Heilige Gees ontvang het nie, het ook nie die ewige lewe nie. Dit is daarom voor die hand liggend en noodsaaklik dat elke gelowige die Heilige Gees het, en elke ware gelowige kan weet dat die Heilige gees in hom woon.
Ons ontvang
die Heilige Gees die oomblik wat ons tot geloof kom. 1
Korintiërs 12:13 sê “Want ons is almal ook deur een Gees gedoop
tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal
van een Gees deurdronge.”
Die doping met die Heilige Gees is sinoniem met bekering. Die oomblik wat ‘n persoon tot geloof in die
Here Jesus Christus kom, ontvang hy die Heilige Gees, dit is die doping met die
Heilige Gees. Ons weet dat elke gelowige
die Heilige Gees by bekering ontvang uit die Here Jesus se eie woorde in Johannes 7:37-39 en die
daaropvolgende verduideliking: “En op die laaste dag, die groot dag van die
fees, het Jesus gestaan en uitgeroep en gesê: ‘As iemand dors het, laat hom na
My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van
lewende water sal uit sy binneste vloei.’ En dit het Hy gesê van die Gees
wat dié sou ontvang wat in Hom glo; want die Heilige Gees was daar nog nie,
omdat Jesus nog nie verheerlik was nie.”
2. Gevul met die Heilige Gees
Om gevul te wees deur die Heilige Gees is om onderdanig te wees aan die
leiding van die Gees. Dit is nie ‘n
enkelmalige of sporadiese gebeurtenis nie, maar die deurlopende belewenis van
die Christelike lewe. Daardeur word ons
‘gelei deur die Gees’, ons ‘wandel deur die Gees’, wat alles sinonieme is
daarvoor om gevul te wees met die Heilige Gees.
Die gelowige groei in sy ‘gevuldheid’ deur die Heilige Gees deur sy geestelike lewe en moet homself daarvoor beywer en dit voordurend soek. In ons geestelike groei is die vraag… “moenie dronk word van wyn nie – daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul. Spreek onder mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere; en sing en psalmsin in julle hart tot eer van die Here.” (Efesiërs 5:18-19).
Om gevul te wees met die Heilige Gees is om bekragtig en beheer te word deur die Heilige Gees. Dis om vernuwing te beleef in jou hart, dis om gehoorsaam te word aan die Here, dis om vrymoedig die evangelie te deel en om vry te kom van die mag van sonde (Sien Handelinge 4:8, 7:55, 9:17. 13:9, Romeine 15:13).
3. Vrug
van die Heilige Gees
Die getuienis daarvan dat iemand
werklik weergebore is word gevind in die Vrug van die Heilige Gees wat sigbaar
is en meer sigbaar word in sy lewe.
Galasiërs 5:19-23 toon aan ons twee uiteenlopend verskillende
gemeenskape. Aan die een kant is daar
die wat die vrug van die vlees toon.
‘owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid, afgodery, towery,
vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap, afguns,
moord, dronkenskap, brasserie en derglike dinge’ (Galasiërs 5:19-21). Hierdie tipe vrug hoort nie by ‘n gelowige
nie. Die gelowige daarinteen behoort die
vrug van die Gees te toon en in dit te groei ‘liefde, blydskap, vrede,
lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid,
selfbeheersing.’ Dit is die vrug wat
getuig van ware geloof en dit is teenwoordige by elke gelowige, maar ons moet
ook hierin groei.
Kyk na jou lewe en sien of hierdie vrug by jou sigbaar is, dit getuig van die Gees se teenwoordigheid in jou lewe. Miskien besef jy ook dat daar nog groei by jou moet plaasvind in hierdie areas, so ‘n begeerte getuig van Sy werk in jou. Maar hoe moet hierdie vrug lyk in ons verhouding met medegelowiges?
a.Liefde – Arbei jy vir die goed van jou broers en susters?
Romeine 5:5 sê God stort sy liefde
in ons harte uit. Dit bring verandering
in ons teweeg, dit bewerk eensgesindheid onder gelowiges, dit maak ons een van
liefde, siel en sin. Dit motiveer ons om
niks uit selfsug of ydele eer te doen nie, maar om in nederigheid die een hoër
te ag as myself en dat ons na mekaar se belange omsien sê Filippense 2:1-4 vir
ons. Hierdie liefde dryf ons om
‘saamgevoeg’ te word te word volgens Kolossense 2:2 en eensgesind te wees en
nie eiewys nie maar nederig volgens Romeine 12:16. Ons belewenis van Christus se liefde is dit
wat ons dryf om lief te wees vir die medegelowiges sê Galasiërs 2:20. Dit maak ons geduldig met mekaar (Efesiërs
4:2), maak ons besorgd oor ons medegelowiges se geestelike welstand sê 1
Korintiërs 8:1. Ons ag onsself as mekaar
se dienaars (Galasiërs 5:13) sodat ons arbei vir die goed van ander (1
Tessalonicense 1:3).
b.Blydskap
– Verheug jy jou oor die Christusgelykvormigheid in medegelowiges?
Paulus sê aan Timoteus ‘…ek verlang
om jou te sien as ek aan jou trane ding, sodat ek met blydskap vervul kan word’
(2 Timoteus 1:4). In elkeen van sy
gebede vir die gemeente in Filippi word met blydskap gemaak sê hy (Filippense
1:4). Want die blydskap van die Gees is
die blydskap van onse Here Jesus (Filippense 4:4) en dit vloei oor in hulle wat
na Sy beeld gemaak is. Paulus sê dat om
sy blydskap volkome te maak moet die gelowiges in Filippi ‘eensgesind wees en
dieselfde liefde hê, een van siel, een van sin’ wees (Filippense 2:2).
c. Vrede
– Streef jy om die eenheid van die Gees te onderhou, selfs teen koste van jouself?
Dit is die Heilige Gees wat die
kerk verenig. Hy maak opgrond van die
vredemakers werk van Christus die Jood en heiden tot ‘een nuwe mens’ (Efesiërs
2:15). Hulle wat voorheen vyande was, word ‘lede van dieselde huisgesin van
God’ (Efesiërs 2:19). Ons word ‘n
‘heilige tempel in die Here’ (Efesiërs 2:21-22). Ons breek nie af wat die Here opgebou het nie
(Efesiërs 4:29-30), maar jaag die vrede na in die kerk (Romeine 14:19). Ons aanvaar vermaning en soek eensgesingheid
sodat ons die liefde en vrede van God kan ondervind (2 Korintiërs 13:11).
d.Lankmoedigheid
– Groei jy in jou vermoë om oortedinge oor die hoof te sien?
Lankmoedigheid of geduld is
innerlike geestelike sterkte (Kolossense 1:11) wat ons instaat stel om
oortredinge oor die hoof te sien. Dis om
geduldig te wees is om soos God te wees wat ‘lankmoedig’ is (Eks. 34:6). Selfs in tye van ernstige en herhaaldelike
aanvalle verdraagsaam te wees en vol lankmoedigheid (Rom 2:4). In die kerk vind ons onsself tussen
‘onordelikes’, ‘kleinmoediges’ en ‘swakkes’, maar ons moet teenoor hulle almal
lankmoedig wees.
e. Vriendelikheid
– Betaal jy ander se oortredinge terug met liefde?
Dis een dink om lankmoedig te wees
met hulle wat verkeerd opgetree het, maar dis ‘n ander ding om hulle met liefde
terug te betaal. Hierin is die vraag da
tons die voorbeeld van ons Here Jesus Christus sal navolg wat ons oortredinge
nie vergeld het met ewige straf nie, maar met verlossing (Titus 3:4-5; Romeine
2:4-5). Dit vat volwassenheid in die
Gees om nie net goedhartigheid te betoon teenoor hulle wat aan jou goed doen
nie, maar juis aan ‘die ondankbares en slegtes’ (Lukas 6:35) en om selfs as jy
vervloek word, met seën terug te antwoord (Romeine 12:14).
f. Goedheid
– Soek jy geleenthede om behulpsaam te wees?
Deur die Gees doen gelowiges nie
net goed wanneer ‘n geleentheid homself voordoen nie, nee, hulle soek die goeie
uit (2 Thessalonicense 1:11). Hulle soek
en doen dit wat ‘welbehaaglik’ is vir die Here en doen dit. Spurgeon het eenmaal gesê ons moet op die
uitkyk wees en geleenthede soek om bruikbaar te wees, ons moet met ons ore en
oë oop rondgaan, gereed om beskikbaar te wees om op elke geleenheid goed te
doen, ons moenie tevrede wees totdat ons bruikbaar is nie, maar dit moet die hoof
ontwerp en ambusie van ons lewe wees (The Soul Winner, p312).
g.Getrouheid
– Doen jy wat jy sê jy gaan doen?
Volgens 1 Thessalonicense 5:24 kan
ons God vertrou, want “Hy wat julle roep, is getrou; Hy sal dit ook doen.” So moet ons ook alles doen wat ons gesê het
ons sal, selfs al kom dit met koste.
Saam met Paulus streef ons om te sê “So waar as God getrou is—ons woord
tot julle was nie ja en nee nie!” (2 Korintiërs 1:18). Ons doen wat ons sê want ons is getrou. Selfs in die klein dingetjies leer die Here
ons moet ons nie nalaat om getrou te wees nie (Mattheus 25:21), want daarin
word ontbloot dat ons groter dinge kan hanteer (Lukas 16:10)
h.Sagmoedigheid
– Gebruik jy jou sterkte om swakkeres te dien?
Toe Jesus gekom het om sondaars te
red het Hy Homself beklee met ‘sagmoedigheid’ (Mattheus 11:29; 2 Korintiërs
10:1), maar dit beteken nie hy het ‘n gebrek aan mag gehad nie. Soos David Manhis stel dit is ‘the godly
exercise of power’ waarmee Hy gekom het.
Dit moet ons benadering wees wanneer ons ‘n medegelowige herstel wat in
sonde geval het (Galasiërs 6:1). Ons
herstel hulle ‘met liefde en ‘n gees van sagmoedigheid’ (1 Korintiërs
4:21). Sagmoedigheid en nederigheid gaan
hand aan hand (Efesiërs 4:2), want dit plaas geen waarde op eie belang nie,
maar is besorg oor die siel van die oortreder.
In sagmoedigheid wil jy so een herstel.
i. Selfbeheersing
– weerstaan jy die begeertes van jou vlees?
Selfbeheersing is harde werk. Paulus vergelyk dit met ‘n atleet wat sy
liggaam bedwing om dit onder beheer te kry (1 Korintiërs 9:25, 27). Die Griekse woord vir dissipline beteken “om
‘n blou oog te gee, om in die gesig te slaan”.
Die punt is, selfbeheersing is pynlik.
Dit vra da tons genadeloos ‘nee’ sal sê vir wêreldse begeerlikhede
(Titus 2:12). Selfdissipline moet
natuurlik toegepas word op alle areas van die lewe, selfs slaap, kos eet,
koffie drink en sulke dinge, maar dit is spesifiek belangrik om ons seksueele
begeertes ons dwang te hou (1 Korintiërs 7:9).
Ons moet ons sondige seksuele begeertes met alle mag weerstaan (Efesiërs
5:3).
4. Die
Heilige Gees se primêre werk
Daar is ‘n intieme konneksie tussen
die werk van die Heilige Gees en die Here Jesus Christus en sy werk. Dit sien ons in Jesus se eie woorde in
Johannes 16:14 “Hy [Die Heilige Gees] sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem
uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig. Die primêre werk van die
Heilige Gees is om Jesus Christus te verheerlik, of Hom te verhoog. Dit doen Hy deur die waarheid aangaande
Christus so wel as die geregtigheid, majesteit, prag, goedheid, medeleye en
liefde van Christus in ons harte te benadruk.
Die Heilige Gees se werk is om Jesus Christus vir ons ‘n werklikheid te maak. Sodat ons Sy liefde en krag in ons lewe kan ondervind. Dit is deur die Gees se werk wat ons meer Christus gelykvormig word en waardeur ons begeer dat ander tot geloof in Christus sal kom. Die Heilige gees is die een wat ons van sonde oortuig (Johannes 16:8), wat ons wederbaar (Johannes 3:5-6), wat ons die sekerheid van verlossing gee (Romeine 8:16), wat ons verstand verlig (Johannes 16:13), wat ons verander (2 Korintiërs 3:18), wat ons vrugbaar maak (Galasiërs 5:22-23), wat aan ons die gawe gee (1 Korintiërs 12:7) en wat ons bekragtig vir die werk van die Here (Handelinge 1:8).
Hy is ook die een wat ons ‘kop kennis’ verander in ‘harts kennis’ sodat ons verander kan word deur ons kennis van Christus. Uiteindelik is die hoof taak van die Heilige gees om ons in staat te stel om die lewe te leef waarvoor Christus gesterf het om vir ons te gee.
Uiteindelik werk die Heilige Gees in ons deur die Woord, deur gebed, deur
die gemeenskap van die gelowiges. Die
werking van die Heilige Gees is selde ‘n hoogs emosionele belewenisse. Die primêre manier waarop die Heilige Gees
werk deur deur algemene middele (woord, gebed, gemeenskap met gelowiges) wat Hy
bonatuurlik deurtrek om ons uiteindelik na Christus en Christusgelykvormigheid
te lei.
So die vraag is: Hoe
weet ek of die Heilige Gees in my is?
Wel, elke gelowige het die Heilige Gees, sonder uitsondering. Dit is onmoontlik om tot geloof te kom sonder
die werking van die Heilige Gees, daarom is Hy in jou. Maar as jou vraag is: Wat is die getuienis
daarvan? Dan is daar wel sigbare teken daarvan: (a) Jy sal gelei word en begeer
om te wandel in die weë van God, (b) die Vrug van die Gees sal dag vir dag meer
sigbaar word in jou lewe, (c) jy sal Jesus Christus deur geloof omhels, Sy
waardigheid erken en begeer om aan Hom gelykvormig te word.
Die gelowige is nie ‘n perfekte mens nie. Verseker is daar in elkeen van ons nog werk (in sommige nog baie), maar daar is geen twyfel dat die een in wie die Heilige Gees is, net net self hierdie tekens in sy lewe sal opmerk nie, maar dat ander mense dit ook sal sien. Uiteindelik is die werk van die Heilige Gees om Christus op te hef en in ons ‘n begeerte te werk om aan Christus gelykvormig te wil wees. As jy hierdie dinge beleef, kan jy weet dat die Heilige Gees is in jou en jy is ‘n kind van God oppad na die ewige rus.
ds. Leon Harmse
Leraar van Sunwardpark Baptistekerk