Hoe deel ek die evangelie in die werksplek?
Elke gelowige is geroep om die evangelie met ander te deel en aangesien, vir meeste van ons, die meeste van ons tyd by die werk gespandeer word, het ons ook die verantwoordelikheid om ons lig daar te laat skyn. Terwyl dit waar is, laat meeste werkgewers nie hulle werknemers toe om hulle geloof vrylik te deel nie. Dit mag daarom vir jou onmoontlik lyk om hier ‘n geleentheid te vind om Christus te verkondig, maar dit is nie.
Ons het die verantwoordelikheid as gelowiges om ons ‘here na
die vlees’ te gehoorsaam (Ef. 6:5; Col 3:22).
Daarom as ons werkgewers ons nie toelaat om die evangelie direk met
ander te deel nie, moet ons hulle hierin gehoorsaam. Ons moet nooit vergeet dat ons die
verantwoordelikheid het om vir ons familie te sorg nie. Soos 1 Timoteus 5:8 ons herinner ‘Maar iemand wat vir sy eie mense, en veral
sy huisgenote, nie sorg nie, het die geloof verloën en is slegter as ‘n
ongelowige.’
Tog kan die gelowige nie die grootste deel van sy dag spandeer op so ‘n manier dat die lig van Christus uitgedoof is en waar dit nie helder kan skyn nie. Terwyl ons ‘n verantwoordelikheid het om ons ‘here na die vlees’ te gehoorsaam, het ons nog meer die verantwoordelik om ons ‘Here na die Gees’ te verheerlik in alles wat ons doen.
1. Leef jou getuienis uit
Terwyl die geleentheid om vrylik oor jou geloof te praat jou miskien ontneem word, word jy nie daarvan ontneem om dit uit te leef nie. Ons geloof moet ons lewe verander en daardie verandering moet sigbaar wees in hoe jy optree. Daarom kan jou andersheid ‘n gulde geleentheid en manier wees waarop jy jou geloof bekendmaak (Kol. 3:17).
a.Jou woorde
Terwyl jy verhoed mag word om die
direkte benadering van evangelisasie te neem, kan niemand jou verhoed om deur
jou woorde jou anderheid te getuig nie.
- Praat anders
Die gelowige se woorde moet
anders wees as die van mense van hierdie wêreld. So behoort ons nooit skuldig te wees aan
leuens nie (Spr. 6:17; Ef: 4:25). Verder
behoort ons geen vuiltaal (Ef. 4:29) of dwase, lawwe of ligsinnige woorde (Ef.
5:3) nie by gelowiges gevind word nie.
Jou woorde is ‘n getuienis van wat in jou hart aangaan (Luk. 6:45) en
behoort daarom jou Christenskap te vertolk.
Inderdaad soos die apostel Paulus ons leer, ons moet ons gedagtes
gevange laat neem deur gehoorsaamheid aan Christus (2 Kor.10:5) sodat ons
gemoed vernuwe sal word om anders as hierdie wêreld te wees (Rom. 12:2) wat
onder andere uiting sal vind in die manier waarop ons praat.
-
Skep ‘n geleentheid
Terwyl jy miskien nie direk met iemand oor die evangelie mag praat nie, kan
jy wel die geleentheid skep waarin spraak hieroor in antwoord kom op iemand
anders se vrae. Die apostel Petrus het
verseker baie van ‘n vyandiggesinde konteks verstaan en leer ons in 1 Petrus
3:15 ‘…heilig die Here God in julle
harte en wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle
rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is, met sagmoedigheid en vrees’.
Hierdie teks vra dat jy gereed moet wees om ‘n antwoord te gee. Dit sluit in om geleenthede te skep om oor
die Here te praat. Iemand mag jou dalk
vra of jy na werk saam met hulle iets wil gaan drink en jy kan antwoord
‘Jammer, as Christen glo ek jy mag nie dronk word van wyn nie’ of as iemand vir
jou teen die einde van die week sê om jou naweek te geniet, kan jy antwoord
deur te sê ‘dankie, ek sien veral uit om Sondag kerk toe te gaan’
-
Bid vir jou medewerkers
Terwyl dit belangrik is dat jy
deur jou woorde teenoor ander ‘n getuie sal wees, is dit ook belangrik dat jy
in jou woorde teenoor die Here vir hulle sal pleit. Pleit by die Here vir medewerkers wat in
sonde en boosheid lewe (1 Tim. 2:1). Bid
vir jou werkgewer, bid vir jou medewerkers, bid vir julle kliente en
verskaffers.
Medewerkers mag by geleentheid vrymoedigheid neem om met jou oor ‘n probleem of hartseer te gesels en dan kan jy vrymoedigheid neem om of vir hulle dan en daar te bid, of hulle te verseker dat jy vir hulle sal bid. Dis egter belangrik dat as jy belowe het om te bid, dat jy dit sal doen (Matt. 5:37).
b.Jou rentmeesterskap
-
Die Skepping
Op een of ander manier het die meeste van ons werk iewers ‘n konneksie
met God se skepping. Of dit is dat jy
vir omgewingsake werk, of behoeftiges versorg, dokumentasie druk, wetenskaplike
navorsing doen of skool gee, iewers is daar ‘n manier waarop jy, nie net self
die omgewing kan bewaar nie, maar ander kan help of aanmoedig om dit ook te
doen. Kom ons vergeet nie dat die Here
ons opdrag gegee het om ‘na Sy beeld’ te heers oor Sy skepping nie (Gen.
1:26). Besin die maniere waarop Sy
skeppingswerk jou werk beinvloed en staan in verwondering oor Sy genade aan jou
hierin, maar poog terselfdetyd om die negatiewe impak van jou werk daarop te
beperk en vind maniere om dit eerder te bevorder.
-
Jou Geldbesteding
Ons praat nie hier spesifiek oor hoe jy jou eie geld besteë nie, maar hoe
jy die werk se geld besteë. Die gelowige
moet homself nie skuldig maak aan enige vorm van bedrog nie (Eks. 23:8). Verder moet ons leer om so ver moontlik
spaarsamig te werk met die hulpbronne van ons werkgewer en dit nie onnodig
vermors nie (Luk. 12:47-48). Ons moet
nooit vergeet dat ook daardie hulpbronne as ‘n gawe van God aan ons voorsien
word nie (Jak. 1:17).
-
Jou ywer
Kom ons vergeet nie dat die Here verwag dat ons deur harde werk ons brood sal verdien nie (Ef. 4:28). Die gelowige behoort altyd op tyd te wees (1 Tim. 6:1) en tydens sy werksure te werk asof hy vir die Here werk (Kol. 3:17). Die verwagting is dat gelowiges daarom altyd hard sal werk en hulle beste sal lewer. Terwyl ander lui mag wegsteek of tyd mag steel, moet gelowiges juis hierin getuig dat hulle ‘n Meester het wat hoër is as hulle werkgewers.
c. Jou Selfopoffering
Terwyl die gelowige versigtig moet wees om van sy werk ‘n afgod te maak
deur homself te oorwerk, moet hy altyd bereid wees om die ‘ekstra myl’ te gaan
om behulpsaam te wees, veral in tye van nood of druk.
-
‘n Siek medewerker
Die gelowige moet bereid wees, om sover moontlik, in te staan vir
medewerkers wat siek is of afwessig is vir een of ander rede. Ek herinner julle aan ons verantwoordelikheid
om Christus se voorbeeld na te volg in hierdie geval volgens Filippense
2:3-4 wat sê ‘Moenie iets doen uit
selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoë ag
as homself. Julle moet nie elkeen na sy
eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n’
-
Tye van druk
Tydens meeste mense se werk kom daar tye waar daar ekstra druk op jou
geplaas word. Soos maand of jaar einde
vir iemand in finansies, of in ‘n noodgeval vir iemand in verpleging, of
eksamen tye vir onderwysers. Die
gelowige moet blymoedig gewillig wees om tydens hierdie tye eksta werkdruk te
aanvaar (Jak. 1:2-4). Terwyl
werksomstandighede wat konstant druk veroorsaak nie goed is vir jou fisies of
geestelik nie, behoort jy bereid wees om vir tye sulke druk te hanteer as dit
nodig raak. Jou gesindheid om nie te kla
nie kan ‘n goeie getuie wees van jou geloof.
2. Deel die evangelie
Terwyl meeste werkgewers hulle werknemers verbied om die evangelie direk met ander te deel in die werksplek is daar wel werkgewers wat dit toelaat of wat nie ‘n verbod hierop plaas nie. In so geval behoort die gelowige vrymoedigheid te neem om sy geloof openlik te deel met ander. Wat behoort ons benadering in so geval te wees? (Hierdie is ook toepaslik waar bogenoemde getuienis deur dade waar jy reageer op ‘n belangstelling van hulle kant af)
a.Bid
E M Bounds maak ‘n baie belangrike stelling oor gebed as hy sê ‘Om met mense oor God te praat is ‘n belangrike ding, maar om met God oor mense te praat is selfs belangriker’. Die apostle Paulus benadruk die belangrikheid dat gelowiges moet bid vir ‘n oop deur en oop harte om die verborgenheid van Christus te kan deel (Kol. 4:2-3). Tensy die hart van die ongelowige oopmaak om die evangelie te ontvang sal hulle dit nooit ontvang nie. Daarom moet ons by Hom pleit om deur Sy Gees, die persoon ontvanklik te maak vir die Woord. Verder het ons die Heilige Gees nodig om ons te lei en te wys hoe om die evangelie te deel met die spesifieke persoon.
b.Soek ‘n geleentheid
As die apostel Petrus in 1 Petrus 3:15 sê ‘wees altyd bereid (gereed) om verantwoording te doe naan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is, met sagmoedigheid en vrees’, beteken dit nie dat ons altyd moet wag vir ‘n geleentheid nie, maar dit beteken ook dat ons self ‘n geleentheid kan skep of aangryp. Sy punt is dat elke geleentheid kan ‘n geleentheid wees om te getuig van ons hoop en ons moet bereid wees om daardie geleenthede aan te gryp wanneer hulle na vore kom. In werklikheid is dit moontlik om enige gesprek te draai tot ‘n geleentheid om oor die Here te praat en so te getuig. Terwyl ek nie daardeur sê ons behoort elke omblik by die werk ‘n evangeliesasie oomblik te maak nie, behoort ons, waar dit toelaatbaar is, minstens gereeld sulke geleenthede skep en gebruik tot Sy eer.
c. Deel die evangelie
As
die geleentheid homself voordoen moet die gelowige dit altyd aangryp om die
evangelie met ander te deel. Die
gelowige het nodig om die tyd uit te koop deur in wysheid te wandel (Kol. 4:5). Om die evangelie te deel beteken nie ons hoef
hard en kras te wees nie, inteendeel, veral in die werksplek sal ek julle
aanmoedig om dit met sagmoedigheid te doen (Gal. 6:1). Dit is ook belangrik om
geduld aan die dag te lê en nie radikale onmiddelike bekering in elke geval te
verwag nie (1 Kor. 3:6-7)
Terwyl dit dag vir dag moeiliker word om geleenthede te kry om die evangelie te deel en dit veral in die werksplek, moet die gelowige wys en kundig wees om sy getuienis uit te leef en geleenthede te skep om te getuig van die hoop wat in ons is. Die feit dat werkgewers ons verbied om die evangelie direk te verkondig ontneem ons nie van ons verantwoordelikheid aan die Here om elke geleentheid te gebruik om Hom te eer en Sy Naam te verkondig nie. Die opdrag om te getuig word nie net aan sekere gelowiges of vir sekere tye gegee nie, maar vir alle gelowiges by elke geleentheid.
Terwyl jou werk noodsaaklik is en jy daarom jou ‘here na die
vlees’ moet eer, moet jy altyd onthou dat jy nie daardeur die ‘Here van jou
Gees’ moet verontagsaam nie. Wees ‘n lig
deur jou dade, en waar die geleentheid homself voordoen, gryp dit aan om ook ‘n
lig te wees deur die Woord duidelik in liefde te verkondig. Laat ons egter nooit vergeet dat ons
evangelisasie van ander begin in die hart nie, ‘n hart wat besorg is oor ‘n
verlore gaande wêreld en ‘n hart wat meer besorg is oor die eer van onse
Here. Daarom wil ek julle aanmoedig om
eers met God te praat oor mense, voordat julle met mense gesels oor God.
ds. Leon Harmse
Leraar van Sunwardpark Baptistekerk
.jpg)