Hoe kan ek weet of ek gered is?
Persone het by ‘n aantal geleentheide al vir my genoem dat hulle sukkel met geloofssekerheid. Dit het my laat dink dat hierdie stryd dalk meer algemeen is as wat ons dink. Dis iets waarmee selfs ware gelowiges van tyd tot tyd kan sukkel.
1. Waarvoor is jy lief?
Die ware gelowige is 'n veranderde persoon. Deur God se genade het jy die ewige lewe gevind, maar jy het ook nuwe begeertes gevind. 2 Korintiërs 5:17 sê: “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.” Jy is nie meer dieselfde nie, en daarom is wat jy begeer ook nie meer dieselfde nie. Jy is 'n nuwe skepsel, die ou dinge het verbygegaan. Is dit waar van jou?
Ek sê nie jy is reeds perfek nie! Ons bereik nooit perfeksie in hierdie lewe nie. Maar ons begeertes is nou in ooreenstemming met wat Paulus in Efesiërs 4:22-24 sê: “dat julle, wat die vorige lewenswandel betref die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan, en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid.”
Daar is 'n verlange om meer heilig te word. 'n Voortdurende dryfkrag om aan die sonde te sterf; 'n voortdurende begeerte om God in alles te behaag. Alhoewel ons soms sal misluk, is daar 'n begeerte om op te staan en weer te probeer. Jy haat jou sonde en veg voortdurend om dit te oorkom. Jy het nuwe liefde, jy is lief vir die dinge van God, jy haat die dinge van die wêreld. Dis nie perfeksie nie, maar dis rigting! Dis die teken van ware geloof.
Hier is 'n paar dinge wat ware gelowiges liefhet:
a. Gelowiges
is lief vir die Here
Die grootste gebod volgens Matteus 22:37-38 is: “En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod.”
Het jy die Here werklik lief, met jou hele hart, siel en verstand? Nie perfeksie nie, maar rigting! Het jy die Here lief?
b. Gelowiges
is lief vir die Woord
Psalm 119:103-105 sê: “Hoe soet is u beloftes vir my verhemelte, meer as heuning vir my mond. Uit u bevele kry ek verstand; daarom haat ek elke leuenpad. U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad.”
Selfs al word jy deur die Woord van God aangespreek en al is dit soms moeilik om dit te gehoorsaam, verlustig die gelowige hom in die Woord van die Here. Jy sien uit daarna om dit te bestudeer, jy mediteer daaroor en probeer om dit te gehoorsaam. Is jy lief vir God se Woord?
c. Gelowiges
is lief vir medegelowiges
In 1 Johannes 4:20 lees ons: “As iemand sê: Ek het God lief—en sy broeder haat, is hy ‘n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie?” Ons liefde vir die medegelowiges is 'n teken dat ons God liefhet, sê Johannes. Dit weerspieël wat Jesus in Johannes 13:35 sê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.” Dit beteken nie dat ons nie soms met gelowiges verskil nie, maar ons moet hulle steeds liefhê.
In Galasiërs 2:11-14 sê Paulus dat hy ernstig met Petrus verskil het en hom bestraf het. Tog noem hy Petrus oomblikke tevore in verse 8 en 9 ‘n man wat deur God geroep is en 'n 'Pilaar' van die geloof. Net so, wanneer hy oor Paulus praat, sê Petrus dat sy briewe 'wysheid' en 'Skrif' is. Daar is ook baie tekens dat Petrus nie net Paulus se briewe gelees het nie, maar ek vermoed dat hy hulle in gedagte gehad het toe hy in sy eie briewe geskryf het.
Liefde vir die medegelowiges: selfs al verskil jy oor nie-fundamentele dinge; selfs al bestraf hulle jou, is dit waar van jou? Want dit is 'n teken van ware gelowiges, ons is met mekaar verenig in Christus.
d. Gelowiges
is lief vir die eredienste
Daar bestaan nie so iets soos 'n ware gelowige wat weier om kerk toe te gaan nie. Hebreërs 10:25 beskryf die verwaarlosing van die onderlinge byeenkoms as 'n slegte gewoonte wat nie in 'n Christen hoort nie. Selfs al is ons lewens in gevaar, soos dit met die gelowiges in Handelinge 1:13-14 was, het hulle op die dag van die Here in die bovertrek bymekaargekom om saam te aanbid.
Waarom is die onderlinge byeenkoms belangrik? Omdat Jesus in Mattheus 18:20 sê: “Want waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde.” Daar is 'n besondere teenwoordigheid van ons Here in ons samekomste. Sodat ons nie net gemeenskap met mekaar het nie, maar ook met ons Here.
Die ware gelowige sien uit na Sondag: Om Sy Woord te hoor en daaroor te besin; om ons waaragtige God te aanbid; om saam met die heiliges te vergader.
e. Gelowiges
is lief vir die dinge van God
1 Petrus 4:1-2 sê: “Omdat
Christus dan vir ons na die vlees gely het, moet julle jul ook wapen met
dieselfde gedagte, dat wie na die vlees gely het, opgehou het met die
sonde, om die orige tyd in die vlees nie meer volgens die begeerlikhede
van die mense te leef nie, maar volgens die wil van God.” Hy praat met
lydende Christene, so wat ook al jou omstandighede mag wees, dit geld ook vir
jou: Diegene wat waarlik met Christus verenig is, bestry sonde; diegene wat
waarlik met Christus verenig is, doen God se wil! Jesus waarsku oor dieselfde
ding in Matteus 7:21: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in
die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in
die hemele is.”
Al die dinge wat ek genoem het, is tekens dat jou geloof waar is. Ons word nie deur goeie werke gered nie, maar almal wat gered is sal goeie werke doen. Gelowiges haat hulle sonde; Gelowiges het die weë van ons Here lief. Dit is nie perfeksie nie, ek Dit gaan oor rigting! Efesiërs 2:10 “Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.” Ons goeie werke is bewys dat ons waarlik gered is. Wat sê jou begeertes en dade oor jou geloof? Die gelowige, sê Kolossense 3:1-2, is nou “saam met Christus opgewek”, so hy “soek die dinge wat daarbo is” en “nie die dinge wat op die aarde is nie.” Wat jy liefhet, sê of jou geloof eg is of nie.
2. Is
jy nederig?
Die gelowige is 'n sondaar wat deur genade gered is, en daarom kan hy nooit trots wees nie. Selfs nou as 'n gelowige is jy steeds 'n sondaar: Jy veg teen sonde, maar dit bly steeds. Weereens, dit is nie perfeksie nie, maar rigting!
Paulus vertel van sy ervaring van Romeine 7:15. “Want wat ek doen, weet ek nie; want wat ek wil, dit doen ek nie, maar wat ek haat, dit doen ek.” Ons sal nooit perfek wees in hierdie lewe nie, ons skiet tekort aan die heerlikheid van God, en sal ons lewe lank. Maar ons veg voortdurend teen sonde en soek geregtigheid! Ons sondige oorsprong en die sondige dade wat bly, moet ons daarvan weerhou om trots te word.
Die gelowige se ingesteldheid moet soos Dawid s'n in Psalm 51:3-5 wees: “Wees my genadig, o God, na u goedertierenheid; delg my oortredinge uit na die grootheid van u barmhartigheid. Was my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde. Want ék ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my.” Die gelowige weet: hy is 'n sondaar en al wat ons het, is God se onverdiende genade, hy ken die waarheid van Romeine 6:23: “Die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.”
Hierdie genade van God moet die gelowige nederig maak. Johannes 3:16 is 'n bekende vers, maar dit moet jou nederig maak wanneer jy lees: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” Die koste van jou sonde; die groot liefde van God! Hoe kan jy trots wees? Hoe kan jy nie nederig wees nie? Saam met Paulus in 2 Korintiërs 9:15 moet ons nederig sê: “Maar God sy dank vir sy onuitspreeklike gawe!”
3. Is jy gehoorsaam?
Ware gelowiges streef daarna om God se wil te doen! Ons is nie perfek nie; ons skiet tekort aan die heerlikheid van God! Maar die gelowige veg teen sonde; die gelowige hou nooit op om te begeer en te werk om die wil van God te gehoorsaam nie. Dit is die rigting, dit is nie perfeksie nie.
1 Johannes 2:4 “Hy wat sê: Ek ken Hom, en sy gebooie nie bewaar nie, is ‘n leuenaar en in hom is die waarheid nie.” Ja, ons misluk, maar het droefheid en berou wanneer ons nie Sy wil doen nie. Jesus sê in Johannes 14:15: “As julle My liefhet, bewaar my gebooie.” Jesus is meer onwrikbaar in Johannes 14:23-24a en sê: “Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak. Hy wat My nie liefhet nie, bewaar my woorde nie.”
Jy is nie sondeloos nie, jy is nog vêr van perfek, maar die gelowige veg teen sonde, bely sonde, as vergifnis vir sonde, en hou aan om teen sonde te veg. Galasiërs 5:16 “Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie.”
Maar die gelowige doen ook God se wil. Jakobus 4:7-8 sê: “Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug. Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges!”
Die twee gaan hand aan hand, ons veg teen sonde, en ons soek geregtigheid. Wanneer ons faal, bekeer ons ons, staan op, stry en veg weer tot ons sterfdag. Is dit waar van jou?
Ons is sondaars wat in 'n sondige
wêreld leef, maar die gelowige soek om God te verheerlik. Die gelowige is lief
vir die dinge van God. Hy veg en haat die sonde wat oorbly. Hy bely, hy bekeer
hom, hy keer terug na die weë van die Here. Het jy die Here en Sy weë en Sy
dinge lief? Is jy steeds nederig asgevolg van jou sonde en Sy onverdiende
genade teenoor jou? Soek jy daarna om die Here te gehoorsaam en veg jy teen jou
sonde? Dit is die tekens van ware geloof.
As 'n voetnota, wil ek byvoeg dat beproewings 'n goeie toets van ware geloof is.
Dryf beproewings jou na die Here toe, of dryf beproewings
jou weg van die Here af? Soms neem dit tyd om dit te toon, maar bring dit jou
nader of dryf dit jou verder van God af?
In die begin kan beproewings jou oorweldig, selfs irriteer of kwaad maak. Dit is sondig, maar nie onvergeeflik nie! Maar as beproewings en verdrukkinge jou van die Here af wegdraai, is jou geloof nie opreg nie. As dit jou die Here laat wantrou, of selfs meer, die Here laat haat, isjou geloof nie ware geloof nie.
Jakobus 1:2-4 sê: “Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val, omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk. Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie.” Wat Jakobus sê is dat beproewings en verdrukkinge die uiteindelike toets van jou geloof is. As dit staande bly, is jou geloof opreg; As jou geloof wegval, is jou geloof 'n leuen.
Beskou daarom beproewinge as 'n vreugde. Psalm 119:71 sê: “Dit is goed vir my dat ek verdruk
was, sodat ek u insettinge sou leer.” In Romeine 5:3-5 sê Paulus: “...maar ons roem ook in die
verdrukkinge, omdat ons weet dat die verdrukking lydsaamheid werk, en die
lydsaamheid beproefdheid en die beproefdheid hoop; en die hoop beskaam
nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees
wat aan ons gegee is.”
Die vraag oor jou geloof is belangrik. As jy geloof het, kan
jy dit nie verloor nie! Maak dus seker dat jy waarlik ‘n gelowige is. Want ons
word deur geloof alleen gered, in Christus alleen, deur die genade van God
alleen. Sonder geloof kan jy nie gered word nie. Dank God vir Sy onverklaarbare
genade teenoor elke gelowige oral!