Mag gelowiges dobbel?
Na aanleiding van die stuk wat ek oor geld geskryf het, het
iemand my gevra om meer uit te brei op die saak van dobbelary. Terwyl daar geen spesifieke Bybelvers is wat
sê “Jy mag nie dobbel nie”, moet die gelowige erken dat dit nie die beste
rentmeesterskap van jou geld is nie.
Verder is daar duidelik baie Bybelse beginsels wat deur die praktyk van
dobbelary verbreek word. Die gelowige
moet homself nie aan enige vorm van dobbelary skuldig maak nie, want dit is nie
tot eer van God nie.
1. Moderne vorme van dobbelary
Daar is baie modern vorme van dobbelary. Sommige van hierdie ‘spelletjies’ kan baie onskuldig voorkom, maar die beginsel agter dit is soorgelyk aan dobbelary. Hier is ‘n paar voorbeelde:
a.Dobbelhuise
-
Slot masjiene
-
Kaartspel vir geld (Poker, Black Jack ens.)
-
Dobbel tafels (Rollet, Baccarat, Craps)
b.Lottery
-
Lotto
-
Krapkaartjies
c. Sport wettenskappe
-
Sokker, Rugby, Kriket en enige ander
-
Perde- of hondewedrenne
d.Internet dobbelspelletjies
-
Dobbel webtuistes
(Selfs aflaaibare dobbel spelletjies, terwyl daar miskien geen fisiese
geld betrokke is nie, skep die begeerte om te wen)
e. Televisie programme
-
‘Big Brother’ en ander ‘geluk’ en ‘wins’ gedrewe
programme
f. Meer ‘onskuldige’ spelletjies
-
Karnaval- of Basaarspelletjies
-
Die gooi van ‘n munstuk of dobbelsteen
-
‘Rock/Paper/Scissors’
Ons leef in ‘n wêreld wat behep is
met voorspoed en rykdom en daar is sekerlik talle ander vorme van dobbel wat ek
nie eers van bewus is nie. Enige praktyk
waar daar ‘n wenner en verloorder is en waar daar voordeel bekom word (finansieel
of andersins) ten koste van die verloorder kan geklasifiseer word as dobbel.
2. Bybelse voorbeelde van dobbel?
Sommige mense probeer om Bybelse gebeure te gebruik om dobbelary te regverdig. Kom ons kyk na die tekste wat hulle algemeen hiervoor word om te toon dat dit in geen manier die moderne praktyk van dobbelary regverdig nie.
Een so voorbeeld wat baie keer opgebring word is dat die soldate die lot gewerp (looitjies getrek) het vir Jesus se klere na sy kruisiging. Dit word in Markus 15:24 genoem. ‘n Ander voorbeeld wat soms gebruik word om dobbelary te regverdig is die verhaal van Simson. By sy bruilhof stel hy aan sy gaste ‘n raaisel. Indien enige van hulle die raaisel kan uitwerk sal hy aan hulle 30 stelle klere gee. Sy vrou verlei hom dan om vir haar die antwoord te gee en Simon in sy boosheid gaan uit en slaan 30 mans dood en gee vir die persoon hulle klere. Ek gropeer hierdie twee Bybelse voorbeelde saam omdat beide handel oor klere. Wat ek egter wil hê ons moet in beide van hierdie gevalle sien is dat die praktyk van dobbel nie hier in ‘n goeie lig gestel word nie, maar ‘n slegte lig. Die soldate neem die klere wat aan Jesus behoort en verdeel dit onder hulleself, dis diefstal! Dis om iemand anders se eiendom op oneerlike wyse te bekom. In die verhaal van Simson vind ons oneerlikheid, bedrog, moord en diefstal sodat die wat gewen het hulle oneerlik wins kan ontvang. Een van die grootste probleme met dobbelary is juis dat dit op die verlies van ander prooi om jou te verryk. Daar is verder baie oneerlikheid wat met die dobbel industrie gepaard gaan.
Maar daar is nog ander Bybelse
voorbeeld wat deur baie gebruik word om dobbelary te regverdig. In tekste soos Joshua 18:10, Nehemia 10:34,
Handelinge 1:26 en ander word die lot gewerp om besluite te maak. Maar die gewerp van die lot om God se wil te
soek in ‘n saak is nie dobbelary nie.
Dit was die Godgegewe manier in Bybelse tye wat God soewerein ingespan
het om Sy wil aan mense bekend te maak.
Dit het niks met dobbelary te make nie. Spreuke 16:33 wys juis God se soewereiniteit in hierdie saak
“In
die skoot word die lot gewerp, maar elke beslissing daarvan kom van die HERE.” Dit het niks hier te make met soek na ‘geluk’
of voorspoed nie, maar na die soeke na God se wil. Daar was nie in hierdie tekste ingespan om
mense ryk te maak nie, maar wys te maak in wat God behaag in die spesifieke
situasie. Dit was in Bybelse tye die God
bepaalde manier om sy wil aan sy dienaars te openbaar.
3. Bybelse beginsels teen dobbel
Waarom dobbel mense? Dis om jou geluk op die proef te stel in die hoop om vinnig ryk te word of voordeel te bekom. Maar dit staan teen talle Bybelse beginsels:
a.Najaag van rykdom is gevaarlik
Die gelowige behoort nie rykdom na te jaag nie, want die Bybel leer ons dat daar soms ernstige gevaar daarmee kan saamgaan. So lees ons byvoorbeeld in Markus 4:19 fsy rykdom lei tot wêreldse sorge waarin mense dan verstrik word en sodoende nie die Here ten volle, of enigsins, volg nie. In Markus 10:25 vind ons die rykjongman wat nie bereid was om af te sien van sy rykdom om Jesus te volg nie. In beide gevalle is rykdom ‘n stuikelblok om geestelike voordeel te bekom. Die probleem is baie keer juis dit wat Jesus in Lukas 16:13 aanspreek “Geen huiskneg kan twee here dien nie; want hy sal òf die een haat en die ander een liefhê, òf die een aanhang en die ander een verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie.” Vir baie ryk persone is hulle geld (Mammon) waar hulle ware lojaliteit lê. Christenskap vra nie dat jy noodwendig van al jou geld ontslae moet raak nie, maar dit vra dat jy dit nie sal verafgod en ‘n primêre prioriteit in jou lewe moet maak nie. Paulus maak hierdie punt ook duidleik in 1 Timoteus 6:10 “Want die geldgierigheid is ‘n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor.”
b.Inkomste moet verdien word deur harde
werk
Toe die Here die mens gemaak het, was dit sy opdrag dat hulle hard sou werk om sodoende ‘n lewe te maak (Genesis 2:15). So is die verwagting van die Here steeds van gelowiges om deur eerlike harde werk hulle inkomste te maak. In 2 Thessalonicense 3:10 sê Paulus, “As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie.” Ook Spreuke 10:4 praat teen luiheid en sê “Hy word arm wat met ‘n trae hand werk, maar die hand van die vlytiges maak ryk.”
‘Vlinkrykdom’ lei ook baie keer tot groot ellende leer ons in Spreuke 13:11 “Goed wat uit niks verkry is, word minder; maar hy wat met die hand bymekaarmaak, kry altyd meer.” Deur die geskiedenis is daar talle voorbeelde van mense wat na ‘vlinkrykdom’ ook in vinnige ellende beland het. Familietwis, egskeiding, selfs familiemoord was al die gevolg van iemand se ‘geluk’ in dobbel.
God se verwagting is steeds dat die mens, en veral gelowiges, deur eerlike harde werk ‘n inkomste verdien.
c. Begeerlikheid is sonde
Die najaag van geld en besittings is sonde. Die rede waarom baie mense dobbel is omdat hulle ‘n onbevredigde behoefte aan meer geld en besittings het. Ons hoef egter nie lank te dink aan ‘n Bybelvers wat teen begeertes praat nie. In die Wet van die Here in Eksodus 20:17 sê dit: “Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie; jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie, of sy dienskneg of sy diensmaagd, of sy os of sy esel of iets wat van jou naaste is nie.” Jou begeerte na meer is nie in ooreenstemming met God se wil nie. Jou begeerte behoort na die Here te wees en Hy is jou versadiging.
d.Rykdom los nie jou probleme op nie
Daar is ‘n algemene idee dat as jy
net meer geld het al jou probleme opgelos sal wees. Dit is ook een van die redes waarom sommige
mense dobble. Maar rykdom los nie ons
probleme op nie. Die Byble leer ons dat rykdom veroorsaak in teendeel net meer
probleme. Prediker 5:9-14 se insig
hieroor is behulpsaam: “Hy
wat geld liefhet, kry nie genoeg van geld nie, en wie rykdom liefhet, nie van
inkomste nie; ook dit is dan tevergeefs. As die goed baie word, word die
eters baie; watter voordeel het die besitter dan daarvan, behalwe dat sy oë dit
aanskou? Soet is die slaap van die arbeider, of hy min en of hy baie eet;
maar die oorversadiging van die ryke laat hom nie toe om te slaap
nie. Daar is ‘n smartlike onheil wat ek onder die son gesien het: rykdom
wat deur sy besitter bewaar word tot sy eie ongeluk. Gaan hierdie rykdom
verlore deur ‘n ongeval, en het hy ‘n seun verwek, dan besit dié niks
nie. Soos hy uit die skoot van sy moeder uitgegaan het, gaan hy naak weer
heen soos hy gekom het; en hy sal vir sy moeitevolle arbeid niks wegdra wat hy
met hom kan saamneem nie.”
e. Hoop op geluk is onChristelik
Dobbel is gebaseer op die beginsel van geluk, maar gelowiges behoort nie in geluk of toeval te glo nie. Ons glo in die voorsienigheid en soewereiniteit van God wat vir ons alles gee wat ons het. Die gelowige behoort daarom nie sy hoop in ‘spoedwins’ pryktyke te plaas nie, maar moet die Here vertrou. R C Sproul het gesê: “As daar een rebelse molekule in die hele heelal bestaan, dan is God nie soewerein nie. En As God nie sowerein is nie, is Hy nie God nie.” Alles wat gebeur is onder die beheer van God, en ‘geluk’ is daarom nie iets wat bestaan nie. Dit is daarom verkeerd vir ‘n gelowige om sy ‘geluk’ in dobbel te probeer. Soos Spreuke 16:33 leer “In die skoot word die lot gewerp, maar elke beslissing daarvan kom van die HERE.”
f. Dit prooi op armes
Die beginsel waarop alle vorme van
dobbelary werk is dat daar min is wat wen en baie is wat verloor. Daardie verloorders befonds nie net die
wenner nie, maar ook hulle dobbelorganisasie.
Die oorgrote meerderheid van mense wat dobbel (veral Lotto) is mense wat
desperaat arm is en in die hoop lewe dat hulle hulself ryk gaan wen. Die bemarking van baie van hierdie
dobbelmaatskappye is juis gemik op die armes, veral in derde wêreldse lande. Vir sommige is ‘n paar Rand op ‘n
lottokaartjie nie ‘n groot verlies nie, maar vir ander is dit miskein als wat
hulle het. As jy in dobbel wen is dit op
die rug van die armes en dit behaag God nie. Spreuke 14:31 sê “Wie die geringe verdruk, versmaad sy Maker,
maar hy wat hom oor die behoefteige ontferm, een Hom.” Om hierdie punt nog sterker oor te dra sê Spreuke 22:22-23 “Beroof
die arme nie, omdat hy arm is, en verbrysel die ellendige nie in die poort
nie. Want die HERE sal hulle saak
verdedig en hulle berowers van die lewe berowe.”
g.God vereis goeie rentmeesterskap
Die Here verwag van gelowiges om
God te eer in alles wat hulle doen, ook ons geld. 1
Korintiërs 10:31 sê “Of julle dan eet of drink of enigiets doen,
doen alles tot verheerliking van God.”
God het jou geld aan jou gegee as ‘n gawe waardeur jy Hom moet eer en
deur te dobbel is jy nie ‘n goeie rentmeester van die Here se geld nie. Dobbelary eer God nie.
Terwyl die Bybel nie direk teen dobbel praat nie, is dit
duidelik uit die bogenoemde dat daar talle Skrifbeginsels is wat wys dat dit
God nie behaag nie. Die gelowige moenie
dobbel nie, want ons begeerte in alles is om God te eer. Instede daarvan om jou hoop in dobbelary te
plaas, plaas jou vertroue volkome in die Here terwyl jy met eerlike harde werk
‘n inkomste verdien. Dis wêreldse mense
wat rykdom najaag in die hoop dat dit hulle blydskap en ‘n sorgelose lewe sal
gee, maar dit sal nie, dit vermenigvuldig net hulle probleme. Die gelowige wat rus in die Here kan seker
wees van sy daaglikse brood en in baie gevalle soveel meer omdat die soewereine
God weet hoe om vir Sy kinders te sorg.
ds. Leon Harmse
Leraar van Sunwardpark Baptistekerk
.jpg)