Mag gelowiges geld vra vir kinderhuise?
‘n Vraag wat ek al op meer as een geleentheid gevra is deur
verskeie persone deur die jare is of dit reg is vir gelowiges om
fondsinsameling te doen vir ‘n kinderhuis of enige sortgelyke
welsynsorganisasies. Met die onlangse
finansiele situasie by die kinderhuis waar ek betrokke is, het hierdie vraag
weer na vore gekom en ek het gevoel dis nodig om dit te hanteer.
1.
‘n
Bybelse verantwoordelikheid
Daar is min twyfel dat gelowiges ‘n verantwoordelikheid het om vir die hulpelose, armes, weduwees en weeskinders moet sorg. Daar is talle Bybelverse wat hierdie saak duidelik aanspreek.
In Markus 9 neem Jesus ‘n kind en laat hom tussen sy dissipels staan (v36). Jesus sê dan “Elkeen wat een van sulke kindertjies ontvang in my Naam, ontvang My. En elkeen wat My ontvang, ontvang nie My nie, maar Hom wat My gestuur het.” (v37). Hieruit kan ons duidelik sien dat Jesus self baie waarde aan kinders geheg het.
Ons sien ook reg deur die Skrif dat die Vader besorgd is oor hulle wat verdruk is. So lees ons byvoorbeeld in Psalm 9:10 “So is die HERE dan ‘n rotsvesing vir die verdrukte, ‘n rotsvesting in tye van benoudheid.”. Die profeet verklaar in Hosea 14:4 “Want by U vind die wees ontferming.” Deutronomium 10:18 sê “[die Here is ‘n God] wat reg verskaf aan die wees en weduwee, en die vreemdeling liefhet, sodat Hy hom brood en klere gee.” (Sien ook Psalm 10:14; 68:7-8; 82:3; 146:9).
Die Here verwag ook van ons om na die behoeftes van behoeftiges om te sien. Jakobus, die broer van onse Here Jesus sê ‘n “Reine en onbesmette godsdiens voor God en die Vader is dit: om wese en weduwees in hulle verdrukking te besoek en jouself vlekkeloos te bewaar van die wêreld” (Jak. 1:27). Job, die regverdige man stel hierin ook vir ons ‘n voorbeeld in Job 29:12 “Want ek het die ellendige gered wat om hulp geroep het, en die wees en hom wat geen helper het nie” (Sien ook Job 6:27; 31:16-18). Die Here Jesus gee in Mattheus 6:1-4 die opdrag om onselfsugtig die behoeftiges te help. Die toon van ware godsdiens volgens Jesaja 58:7 “Is dit nie dat jy jou brood breek vir hom wat honger het, en ellendiges, swerwelinge in jou huis inbring nie? As jy iemand sien wat naak is, dat jy hom klee, en jou vir jou eie vlees nie verberg nie?” (Sien ook Deut. 14:28-29; Est. 2:7; Jer. 7:6).
Ook waarsku die Here hulle wat die behoeftige onderdruk. In Eksodus 22:22 vind ons ‘n prominete waarskuwing “Julle mag geen weduwee of wees verdruk nie.” In Spreuke 23:10 vind ons ‘n soortgelyke waarskuwing “Verlê die ou grenslyne nie, en kom nie op teen die landerye van die wese nie”
Ons het dus genoegsame
Skriftuurlike aanduiding dat die Here die nood van die behoeftiges waardig ag
en van ons verwag om aan hulle behoeftes te voorsien. Die gelowige behoort die nood van ander tot
hulp te kom, dit vorm deel uit van ons praktiese uitlewing van ons geloof. Terwyl
daar uit die Bybel geen aandrang gemaak kan word dat jy vir ‘n spesifieke
organisasie of ‘n spesifieke persoon moet skenk nie, kan ons duidelik sien dat
die saak van behoeftiges vir die Here belangrik is en daarom ook vir ons belangrik
moet wees.
2. Die benadering van George Müller
Vriende van my het vir baie jare ‘n kinderhuis op hulle plot gehad. Hierdie vriende van my het nie ‘n staatsubsidie ontvang nie en het ook nooit van enige iemand geld gevra nie. Hulle huis met ongeveer ‘n 100 kinders was ondersteun deur groot donasies van ‘n Christelike organisasie in Amerika. Deur hierdie donasies het hulle kinderhuis voortbestaan sonder dat hulle ooit nodig gehad het om geld te vra nie. Hulle het reg van die begin af voorgeneem om nooit van enige persoon of organisasie geld te vra nie. Intussen is my vriend oorlede en sy vrou, wat self al op aftree ouderdom is, het die plot verkoop en die Kinderhuis is gesluit. Maar tot op die laaste dag het hulle voortbestaan sonder om ooit van enige organisasie of individue geld te vra.
Hulle benadering was gebaseer op die verhaal van George Müller. George Müller kan gesien word as die vader van moderne Christelike kinderhuise. Hy het in 1834 sy eerste kinderhuis begin en teen die einde van sy lewe het sy kinderhuise meer as 10 000 kinders gehuisves. Wat die werk van George Müller so uitsonderlik maak is dat hy homself voorgeneem het dat hulle nooit vir enige iemand ‘n sent geld sou vra nie, en hy het ook nie. Iemand het eenmaal gesê: “Deur gebed het hulle elke dag hierdie kinders gevoed en versorg.” Dit was inderdaad vir George Müller ‘n saak van absolute vertroue op God se beloftes om vir sulkes te sorg. Hy was daarvoor bekend dat hy deurlopend by die Here gepleit het vir die behoeftes van hierdie kinders. En die Here het voorsien deur die skenkings en donasie van talle organisasies en individue. Deur die jare het hierdie kinders nooit honger gelei nie.
Baie hou die voorbeeld van George Müller voor as die manier waarop Christelike Kinderhuise en Welsynsorganisasie bestuur moet word en hulle fondse moet ontvang, deur gebed en vertroue van die Here se beloftes.
3. Die benadering van Charles Spurgeon
Die vraag is dan, of dit verkeerd is om vir kinderhuise en welsynsorganisasies geld te vra? Toon dit ‘n gebrek aan vertroue in die Here se beloftes om vir sulkes te sorg? Terwyl gebed nooit agterweë gelaat moet word nie en ons altyd daar moet begin, glo ek nie dat dit verkeerd is om te arbei om sodoende bruikbaar te wees in die Here se vervulling van sy beloftes nie. Uit die Skrif sien ons tog duidelik dat die Here hierdie belofte aan die behoeftiges vervul deur metodus en deur mense. Hy wat besorgd is oor behoeftiges, moedig ons aan om besorgd te wees oor behoeftiges.
Dit bring my by die voorbeeld van Charles Spurgeon. Die Metropolitan Tabernacle het onder sy bediening ook ‘n kinderhuis tot stand gebring wat vir nie minder as 500 kinders gesorg het nie. Charles Spurgeon het eenmaal gesê “I, as one of God’s ministers, will never cease to speak on behalf of the rights of the poor.” Hy het ook baie klem daarop gelê dat dit elke gelowige se taak is om geld aan die armes te gee sonder nadenke.
Spurgeon het eenmaal gepreek uit Psalm 41:2 wat sê “Welgeluksalig is hy wat ag gee op die arme; die HERE sal hom red in die dag van onheil.” Hy het gesê dat hierdie belofte behoort aan hulle wat die armes in ag neem en planne maak tot hulle voordeel. Verder het hy gesê dat ons meer vir die armes kan doen as om vir hulle geld te gee, maar soveel meer vir hulle kan doen as ons vir hulle geld gee en meer doen.
Die punt is, Errol Hulse, se opsomming is reg as hy sê: “Terwyl George Müller nooit vir ‘n sent geld gevra het nie, het Charles Spurgeon deurlopend die voorbestaan van die kinderhuis bewerk deur geld van mense te vra. Hy het gevra van gelowiges, wêreldse organisasie en mense.”
Spurgeon, wat goed bekend was met die werk van George Müller en sy praktyk om nooit geld te vra nie, het self gereeld van mense gevra vir die kinderhuis wanneer daar ‘n behoefte bestaan het. Spurgeon het in November 1854 die eerste geleentheid gehad om George Müller te ontmoet en hy het verstom gestaan oor Müller se werk. Spurgeon se reaksie was: ‘I could not speak a word for the life of me…I never heard such a sermon in my life as I saw there’.
Die feit dat Spurgeon altyddeur
geld vir die behoeftes van die kinderhuis gevra het, beteken nie dat hy
betwyfel het dat dit deur die Here se voorsiening gekom het nie. Die kinderhuis
was gebou op ‘n eindom wat vrywillig geskenk is. Hy het een Sondag in ‘n preek gesê dat hulle as
kerk meer kan doen om die gemeenskap rondom die kerk op te bou, en ‘n
kinderhuis voorgestel. Hierna het hulle
gebid en die Here se hulp hierin gevra. Die
Vrou van ‘n Anglikaanse predikant, wat Spurgeon nie geken het nie, was toe deur
die Here gelei om haar erfgeld, na haar man se dood, aan Spurgeon te gee vir
hierdie saak. Maar Spurgeon het ook geen
probleem gehad om, soos die Here ons geroep het, te ywer vir die saak van die
behoeftiges nie. Hy het ook nie geskroom
om te vra wanneer fondse nodig was nie.
4. Dis die Here wat voorsien
‘n Mens is dankbaar vir die werk van George Müller en die besondere manier waarop die Here vir hulle voorsien het sodat hulle nooit nodig gehad het om te vra nie. Maar die benadering van Charles Spurgeon toon aan ons dat God, terwyl Hy altyd die voorsiener van al ons behoeftes is, nie altyd op dieselfde manier, in selfs soortgelyke omstandighede werk nie. Ons bevraagteken ook nie God se getrouheid aan sy belofte deur te vra nie. Ons weet dat Hy die een is wat in elke opsig voorsien. Die punt is: God gebruik mense, God gebruik metodes. Daarom is nie verkeerd of kleingelowig om, in vertroue van die Here, te werk om sy wil tot stand te bring nie. Dit is per slot van reken waartoe ons elke dag geroep is. Ons moet nie net bid en dan agteroor sit nie, maar ons moet bid en dan werk om Sy wil te laat geskied.
Ons moet ook nooit dink dat hierdie werk is die gevolg van ons eie ywer nie, dit is die Here se voorsienigheid deur ons. Ons kan daarom nooit ons eie eer soek nie. Soos die Here ons aanmoedig in Mattheus 6:1-4 “Pas op dat julle nie jul liefdadigheid voor die mense bewys om deur hulle gesien te word nie; anders het julle geen loon by julle Vader wat in die hemele is nie. Wanneer jy dan liefdadigheid bewys, moenie ‘n trompet voor jou blaas soos die geveinsdes in die sinagoges en op die strate doen, dat hulle deur mense geëer kan word nie. Voorwaar Ek sê vir julle, hulle het hul loon weg. Maar jy, as jy liefdadigheid bewys, laat jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie, sodat jou liefdadigheid in die verborgene kan wees; en jou Vader wat in die verborgene sien, Hy sal jou in die openbaar vergelde.”
Terwyl die Here op verskillende geleenthede deur verskillende mense op verskillende maniere gewerk het, betwyfel ons nooit dat Hy die een is wat getrou Sy beloftes gestand doen het nie. Alles behoort aan die Here, en Hy is in staat om enige regverdige metode te gebruik om Sy wil te laat geskied. Laat ons daarom ywer om God se wil te soek, terwyl ons terselfdetyd alles inspan om dit te bewerk, terwyl ons altyddeur ons hemelse Vader dank wat selfs ons gebruik het as dienaars in Sy werk.
Die gelowiges het ‘n verantwoordelikheid om, volgens vermoë,
behoeftiges te help. Soos Spurgeon self
gesê het, ons kan meer vir behoeftiges doen as om vir hulle geld te gee, maar
ons kan soveel meer doen as ons geld gee en meer doen. Terwyl ons wysheid aan die dag moet lê en die
opregtheid van die nood moet ondersoek voor ons help, moet ons nie skroom om
met vrymoedigheid te gee waar daar ‘n behoefte is volgens ons vermoë nie. Maar laat ons deurentyd onthou dat dit die
Here is wat alles voorsien wat ons het en dat Hy, deur ons, hierdie behoeftes
van ander voorsien wanneer ons gee.
ds. Leon Harmse
Leraar van Sunwardpark Baptistekerk
.jpg)