Waarom laat God boosheid toe?
Die Bybel beskryf God as heilig (Jes. 6:3), regverdig (Ps.
7:12), vol geregtigheid (Deut. 32:4) en sowerein (Dan. 4:17-25). Hierdie karakterseienskappe van God vertel
ons dat: (a) God in staat is om boosheid te verhoed, en (b) God begeer dat
boosheid uitgewis sal word. Maar as
albei hierdie stellings waar is, waarom laat God boosheid toe?
1. Die probleem
Sommige noem hierdie kwessie die ‘Achilles’ heel’ van Christenskap omdat hulle reken dit ons geloof ongeldig verklaar. Daar is egter ‘n logiese en Bybelse antwoord op hierdie vraag vir elkeen wat gewillig is om te luister.
Die vraag ‘Waarom laat God boosheid toe?’ is al op verskeie maniere gevra, maar uiteindelik kom dit by dieselfde vraag uit. Sommige vra byvoorbeeld: As God geweet het Adam en Eva gaan sondig, waarom het Hy die boom in die tuin van Eden gesit? Of, as God liefdevol is, hoekom laat Hy toe dat slegte dinge met goeie mense gebeur? Of, as God almagtig is, hoekom doen Hy nie iets aan die lyding in die wêreld nie? Maar dit bly uiteindelik dieselfde vraag: Hoekom laat God boosheid toe? En dis nie net ongelowiges wat met hierdie vraag sukkel nie, selfs gelowige het soms vra oor dit.
Baie mense vra die vraag en talle
gebruik dit selfs om Christenskap te verwerp, maar in werklikheid is dit glad
nie so komplekse vraag om te antwoord nie.
Dis verseker nie die ‘Achilles’ heel’ van Christenskap nie!
2. Wat is boosheid?
Beide Augustinus en C.S.Lewis maar ‘n sterk saak daarvoor dat boosheid nie iets tasbaar of fisies is nie, maar erder ‘n besoedeling (korrupsie) is van iets wat eintlik in wese goed is. Toe God alles gemaak het was dit alles inderdaad baie goed, net soos Hy gesê het (Gen. 1:31).
Toe God ‘die boom van kennis van goed en kwaad’ gemaak het was Hy nie die outeur van boosheid nie. Soos al die ander bome en inderdaad die hele skepping, het God alles goed gemaak. In Sy soewereiniteit, het God egter ‘n geleentheid vir die bestaan van boosheid toegelaat. Dit maak Hom nie die oorsaak of outeur van boosheid nie.
Die woord ‘kwaad’ (boosheid) word die eerste keer in Genesis 2:17 gevind “Maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.” Hier gee God aan Adam die opdrag om nie van die boom se vrugte te eet nie, want anders sal hy sekerlik sterwe. Adam het hierdie boodskap ook aan Eva oorgelewer, so hulle het geweet dat die eet van hierdie vrugte is teen God se wil en het slegte nagevolge.
God se goedheid word gesien daarin dat dit nie die vrug is wat boos is nie, maar ongehoorsaamheid aan Sy goeie wil wat boos is. Sy liefde word gesien daarin dat Hy die mens duidelik gewaarsku het oor die gevaar, maar die mens het uit sy eie vrye wil gekies wat sondig en boos is en die vrug daarvan geeet.
Die boosheid was nie veroorsaak
deur die vrug of die opdrag nie, maar deur die ongehoorsaamheid aan God se
opdrag. Die gevolg is Genesis 3 en hier
sien ons hoe boosheid in hierdie wêreld in gekom het: deur die ongehoorsaamheid
van Adam en Eva. Tenspyte van God se
duidelike waarskuwing het hulle boosheid, of sonde, gekies, eerder as
gehoorsaamheid aan God.
3. Waarom laat God boosheid toe?
So, waarom het God Adam en Eva nie dadelik uitgewis nadat hulle gesondig het nie? Hy het tog gesê dat hulle daarvan sou eet sou hulle ‘sekerlik’ sterf? Waarom het God hulle nog in die lewe gehou? Die logiese antwoord is dat die totale mensdom tot niet gemaak sou moes word, nie net ‘n Adam en Eva nie. Elke mens, soos hulle, doen ook boosheid deur te sondig. Toe God gesê het dat hulle ‘sekerlik’ sal sterf het Hy nie gesê hulle sou onmiddelik stref nie, maar dat hulle verseker uiteindelik sou sterf as hulle sondig. Hulle wat ongehoorsaam is aan God sondig en sal daarom uiteindelik sterf asgevolg van hulle sondigheid.
Tog is daar ‘n mate waarin ons
inderdaad onmiddelik ‘sterf’ as ons sondig.
Op daardie oomblik sterf ons geestelik, wat ‘n voorloper is van ons
uiteindelike fisiese dood. Die sonde
maak die mens ‘n dubbele dood waardig, eers geestelike en daarna ook fisies.
Dis die tragedie van boosheid.
4. Waarom verhoed God nie boosheid nie?
Aangesien God, as die almagtige God, die mag besit om boosheid te verhoed, waarom verhoed Hy dit nie?
a.Die kwessie van ‘vrye wil’
As God die persoonlikheid van elke mens so verander dat dit onmoontlik vir hulle is om sonde te doen, sou dit inderdaad ‘n einde bring aan al die boosheid in die wêreld, maar dit sou beteken dat die mens nie meer ‘n vrye wil het om te kies soos hy wil nie. Dit sou beteken dat die mens nie meer self kon kies tussen reg en verkeerd nie. Dit sou van die mens ‘n geprogrameerde robot maak wat rondgaan en alles goed en reg doen. Dit sou ‘n redelike verhouding tussen God en die mens onmoontlik maak want ons sou outomaties alles doen wat Sy wil is.
Deur ‘n vrye wil het God die mens die vermoë gegee om self te kies tussen goed en sleg. Dit veroorsaak dat gelowiges Hom nou uit liefde wil eer omdat hulle Sy goeie wil vertrou en daarom eerder gehoorsaam wil wees as ongehoorsaam. Adam en Eva, en elke mens daarna, het egter self ongehoorsaamheid aan God gekies. Ons lewe dus in ‘n werklike wêreld met werklike keuses en werklike nagevolge. Adam en Eva se sonde het nagevolge vir ons gehad, net soos ons sonde ook nagevolge het vir ons nageslagte.
Ons eie sonde het ook nagevolge vir onsself, dit lei uiteindelik tot ons eie fisiese dood. Terselfdetyd het dit nagevolge vir ons nageslag wat uit ons in sonde ontvang en gebore word en daarom geneig is tot sondige begeertes waarvoor hulle verantwoordelik is.
Dit is dan een rede waarom God nie ons persoonlikhede so verander sodat ons nie kan sondig nie, want om vir ons ‘n vrye wil te gee maak God nie van ons robots nie. Terwyl hierdie vrye wil, asgevolg van die sonde geneig is tot boosheid, is die mens heeltemal instaat om te kies wat reg is, en kies inderdaad baie kere so.
b.Die voorstel van ‘Goddelike ingrype’
Omdat God almagtig is, hoekom gryp hy nie bonatuurlik in in elke geval van boosheid om sodoende die bose nagevolge daarvan te stop nie? God kan ‘n dronk bestuurder stop voor hy ‘n ongeluk maak. God kan ‘n lui werknemer wegneem wat ander frustreer. God kan die drank of dwelm verslaafde ouer verhoed om sy huweliksmaat seer te maak en te veroorsaak dat die kinders in die kinderhuis beland. God kan die skoolbolie op sy plek dit sodat hy niemand seermaak nie. God kan die dief stop voor hy inbreek. So hoekom doen God dit nie?
Dit sou beteken dat God inmeng en die bose persoon verhoed om dit te doen wat hy graag wil. Dit staan teen die gedagte van vrye wil. Maar meer nog, die noodwendige nagevolge vir die bose persoon sou dat ook tot niet gemaak word. Dit mag na ‘n goeie ding klink, maar dit is nie, want vir baie is die nagevolge van bose aksies juis ‘n afskrikmiddel tot meer boosheid. Sodoende, as God sou ingryp en die nagevolge van boosheid stop, sou dit boosheid aanmoedig en nie tot niet maak nie. Die gevolge van mense se bose aksies is juis daar om boosheid die hok te slaan.
Dink byvoorbeeld aan landswette wat juis boosdoenders se boosheid en die nagevolge van hulle boosheid straf met die doel om dit so te bekamp. Vir bose dade moet daar nagevolge wees. God gryp dus nie bonatuurlik in om die gevolge van bose dade te neutraliseer nie, want dit sou boosheid aanmoedig. ‘Werklike’ dade lei tot ‘werklike’ nagevolge.
In sonde word ons ontvang en gebore, en daar sal ‘n dag kom waarop, nie die regering nie, maar God self sal optree teen alle boosheid (Rom. 5:12). Sy belofte is dat Hy op daardie dag alles sal nuut maak, maar dat Hy intussen hierdie belofte vertraag om sodoende geleentheid aan mense te gee om te bekeer van hulle sonde en verlossing in Christus te vind (2 Pet. 3:9).
c. Die gedagte van ‘massa uitwissing van
bose mense’
Waarom vernietig God nie net al die bose mense onmiddelik nie? Dit sou beteken dat God alle mense sou moes uitwis, want ons is almal boos. God se definisie van boosheid is: Enige iets wat teen Sy heilige wil is. Dit beteken dat dit nie net moord, verkragting, diefstal, marteling, is wat boosheid vir God is nie, maar ook selfsug, kwaadheid, onvergifnis, oneerlikheid, ontrouheid en alle ander sonde wat as ‘klein’ gereken word. Dit is duidelik uit Romeine 3:23: “Want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God.”
Die
standaard van wat boos is, word nie deur ons bepaal nie, maar deur God self, en
Hy onderskei nie tussen groot en klein boosheid nie, maar alles wat teen Sy
heilige wil is, verdien die ewige dood.
God sou ons dus almal moes uitwis!
5. God
se oplossing vir boosheid
Beteken dit ons is nou vir ewig opgeskeep met boosheid? Nee! God het ‘n uitsonderlike plan waardeur Hy uiteindelik die heelal totaal van boosheid sal bevry. Die volmaakte tyd vir die volbringing van God se plan het egter nog nie aangebreek nie, maar die eerste deel is wel reeds in werking gestel: Dit is Jesus Christus.
1 Korintiërs 15:45 noem Jesus die ‘laaste Adam’ en wys dat Hy gekom het om die probleem van sonde wat die ‘eerste Adam’ begin het, op te los. Die ‘eerste Adam’ het ‘n lewende siel geword, maar die ‘laaste Adam’ is ‘n lewendmakende Gees.
Die rede waarom God nie Adam en Eva en die res van die mensdom uitgewis het nie, is omdat Hy geweet het dat Sy Seun eendag sal kom om die prys van sonde en boosheid te betaal. Die rede waarom God die bose mensdom laat voortbestaan het is sodat Christus uit ‘n mens gebore kon word om so die oplossing vir sonde en boosheid te wees.
Let op wat Romeine 3:25 sê “Hom (Christus) het God voorgestel in Sy bloed as ‘n versoening deur die geloof, om Sy geregtigheid te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is onder die verdraagsaamheid van God.” Die vers sê dat God in verdraagsaamheid die straf van sonde uitgestel het omdat Christus sou kom om deur Sy bloed versoening te maak en geregtigheid te gee sodat die sonde ongestraf sou bly vir almal wat deur ‘geloof’ na Hom te kom. Dis nie versoening en geregtigheid met gepaardgaande ongestrafde sonde vir almal nie, maar vir die wat ‘deur die geloof’ na Christus toe kom.
In die dae van die Ou Testament was daar die offerstelses wat nie ‘n genoegsame offer was nie, maar deur hierdie offerstelsel kon die mense van die Ou Testament voorentoe kyk na die volmaakte offer, die Messias, Jesus Christus (Heb. 10:4 & 10)
Maar die gelowige het ook meer, ons het die Heilige Gees in ons wat ons wegdryf van sonde en ongehoorsaamheid en ons harte neig na gehoorsaamheid aan God en Sy wil. Tog bereik ons nog nie perfekte sondeloosheid nie, want ons sal altyd afhanklik bly van Christus vir die vergewing van sonde en toegang tot die ewige rus. Nooit in hierdie lewe sal ons kan voor God kan staan in ons eie geregtigheid nie, maar net in die geregtigheid van Christus. Alle mense, gelowiges ook, bly hulle lewe lank sondaars.
Ons wag vir die volbringing van
God se plan wanneer Jesus op daai laaste dag weer kom en elke mens
ooreenkomstig sy werke sal beoordeel, ons goeie en bose werke. Op daardie dag sal elke mens die antwoord
ontvang vir wat hy verdien vir sy sonde.
Die gelowige sal dit egter nie ontvang nie, want die prys vir hulle
sonde is deur Christus betaal en daarom ontvang hulle, in Christus, die ewige
lewe. Die wat egter God se oplossing vir
sonde en boosheid verwerp het (naamlik Jesus Christus), sal die noodwendige
gevolg van hulle sonde ontvang wat die ewige hel is.
6. Ons reaksie teenoor boosheid
a.Simpatie
Ons almal is sondaars en sal sondaars wees tot die dag van ons dood toe. Daarom behoort ons simpatië met mede sondaars te hê. Dit beteken nie ons moet hulle sondigheid of sonde goedkeur nie, maar deur simpatie toon ons dat ons niks beter as hulle is nie, soos hulle verdien ons die hel.
b.Dankbaarheid
Die bewustheid van ons eie onwaardigheid en die feit dat ons steeds, hoewel onwillig, sondig, moet ons dryf tot harte vol dank tot God in Christus Jesus. In Christus is ons nie net verlos van die ewige hel nie, maar ook verlos van ons natuurlike begeerte tot sonde, sodat ons die sonde nie meer begeer, of ‘n vreugde vind nie. Ons is ook dankbaar vir die Heilige Gees wat ons rig en leer op God se weg van geregtigheid sodat ons dit begeer.
c. Besorgdheid
Die wat verlossing van sonde in Christus gevind het, wil ander na Christus lei. Ons behoort ‘n ernstige besorgdheid te hê oor mense wat verlore gaan. Daarom moet ons vir hulle bid en teenoor hulle getuig dat Jesus Christus die enigste hoop is.
d.Weerstand
Die wat verlossing in Christus ontvang het sondig nie onbesorgd en onnadenkend voort nie. Die gelowige haat die weg van sonde waarop hy eens gewandel het en weestaan dit met alles wat hy kan. Die Gees in ons help ons in hierdie stryd deur ons te herinner dat ons God se kinders is met ‘n nuwe hart en nuwe begeertes.
Dit vra ook verder dat ons
boosheid in hierdie wêreld moet teëstaan en bekamp. Ons soek geregtigheid en ons begeer
aanspreeklikheid. Deur die Woord en in
daad leef ons as vyande van hierdie bose wêreld tot God se eer.
Die antwoord op die vraag waarom God boosheid toelaat is uiteindelik
gesetel in Christus. God laat dit toe
sodat Christus as Verlosser kan optree om mense te verlos van hulle eie
boosheid en uiteindelik van hierdie bose wêreld waarin ons leef. Wat ons sien is dat God selfs boosheid
gebruik vir Sy eie eer en vir die goed van elkeen wat in Jesus Christus glo.
ds. Leon Harmse
Leraar van Sunward Park Baptiste Kerk
.jpg)