Wat beteken dit om die Here te vrees?
Wanneer ons die Bybel lees, lees ons gereeld hierdie woorde: “Die vrees van die Here is die beginsel van wysheid”. Die feit dat ons dit, en soortgelyke stellings so gereeld in die Skrif vind, getuig daarvan dat dit belangrik is. Die punt is nie om te sê dat vrees vir God is waar wysheid begin, asof dit maar net die begin punt van wysheid is nie. Die bedoeling is dat vrees die fondasie is waarop wysheid gebou is. Ons het almal wysheid nodig. Ons leef in ‘n wêreld waarin ons nie net moet weet wat die waarheid is nie, maar ook moet weet hoe hierdie waarheid toegepas word in verskeie situasies. Dit vereis volwassenheid en wyse oordeel, en hiervoor is die vrees van die Here krities noodsaaklik, leer die Skrif ons. Vrees vir God is die grond waarop ware wysheid gebou is.
Maar wat beteken dit om God te vrees? Daar is twee verskillende tipes vrees wat in
die Skrif uitgelig word en ons moet dit begryp voor ons kan verstaan wat van
ons verwag word as ons, wat gelowiges is, die Here moet vrees.
1. Slawe vrees
Ek noem dit slawe vrees omdat slawerny miskien vir ons die beste voorbeeld gee van hierdie tipe vrees. Dink aan ‘n soldaat wat deur ‘n vyandige land gevange geneem is. Hy word deur hulle geslaan, in kettings geboei, in die tronk gegooi en geforseer om soos ‘n slaaf te werk. Hy haat sy meesters, maar om straf te vermy moet hy werk. Dis is wat slawe vrees is.
a.Dis die vrees wat Satan
en sy demone het
Slawe vrees is die tipe vrees wat Satan en die demone
vir God het. Ons sien byvoorbeeld in
Markus 1:23-24 “En daar was in hulle sinagoge ‘n man met ‘n onreine gees; en hy het
uitgeskreeu en gesê: Hou op! Wat het ons met U te doen, Jesus, Nasaréner?
Het U gekom om ons te verdelg? Ek ken U, wie U is: die Heilige van God!” Ons sien wat hierdie bose gees tot vrees
dryf: Dit is dat Jesus hom iets gaan aandoen, dat Jesus gekom het om hom te
verdelg. Jakobus 2:19 praat ook van hierdie tipe vrees wat by duiwels
gevind word as dit sê “Jy glo dat God een is. Jy doen goed; die duiwels glo dit ook, en
hulle sidder.”
b.Dis die vrees wat
ongelowiges moet hê
Slawe vrees is
ook die vrees wat ongelowiges vir God behoort te hê. Vir hulle behoort die vrees van God, ‘n vrees
van oordeel en ewige straf te wees. Jesus praat oor die vrees wat ongelowiges
moet hê vir God in Lukas 12:4-5
“Moenie
vrees vir die wat die liggaam doodmaak en daarna niks meer kan doen nie; maar
Ek sal julle wys wie julle moet vrees: vrees Hom wat, nadat Hy doodgemaak het,
by magte is om in die hel te werp; ja, Ek sê julle, vrees Hom!” Hierdie vrees is ook dit waaroor Hebreërs 10:31 praat as dit sê “Vreeslik
is dit om te val in die hande van die lewende God.”
c. Dis nie die vrees wat
gelowiges moenie hê nie
Slawe vrees is
die tipe vrees wat Romeine 8:15
sê die gelowige nie ontvang het nie “Want julle het nie ontvang ‘n gees van
slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming
tot kinders, deur wie ons roep: Abba Vader!” Ons moet nie hierdie tipe vrees te hê
nie: Ons vrees God nie as ons vyand nie;
ons vrees nie dat God ons soos slawe sal hanteer nie, want ons is sy kinders.
Augustinus lewer kommentaar oor 1 Johannes 4:18 “Daar is geen vrees in liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in liefde nie.”. Augustinus sê dat die vrees waarvan ons hier lees is ‘n slaafse, vreesaanjaende angs dat God ons jag sodat Hy Sy oordeel op ons kan laat val. Maar omdat ons verenig is met Christus en God ons daarom liefhet, ondervind die gelowige nie hierdie tipe vrees nie. As hierdie tipe vrees oor ons kom, sê Augustinus, is dit net reg dat ons predikant of medegelowige ons sal herinner aan die waarheid van die evangelie, en die belofte van hierdie vers wat sê dat God se volmaakte liefde hierdie vrees na buite dryf.
Die vrees wat die beginsel van wysheid is, is nie ‘slawe vrees’ nie. Dit is nie die tipe vrees wat die Woord die gelowige aanmoedig om te hê vir God nie. Ons hoef nie bang te wees vir God nie.
En tog is die
Bybel duidelik dat ons die Here moet vrees, so hoe moet ons Hom vrees?
2. Vaderlike vrees
Die vrees vir die Here by gelowiges word nie gedryf deur vrees vir oordeel en hel nie. Maar die gelowige begeer om God te eer deur te doen wat reg is in sy oë. Ons vrees God omdat ons Hom eer, ons vrees Hom omdat ons Hom wil behaag, ons vrees God omdat ons Hom liefhet en probeer om Hom eer te bring in alles wat ons doen.
a.Dit is eerbied vir God
Die gelowige
se vrees is eerbied vir God. Hebreërs 12:28-29 praat hiervan “Daarom,
omdat ons ‘n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees, en so God
welbehaaglik dien met eerbied en vrees. Want onse God is ‘n verterende
vuur.” Dis eerbied en ontsag wat
ons dryf om oor te gee aan die Skepper van die Heelal. Ek noem dit Vaderlike vrees want dis die
gesonde tipe vrees wat ‘n kind vir sy ouers behoort te hê, as hy ongehoorsaam
was aan sy ouers. Dis nie ‘n vrees wat
gedryf word deur angs dat hy gestraf gaan word nie, alhoewel dit wel ‘n rol
speel, maar ‘n vrees wat gedryf word deur die feit dat hy sy ouers teleurgestel
het. Dis ‘n vrees wat gedryf word deur
‘n ontvredenheid dat hy hulle liefde terugbetaal het deur ongehoorsaamheid.
b.Dit vereis ‘n begrip
van God se heiligheid
‘n Korrekte
vrees vir God kan slegs ontwikkel word as ons ‘n korrekte begrip het van wie Hy
is. Tensy ons die heiligheid van God
begryp kan ons Hom nie korrek vrees nie.
Deuteronomium 10:12, 20-21,
praat hiervan: “En nou, Israel, wat eis die HERE jou God van jou as net om die HERE
jou God te vrees, in al sy weë te wandel en Hom lief te hê en die HERE jou God
te dien met jou hele hart en met jou hele siel… Die HERE jou God moet jy vrees, Hom moet jy dien en Hom moet jy aanhang en
by sy Naam sweer. Hy is jou lof, en Hy is jou God wat hierdie groot en
vreeslike dinge wat jou oë gesien het, aan jou gedoen het.” In hierdie vers sien ons dat die vrees van God dit is wat ons dryf om
te wandel in Sy weë, wat ons dryf om Hom te dien en ons ook dryf om Hom lief te
hê.
Terwyl respek vir God ‘n deel uitmaak van hierdie vrees is ware vrees van God ook ‘n behoorlike begrip van hoeveel God sonde haat. Die gelowige wat in sonde val sal die dissipline van God smaak en daarom sluit vrees ook ‘n mate van dit in. Hebreërs 12:5-11 praat juis oor die tugtiging van die gelowige wat in sonde val. Daarom sê die skrywer “Ons het ons vaders na die vlees as kastyders gehad, en ons het vir hulle ontsag (vrees) gehad; moes ons nie veel meer aan die Vader van die geeste onderworpe wees en lewe nie?” (v9). Maar die tugtiging van die gelowige is nie ‘n verwerping deur God nie. Dis ook nie ‘n ewige straf soos in die geval van die ongelowige nie. Dis ‘n tydelike straf met die doel om ons te lei tot bekering. Dit sien ons in vers 11 “Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie ‘n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ‘n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is.”
So terwyl die vrees wat die gelowige vir die Here het, nie primêr gedryf word deur vrees nie, maar deur ontsag en eerbied vir God wat soek om God se wil te doen, bevat dit wel ‘n mate van vrees omdat die afwerp van sonde in sy lewe soms bewerk word deur tugtiging wat ons bang behoort te maak om op daardie weg voort te gaan. Maar dis nie ‘n vrees wat primêr gedryf word deur hierdie vrees nie, want die kind van God vrees nie dat God hom finaal of geheel en al sal verwerp en weggooi nie. Ons vrees word nie primêr gedryf deur angs vir straf nie, maar word gedryf deur ‘n teleurstelling dat ons God, wat sonde haat, onteer het en nie gedien het nie. Ons behoort sy dissiplinering te vrees, maar nie omdat ons vrees dat dit ons ongedaan sal maak nie, maar omdat ons weet dit wat ons gedoen het behaag Hom nie.
Gelowiges is nie bang vir God nie, ons het geen rede om vir Hom bang te wees nie. Ons het die belofte dat niks ons kan skei van die liefde van God nie (Romeine 8:38-39). Ons het ook die belofte dat Hy ons nooit sal begewe of verlaat nie (Hebreërs 13:5). Ons vrees stam vanuit ‘n heilige ontsag vir Hom wat op die manier waarop ons lewe beinvloed. Ons vrees lei tot gehoorsaamheid, tot onderdanigheid, tot aanbidding tot Hom. Dit lei ons tot ‘n God gesentreerde lewe waarin ons Sy wil soek in alles wat ons doen en in alle omstandighede waarin ons onsself mag bevind.
Inderdaad is die vrees van die Here die beginsel van wysheid, want een wat begryp wat ware vrees vir die Here is beleef nie ‘n slaafse vreesanjaende angstigheid waardeur ons bang is vir sy oordeel nie. Dis ‘n heilige ontsag en eerbied vir Sy heilige karakter wat sonde haat en geregtigheid liefhet. Dit dryf die gelowige nie om bang te wees vir God nie, maar om hom te bekeer van sonde en te soek na die weg wat God eer. So God verwag van die gelowige om Hom te vrees, maar nie met slawe vrees nie, maar vaderlike vrees, wat ons lei om Hom te behaag.
ds. Leon Harmse
Leraar van Sunwardpark Baptistekerk.
.jpg)