Search This Blog

Afrikaans (28) English (27)

25 October 2024

Wat het van die Tuin van Eden geword?

Wat het van die Tuin van Eden geword?

 


Baie mense het in ons dag vra oor presies waar die Tuin van Eden was en wat daarvan geword het.  Baie vra die vraag as ‘n aanval teen Christenskap, in ‘n pooging om Bybelse getuienis te bevraagteken.  As gelowiges is ons benadering egter anders.  Ons betwyfel nie die waarheid van die Skrif nie.  Ons glo dat die Bybel, as God se Woord, deur God self deur Sy Gees geinspireer is en daarom ‘n akkurate weergawe van die feite gee.

 

1. Die Tuin van Eden het werklik bestaan

Anders as talle mense in ons dag, glo ons in ‘n werklike ses dag skepping van alles wat bestaan soos dit beskryf word in Genesis 1-2.  Die Tuin van Eden is daarom deur God geskep as ‘n tuiste vir Adam en Eva (Gen. 2:8-15).  

Alles wat God geskep het was goed, dit sluit ook alles in die Tuin van Eden in (Gen. 1:1-31).  Boosheid en sonde het in die wêreld ingekom toe Adam en Eva, in opstand teen God se opdrag, geëet het van die vrug van die boom wat in die middel van die Tuin gestaan het (Gen. 3:1-7).  Daar was talle nagevolge vir hierdie daad van sonde, maar een van die nagevolge was dat die Here Adam en Eva uit die Tuin gesit het en die ingang van die Tuin gesluit het en ‘n engel daar geplaas het om dit te bewaar (Gen. 3:23-24).  Niemand sou ooit weer by hierdie Tuin kon ingaan nie. 

Volgens Genesis 2 het die Here die Tuin van Eden vir die mens geplant (v8), deur allerande bome daarin te plaas wat goed was vir kos (v9).  Daar het ‘n rivier uit die tuin voortgespruit wat in vier takke verdeel het (v10).  Die name van hierdie vier riviere word vir ons gegee (v11-14) as Pison, Gibon, Hiddekel (ook bekend as Tigris), en Frat (ook bekend as Efrat). 

Die Skrif leer ons dat die Tuin van Eden ‘n werklike plek was waarin twee werklike mense, Adam en Eva, gewoon het tot die sondeval. 

 

2. Die wêreldwye vloed het werklik gebeur

Die nageslagte van Adam en Eva het soos hulle gesondig, en die boosheid oor die wêreld het soveel toegeneem teen die dae van Noag dat God berou gehad het dat Hy die mens gemaak het (Gen. 6:5-6 &12-13). Daarom het God ‘n wêreldwye vloed gestuur om die hele mensdom, met die uitsondering van Noag en sy gesin, uit te wis (Gen. 6:17 & Gen. 7:6-9, 21-23).  

Hierdie vloed het elke lewende ding wat God gemaak het uitgewis reg oor die hele wêreld, behalwe Noag, sy gesin en die diere wat hy saam met hom in die Ark geneem het (Gen 7:4).  Dit getuig nie van ‘n gelokaliseerde vloed nie, maar van ‘n vloed wat reg oor die hele wêreld gekom het.  Die reën het veertig (40) letterlike dae lank op die aarde geval en dit geheel en al oordek (Gen. 7:12, 17-20), en dit het letterlik ‘n honderd en vyftig (150) dae geneem vir die water om weg te sak (Gen. 7:24). 

Bewyse vir hierdie wêreldwye vloed is gevind.  Daar is byvoorbeeld diep lae van sediment wat op plekke in die wêreld selfs so diep soos drie kilometer is, wat getuienis lewer van so ‘n vloed.  Meeste Wetenskaplikes in ons dag ontken egter die Skeppingsverhaal en die verhaal van die Wêreldwye Vloed en glo daarom dat hierdie lae ontwikkel het deur miljoene jare se dood en verwoesting.  Die gelowige sien in hierdie lae bevestiging van die Woord van God wat duisende jare voor enige wetenskaplike teorië ‘n verklaarbare antwoord gee vir hierdie lae.  Die Wêreldwye Vloed van Genesis 6-7 is waar.

 

3. Die Hedendaagse lokalisering van die riviere

In antieke Mesopotamië wat vandag bekend is as Irak, het twee riviere bestaan, wat steeds bestaan, wat bekend is as die Tigris en Efrat riviere. Dit is onwaarskynlik dat hierdie hedendaagse riviere dieselfde riviere is as die wat uit die Tuin van Eden gevloei het.  Behalwe dat die riviere Pison en Gibon nie gevind is nie, is daar ook geen vertakking tot vier riviere soos in die Bybel beskryf van hierdie riviere te vind nie.  Hierdie riviere het ook, volgens Bybelse beskrywing geloop na lande wat bekend was vir Goud, Balsemgom en Onikssteen (Gen. 2:12).  Lande naby hierdie riviere is egter eerder bekend vir Olie as dit wat die Bybel beskryf.  Die lande wat beskryf word in Genesis 2:13-14 is Kus (Etiopië) en Assur, wat die lokalisering van Eden in Irak onwaarskynlik maak. 

So vêr my kennis sterk is daar nog geen rivier of rivierverdeling gevind wat aan die Bybelse beskrywing van die rivier wat uit Eden gespruit het beskryf nie.  Dit beteken egter nie dat die Bybelse beskrywing verkeerd is nie, want die Bybel self verduidelik vir ons waarom die riviere soos beskryf is in Genesis 2 nie gevind kan word nie. 

Genesis 6 en 7 beskryf ‘n wêreldwye gebeurtenis wat so ‘n astronomies effek op die tipografie van die wêreld sou gehad het dat niks ooit meer dieselfde sou wees nie, die Wêreldwye Vloed.  Dis onrealisties om te dink dat na so ‘n katastrofiese gebeurtenis enige iets op die aarde sou lyk soos dit voorheen gelyk het.  Riviere sou nie meer loop waar hulle geloop het nie; eens weelderige bosse en woude sou totaal vernietig wees: Niks sou meer dieselfde gewees het nie.  

Maar daar is nog ‘n rede waarom enige plekke en goed soos riviere nie na die Vloed gevind kan word nie.  Die Vloed sou die hele aarde met sedimentere lae bedek het.  Hierdie lae word vandag deur meeste Wetenskaplikes verklaar as die gevolg van miljoene jare se dood en verwoesting, maar dit het ontstaan asgevolg van die Wêreldwye Vloed.  Dit word gereken dat hierdie sedimentëre lae op plekke selfs dieper as drie kilometer mag wees. 

Die sedimentêre lae sou bo op die riviere en ook die Tuin van Eden lê wat daaronder begrawe is.  Geen tipografiese beskrywings van gebiede voor die Vloed sou vergelyk met hulle beskrywing na die Vloed nie.  Die riviere en Tuin soos beskryf in Genesis 2 lê begrawe onder duisende meters van sediment en hou daarom geen verwantskap met die riviere wat vandag bekend is as Tigris en Efrat nie.  Dit sou verkeerd wees om die twee riviere in hedendaagse Irak te vergelyk met die in die Tuin van Eden. 

Dit mag dalk by jou die vraag laat oor waarom die hedendaagse riviere in Irak die name Tigris en Efrat gegee is.  Die mees logiese antwoord hierop is dat Noag of sy nageslag, na die Vloed hierdie riviere vernoem het na daardie bekende riviere waarvan ons in Genesis 2 lees.  So vind ons steeds vandag dat plekname van bekende plekke aan ander plekke gegee word wat in geen opsig enige ooreenstemming met die oorspronklike plek het nie.  ‘n Voorbeeld hiervan is die dorp Betlehem in die Vrystaat (in Suid Afrika) wat vernoem is na die geboorte dorp van onse Here Jesus, maar behalwe vir die naam is daar geen ooreenkoms tussen hierdie twee plekke nie.  Net so het Noag, of sy nageslag, hierdie riviere gesien en ter nagedagtenis aan die riviere in die Tuin van Eden hierdie name aan twee riviere in Mesopotamië toegedig. 

 

4. Die posisie van die Tuin van Eden

Die Here het die Tuin van Eden gesluit en ‘n engel voor die ingang daarvan geplaas met die doel dat niemand weer hierdie tuin sou kon binnegaan nie.  Later het die Here ‘n wereldwye vloed gestuur wat nie net hierdie Tuin nie, maar die hele wêreld totaal verwoes het en begrawe het onder sidimentêre lae.  

Enige pooging om die Tuin van Eden te lokaliseer of selfs te bepaal in watter landstreek dit sou wees is daarom geheel en al onmoontlik en sou niks anders as spekulasie wees nie.  Terwyl dit ‘n baie interesante studie mag wees om die presiese plasing van hierdie Tuin te vind, is dit nie vir ons moontlik om met enige akkuraatheid ‘n antwoord daarvoor te gee nie.  

Ons onvermoë om die posisie van die Tuin van Eden te bepaal verander egter niks aan die werklikheid daarvan nie.  Die Tuin van Eden, met sy vier uitspruitende riviere soos in die Bybel beskryf het werklik bestaan en die Bybelse beskrywing daarvan is absoluut akkuraat.  Die Bybel beskryf ook die rede waarom die Tuin nie binnegegaan mag word of selfs gevind kan word nie.  

As gelowiges glo ons dat die Bybel God se Woord is wat die verhaal van werklike mense en werklike gebeure in werklik plekke beskryf.  Dit is ook waar vir die Tuin van Eden.  Die Bybel self gee genoegsame verduideliking waarom hierdie Tuin nie in ons dag gevind kan word nie, en daarin behoort ons te berus sonder enige twyfel of bekommernis.  

 

Die Tuin van Eden was niks meer as ‘n voorskadu van die uiteindelik toekomstige Paradys waarheen almal wat in die Here Jesus Christus glo sal gaan nie.  Daar is geen rede vir ons om terug te kyk of te soek na die Tuin van Eden nie, want daar wag ‘n beter en meer heerlike ewige Tuin vir ons.  Daar sal die verhouding tussen elke gelowige en God geheel en al herstel word.  Dit wat Adam en Eva in die Tuin van Eden vernietig het, sal volkome herstel word in ons ewige rus saam met God (Heb. 4:4-7).  Die gelowige mag miskien nostalgies terugdink aan die Tuin van Eden, maar net as hy dit doen met die vooruitstig na veel beter ewige rus saam met God.

 

ds. Leon Harmse

Leraar van Sunward Park Baptiste Kerk