Search This Blog

Afrikaans (28) English (27)

11 October 2024

Wat is die Christelike reaksie op Rasisme?

 

Wat is die Christelike reaksie op Rasisme?

Ek dink daar is baie min twyfel daaroor dat rasisme verkeerd is en meeste gelowiges sal hiermee saamstem.  In Suid Afrika is hierdie ‘n baie belangrike saak.  Aangesien daar in ons land ‘n ongemaklike geskiedenis van rasisme bestaan het, en omdat daar steeds, sonder twyfel, aanduidings is dat dit steeds bestaan.  Rasisme is natuurlik nie net ‘n ‘Suid Afrika’ probleem nie, dis ‘n sosiale kwessie wat reg oor die wêreld sigbaar is.

Die vraag is, hoe moet die gelowige hierop reageer? Wat is ‘n Bybelse en Christelike reaksie op die sonde van rasisme?  Meeste gelowiges se reaksie volg die patroon van die hedendaagse media.  Daarin kritiseer hulle rasisme asgevolg daarvan dat dit diskrimineer en ongelykheid bevorder.  Maar die gelowige het nodig om sy begrip en verwerping van rasimse op Bybelse en Christelike beginsels te grond.

Dit is daarom nodig dat ons begin om Bybels oor die saak te dink en vanuit ‘n Bybelse fondasie ‘n Christelike etiek hieroor saam te stel.

 

1. Wat die Bybel oor rasisme sê

a.Net een ras, nie baie nie

In werklikheid bestaan daar nie baie verskillende rasse nie, maar slegs een ras: die menslike ras!  Kaukasiëers, Afrikane, Asiërs, Indiërs, Arabiere en Jode is nie verskillende rasse nie, maar eerder verskillende etniese groepe van dieselfde ras (Handelinge 17:26).  Alle mense, met klein verskille, het dieselfde fisiese karakterseienskappe.  Alle mense is ook gelyk deur God geskape, na Sy beeld (Genesis 1:26-27).  Om daarom neer te sien op iemand wat in klein onbelangrike maniere van jou verskil is om die beeld van God in hulle te verag.  Dis nie ‘n aanval op die persoon nie, dis ‘n aanval op God in wie se beeld daardie persoon gemaak is.  Ons kan nie ons siening van ‘n persoon baseer op die kleur van sy vel of enige ander onbeduidende verskil nie.  Ons moet alle mense sien vir wie hulle werklik is: Een wat gemaak is in die beeld van God en ‘n afstammeling van dieselfde mens, Adam. 

As afstammelinge van Adam is elke mens natuurlik in sonde ontvang en gebore (Romeine 3:10-20; 5:12-21).  Die gevolg is dat mense van nature geneig is tot sonde.  Dit was juis sondige gedagtes oor ras wat die vervloeking van Babel (Genesis 11:7-9) tot gevolg gehad het.  Die gebeure by die toring van Babel is nie die oorsprong van verskillende rasse nie, dit was die ontstaan van rasisme, wat die mens se sondige reaksie op onbeduidende verskille tussen mense is.

Die Skrif toon egter aan ons dat God geen partydigeheid of bevoordeling het nie.  In Deutreonomium 10:17 lees ons: “Want die HERE julle God is die God van die gode en die HERE van die here; die grote, magtige en gedugte God wat die persoon nie aansien en geen geskenk aanneem nie.”  Net so lees ons in Romeine 2:11 “Want daar is geen aanneming van die persoon by God nie.” 

b.Die gelowige se verantwoordelikheid

Van die gelowige verwag die Here ook dat ons geen onderskeid tussen mense moet tref opgrond van sulke onbenullige dinge nie.  Jakobus 2:4 waarsku ons om met ‘verkeerde oorlegginge’ te onderskei en oordeel te vel, en in vers 8 van dieselfde teks beveel hy ons ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself – dan doen jy goed.’  Die verwagting is dat ons alle mense moet liefhê ongeag die kleur van hulle vel of die plek van hulle herkoms. 

Verder is ons verantwoordelikheid om sonder onderskeid die evangelie aan alle mense te verkondig.  Die Groot opdrag sonder geen spesifieke bevolkingsgroep of nasie uit nie. Mattheus 28:20 “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”  Daar is geen groepering van mense wat hierby uitgesluit is nie.  Alle mense uit alle bevolkingsgroepe is sondaars en almal van hulle het die evangelie nodig.  Dit sluit die bevolkingsgroep waarvan jy deel is net soveel in as enige ander bevolkingsgroep.  Geen ‘ras’ is uitgesluit by die universele vloek waardeur alle mense in sonde ontvang en gebore is nie, en daarom het hulle almal nodig om hulle te bekeer van hulle sonde, sonder uitsondering. 

Om mense partydig te hanteer opgrond van iets so onbenullig soos velkleur is sonde (Jakobus 2:1).  Die opdrag van onse Here Jesus is dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself (Mattheus 22:39).  Instede daarvan om rede te soek om onderskeid tussen jou en ander te vind, wees lief vir hulle en deel met hulle die evangelie, sodat julle verenig kan word in Christus. 

c. Alle Gelowiges is verenig in Christus

Jesus Christus het juis gekom om al die skeidingsmure wat mense uit sonde onder mekaar opgerig het af te breek.  In die kerk kan rasisme nie meer voortleef nie (Efesiërs 2:14).  Rasisme, voorveroordeling en diskriminasie in die geloofsgemeenskap is ‘n belediging van Christus se werk aan die kruis.  Alle gelowiges is verenig in Christus, soos Galasiërs 3:8 ons leer “En die Skrif wat vooruit gesien het dat God die heidene uit die geloof sou regverdig, het vooraf aan Abraham die evangelie verkondig met die woorde: In jou sal al die volke geseën word.”   So sien ons dat die vervloeking van Babel (Genesis 11:7-9) wat mense verwar en verdeel het, in die kerk op Pinksterdag tot nietgemaak is deur ons in Christus te verenig (Handelinge 2:5-11).  Dit maak geen verskil of die gelowige ‘n man of vrou, Amerikaner of Rus, swart of wit, Afrikaans of Zulu praat nie, as hulle in die Here Jesus Christus glo is ons verenig met hulle deur geloof wat groter is as enige onderskeid is wat ons kan tref. 

Reeds in die eerste eeu het die kerk van Christus bestaan uit Jode, Grieke, besnydes, onbesnydes, wyses en onverstandiges, slawe en vrymans, maar almal van hulle is verenig in een liggaam in Christus, sodat daar geen onderskeid meer was nie (Kolossense 3:11) 

In sy eerste brief sê Johannes dat dit moord is om jou broer te haat (1 Johannes 3:15).  Terwyl dit nie noodwendig fisiese moord is nie, is jou onwilligheid om hulle te aanvaar of te verwelkom ‘n vorm van ‘moord van die hart’. 

In die hemel sal daar geen rasisme wees nie (Open. 5:9-10; 7:9-12; 22:1-5).  As erfgename van die ewig rus moet ons nou reeds streef om dieselfde gesindheid hier op aarde te hê as wat ons vir ewig in heerlikheid sal hê.  Om antagonisties teenoor mense te wees opgrond van taal, kleur, of etniese agtergrond is om in teenstryd te wees met God se ewige plan en ontwerp.  

Die gelowige moet daarom enige vorme van rasisme in die kerk, en in sy eie hart beveg as deel van sy verantwoordelikheid om alle sonde af te sterf en in sy strewe om God se wil te soek en te bewerk.

 

2. ‘n Christelike etiek 

Ian von Memerty het homself eenmaal as ‘n ‘herstellende (recovering) rasis’ beskryf. Hy het gesê dat hy nou al reeds 30 jaar relatief skoon is, maar soms weer val.  Dan moet hy berou toon en homself herinner dat alle mense in die beeld van God gemaak is en daarom waardevol is.  Ek dink daar is groot waarheid in sy beskrywing.  Rasisme is sonde, en alle mense, insluitend gelowiges, is sondaars en ons moet daarom deurlopend daarteen waak om in hierdie sonde te val. 

a.Rasisme is verkeerd:

-    Rasisme is sonde

Om mense te defineer opgrond van iets so oppervlakkig soos biologiese karaktereienskape is teenstrydig met die Christelike geloof.  Ons moet eerder besorg wees oor mense se geestelike toestand as hulle biologiese kenmerke.  Elke mens is ‘n beelddraer van God en daarom moet ons besef dat alle mense waardig is.  Rasisme is nie net teenstrydig met Christenskap nie, maar dis onmenslik.

Verder vernietig rasisme gemeenskappe omdat sommige persone opgrond van onbelangrike verskille verag en verneder word deur ander.  Daar is geen tekort aan voorbeelde in ons eie land se geskiedenis hiervan nie.  Nie net versoorsaak rasisme sondige politiese sienings nie, maar dit veroorsaak ongelykheid van regte en daardeur benadeel dit een groep ten koste van ‘n ander sodat dit persone op verskeie maniere benadeel soos opvoeding en inkomste.

-    Rasisme is liefdeloosheid

Omdat rasisme onderskeid maak op onrealistiese gronde word byvoorbeeld neergesien op huwelike tussen persone uit verskillende etniese agtergronde.  Verder veroorsaak dit onnodig ongemak en ontevredeheid oor ‘n buurman wat uit ‘n ander bevolkingsgroep as jy kom.  Daar is talle ander voorbeelde waarin rasisme mense bevooroordeeld maak en veroorsaak dat mense selfs veroordeel op ontoepaslike gronde. Om jou naaste lief te hê, soos die Woord van God van ons vra wys aan ons dat rasisme liefdeloos is.

b.Christenskap vereis liefde

-    Liefde vir alle mense. Ons kan nie onderskeid getref opgrond van ‘n persoon se etnisiteit nie.  Die Here vereis van ons om ons naaste lief te hê.  Ons naaste is alle mense met wie ons in aanraking kom, ongeag wie hulle is.  Dis uit liefde en besorgheid oor hulle siele dat ons die evangelie met hulle deel, ongeag wie hulle is of wat hulle herkoms is.  Daar is nie ‘n ander evangelie vir een bevolkingsgroep as vir ‘n ander nie. Daar is ook nie een bevolkingsgroep wat opgrond van wie hulle is, die evangelie minder of meer nodig het nie.  Alle mense is van nature in sonde ontvang en gebore en het daarom nodig om tot geloof te kom.

-    Rasisme in die kerk is totaal teenstrydig met die boodskap van die evangelie wat alle onderskeid oorbrug.  Die kerk is saamgestel uit elke stam, nasie, volk en taal en almal wat tot geloof in Christus gekom het is verenig tot een liggaam.  Terwyl die taal waarin die evangelie oorgelewer word soms noodwendig ‘n sekere groepering van mense by mekaar sal bring moet dit nooit die rede word waarom ‘n sekere taal gekies word nie.  Dieselfde Gees wat in die gelowige Afrikaaner woon, woon ook in die gelowige Xhosa en Shinees.

c. Christenskap verwag andersheid

Die Woord verwag van ons om ‘sout en lig’ te wees om sodoende verandering in die gemeenskap te weeg te bring.  Ons benadering, houding en gesindheid teenoor persone van ander bevolkingsgroepe behoort anders te wees as mense in ons gemeenskap wat sondig optree. 

-    Jou behandeling van jou werknemer (tuinier en huishulp ingesluit) behoort jou Christelikheid te reflekteer.  Jy behoort besorg te wees oor hulle familie, hulle gesondheid, hulle finansiele toestand.  Jy behoort ook met hulle die evangelie te deel.

-    Jou stem op verkiesingsdag behoort eerder jou Christenskap as jou ras te reflekteer.  In Mattheus 5 leer die Here ons hoe ons in die wêreld moet optree en hoe ons ‘n verskil moet maak in die wêreld.  Dit vereis dat ons stem nie gebaseer moet word op etniese verskille nie, maar geestelike verskille.  Ons invloed in die gemeenskap word gedryf deur ons Christelike etiek eerder as ons fisiese etnisiteit.

-    Jou hantering van vreemdelinge behoort nie beinvloed te word deur die kleur van sy vel nie.  Kriminele en slegte persone word in elke bevolkingsgroep gevind.  Terwyl ons nodig het om versigtig te wees vir vreemdelinge beteken dit nie ons mag onvriendelik wees of alle persone uit ‘n spesifieke bevolkingsgroep onder dieselfde kam mag skeer nie. 

Die vraag is dat ons navolgers van die Here Jesus moet wees.  Hy het sy lewe gegee vir mense uit elke stam, volk, nasie en taal.  Hy verwag van ons om die evangelie na alle mense moet uitdra.  Terwyl die gelowige ongelowiges anders moet benader as mede gelowiges is die verwagting in albei gevalle dat ons in liefde sal optree.  Jou liefde vir Christus vereis dat jy alle mense, wat in die beeld van God gemaak is, sonder vooroordeel of diskriminasie sal hanteer.  

Dis belangrik om deurentyd bewus te wees van ons natuurlike geneigdheid tot sonde en begeerte om te diskrimineer teen persone wat anders as ons is.  Deel van die geveg teen rasisme is om te erken dat jy 'n jou sondige natuur nie net hiertoe instaat is nie, maar hiertoe geneig, en miskien selfs skuldig was of is.  As gelowiges ontken ons nie ons sondigheid nie, ons bely dit, weerstaan dit en streef na oorwinning van dit.

 

3. Rasisme teen my

Natuurlik moet ons nie in daardie strik val waarin ons dink dat rasisme altyd net in een rigting plaasvind nie.  Alle mense is afstammelinge van Adam en daarom instaat en geneig tot sonde wat ook rasisme insluit.  Maar hoe behoort ek as ‘n gelowige op te tree wanneer ander rasisties teenoor my optree, of as rasisme enige vorm van diskriminasie teen my veroorsaak? 

a.      Volg die voorbeeld van Christus

In 1 Korintiërs 11:1 vra die Apostel Paulus van ons “Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is.” In Efesiërs 5:1-2 vereis hy dat ons navolgers van God moet wees wat in liefde wandel, soos Christus se liefde vir ons.  Die Here Jesus het nie Sy mond geopen in protes toe hulle Hom onregverdig beskuldig, geslaan en gekruisig het nie (Jes. 53:7).  Maar soos ‘n Lam het Hy hierdie aanvalle teen Hom verdra en selfs gebid vir die vergifnis van hulle wat Hom so aangeval het (Lukas 23:34).  Die Here verwag ook soortgelyke optrede van ons (1 Petrus 4:13).

b.      Wees lief vir jou vyande

In Lukas 6:27-29 lê die beginsel neer van hoe die gelowige moet optree teenoor enige iemand wat hom wil te na kom.  “Maar Ek sê vir julle wat luister: Julle moet jul vyande liefhê en goed doen aan die wat vir julle haat.  Seën die wat julle vervloek, en bid vir die wat julle beledig.  Aan hom wat jou op die wang slaan, moet jy ook die ander een aanbied; en aan hom wat jou bo-kleed neem, moet jy ook die onderkleed nie weier nie.” 

Die beginsel wat hieruit geleer moet word is dat ons nie ander moet hanteer opgrond van die manier waarop hulle ons hanteer nie.  Instede daarvan om terug aan te val of terug seer te maak, of selfs kwaad te word, leer die Here ons om in liefde teenoor hulle op te tree wat ons sleg hanteer.  Die wraak vir sonde kom ons nie toe nie, maar die Here toe.

c.       Vermaan die sondaar in ‘n gees van sagmoedigheid

In Galasiërs 6:1 word ons geleer om hulle wat deur sonde oorval word in ‘n gees van sagmoedigheid reg te help en terselfdetyd daarteen te waak om nie self in die versoeking te verval nie.  Terwyl hierdie teks heel moontlik net toepaslik is tussen gelowiges, is daar wel ander tekste wat toon dat dit ons benadering teenoor enige persoon moet wees wat sondig, want Jakobus 5:20‘dat die een wat ‘n sondaar van sy dwaalweg bekeer, ‘n siel uit die dood sal red en ‘n menigte sondes sal bedek.’  ‘n Sagmoedige woord sal eerder lei tot iemand se bekering as ‘n harde woord.

 

Ek besef dat rasisme baie skade aangerig het in verhoudings tussen mense in ons land en dat dit steeds voortgaan om skade aan te rig.  Terwyl die mense van hierdie wêreld en wêreldse instansies hulle planne maak om hierdie ongeregtighede reg te stel op hulle eie maniere, word daar van die gelowige verwag om dit op ‘n Bybelse manier reg te stel.  Dit vra dat ons die voorbeeld van Christus moet navolg deur die sonde te weerstaan en af te stref.  Dit vra dat ons die ongeregtigheid waaraan ons skuldig was sal erken, belei en vergifnis voor vra.  Dit vra dat ons voordurend sal waak teen ons eie natuur en reaksies wat geneig is tot sonde.  Dit vra dat ons alle mense sal sien as ewewaardige beeldraers van God.  Dit vra dat ons alle mense in liefde sal hanteer en ‘n ernstige besorgheid oor hulle siel sal hê.  Dit vra dat ons alle selfsugtige en selfverheerlikende gedagtes waarin ons poog om onsself of ons bevolkingsgroep te verhef bo enige ander sal afsterf.  Dit vra dat ons verdraagsaam sal wees teenoor alle mense wat sondaars is, net soos ons.  Dit vra dat ons in liefde sal optree teenoor hulle wat haatlik en veragtelik teenoor ons optree. 

Uiteindelik is die rede waarom die gelowige Rasisme moet weerstaan bo alle ander redes, omdat dit oneer aan God bring, wat self, uit Sy genade, elke mens na sy eie beeld gemaak het.  Dis om weer terug te val in die sonde van Babel wat genadiglik op Pinksterdag onder gelowiges herstel is.  As navolgers van Christus, moet ons die liefde betoon wat Hy betoon het toe Hy Sy lewe gegee het vir mense uit elke volk, stam, nasie en taal.

 

ds. Leon Harmse

Leraar van Sunwardpark Baptistekerk