Search This Blog

Afrikaans (28) English (27)

16 March 2025

The gelowige se benadering tot Transgenderisme

The gelowige se benadering tot Transgenderisme

 

Transgenderisme is in die laaste paar jare aan die toeneem reg oor die wêreld en dit het ook, baie spoedig, sy weg na ons hier in Suid Afrika gemaak.  Dit het veral onder die jonger geslag posgevat, maar dit word selfs by ouers persone gesien.  

Wat is Transgenderisme? Volgens Wikipedia is “’n Transgender persoon (dikwels verkort tot transpersoon) is iemand wie se geslagsidentiteit verskil van dié wat tipies geassosieer word met die geslag wat hulle by geboorte toegewys is.”  Dit beteken dat dit verwys na iemand wat of biologies ‘n man is en homself as ‘n vrou sien, of ‘n biologiese vrou wat haarself as ‘n man sien.  Hierdie vorm van disforie word gewoonlik eerste gesien wanneer ‘n persoon klere van die teenoorgestelde geslag wil dra en die tipiese voorkoms van iemand van die teenoorgestelde geslag wil skep.  Hierdie geslagsdisforie kan self so ver vorder dat iemand mag aandring om publieke toilet en kleedkamer geriewe van persone van die teenoorgestelde geslag te gebruik.  Onlangs, tydens die Olimpiese spele was daar ook groot opslae gemaak oor ‘n biologiese man wat teen vrouens meëgeding het in sport. Sommige, alhoewel nie alle, transgender persone gaan so ver soos hormoon behandeling en ander gaan selfs so ver om mediese prosedures te ondergaan om primêre en/of sekondere geslagsorgane van hulle begeerde geslag te hê.  

In kort, Transgenderisme verwys na alle gevalle waarin ‘n persoon op een of ander manier identifiseer of wil identifiseer as ‘n persoon van die teenoorgestelde biologiese geslag.

Die populariteit van hierdie beweging is skerp aan die toeneem en daarom is dit baie moontlik dat sommige van ons met hierdie sake in aanraking kom.  Dit is daarom nodig om ‘n Bybelse opinie oor hierdie sake te formuleer en om verder te wees hoe ons teenoor so ‘n person moet optree.  

Daar is nie ‘n direkte Bybelse uitspraak soos ‘’n Man mag nie na ‘n vrou transisieer nie’ wat hierdie meestal 21ste eeuse probleem aanspreek nie. Dit beteken egter nie dat ons nie duidelike Bybelse riglyne oor hierdie saak kan formuleer of dat die Bybel geen uitspraak oor geslag en seksuele identiteit te sê het nie.  Die Bybel is baie behulpsaam om die gelowige te lei en te rig ook in hierdie saak.

Terwyl die gelowige moet poog om geduldig en liefdevol op te tree, kan ons nie goedkeuring gee vir iets wat teenstrydig is met die leer van die Skrif en daarom teen die wil van God is nie.  Die Skrif is en behoort die gelowiges se primêre en finale gesag te wees, nie net in sake van geloof nie, maar ook van lewe.  Soos ons Here Jesus verklaar ons dat “…die Skrif nie gebreek kan word nie.” (Johannes 10:35).  Daarom is dit nodig vir ons om ‘n Bybelse antwoord te formuleer oor die vraag van Transgenderisme.


1.    Bybelse beginsels 

Om ‘n Bybelse beginsel oor sake van geslag te vorm het ons nodig om daar te begin waar man en vrou geskape is.  Dit is God wat man en vrou ‘na sy beeld’ geskape het en na afloop van hulle skepping gesê het dat dit ‘baie goed’ is. Ongeag jou gevoel of verwardheid oor geslag, is die verwagting dat jy in ooreenstemming met jou biologiese geslag moet optree volgens God se goeie ontwerp.  Maar dit is nodig om duidelikheid te kry oor sekere beginsels:

a.  Twee geslagte

i. Geskape as man en vrou

Die Bybel erken slegs twee geslagte, naamlik ‘manlik’ en ‘vroulik’.  Die geslagidentifikasie van ‘n persoon word ook duidelik Bybels direk gekoppel die persoon se biologiese geslag.  Genesis 1&2 maak dit duidelik dat manlikheid en vroulikheid deel is van God se ontwerp, nie net vir die mensdom nie, maar ook die diereryk.  Dit is God wat die eerste paartjie geskep het as man en vrou (Gen. 1:27) om mekaar te komplimenteer en saam te funksioneer in hulle \onderskeidenheid (Gen. 2:18-22).

Dis belangrik dat ons sodoende sal sien dat die gedagte van twee biologiese geslagte nie 'n kultuur konstruk is nie, maar God se ontwerp.  Verder is dit belangrik om te sien dat hierdie twee biologiese geslagte noodsaaklik is vir die voortbestaan van die mensdom. Daarom is dit, volgens God se ontwerp, dat die twee geslagte nie-identies en onwisselbaar is.  Die Skrif leer ons dat die vrou uit die man geneem is en dat man en vrou verenig word in seksuele gemeenskap sodat die twee een vlees word (Gen. 1:23-24).

Twee geslagte, naamlik manlik en vroulik, is God se ontwerp wat elke mens skep in die biologiese geslag wat hy is om sodoende die voortbetaan van die mensdom te verseker.  Die twee geslagte is daarom nie ‘n saak van menslike opinie nie, en vir gelowiges is dit ook nie ‘n saak wat onderhandelbaar is nie.  Om die twee biologiese geslagte te ontken of ruimte te laat dat iemand se geslag teenstrydig is met sy biologiese seks is nie is om God se ontwerp te bevraagteken wat die Skepper is van elke mens.

ii. Interseks persone

‘n Argument wat baie keer gebruik word deur persone wat transgenderisme probeer regverdig is om ‘n afwyking van Interseks persone te gebruik.  Terwyl daar inderdaad so ‘n afwyking bestaan waarin ‘n persoon of gedeelteliks of geheel en al met die geslagsdele van beide mans en vroues gebore word, is hierdie afwykings baie seldsaam.  So ‘n Interseks persoon toon ook sterker eienskappe van een van die twee geslagte.  Dit is so dat die sondeval gelei het tot talle afwykings, waaronder hierdie een is.  Hierdie wys op die ‘sugting’ van die skepping na die volmaakte herstel by die Nuwe Skepping.  Maar hierdie seldsame afwyking is beswaarlik ‘n regverdiging vir die Transgender beweging van ons dag aangesien dit nog altyd baie seldsaam gebeur.

iii.    Geslagtelose persone

‘n Ander Bybelse regverdiging vir Transgenderisme word ook gesoek in Jesus  se verwysing in Mattheus 19:12 na ‘eunugs’ (ontmandes).  Die argument word deur ondersteuners van hierdie siening gevoer dat hierdie persone geslagtelose persone is.  Dit is egter nie die geval nie.  Dit verwys hier na ‘n man wat, of nie die vermoë het om voort te plant nie, of wat andersins  gekastreer is om hulleself beskikbaar te stel vir werk in die koninklike hof of ander redes.  Dit verwys verseker nie na persone wat nie biologies mans is of hulleself as mans identifieseer nie. Weereens verwys dit hier na ‘n baie klein uitsonderlike groep persone wat weereens nie hulle biologiese geslag bevraagteken het nie.


2.    Biologiese seks en geslag

In ‘n pooging om Trangenderisme te regverdig word daar deur voorstanders onderskeid getref tussen ‘n persoon se biologiese seks en ‘n persoon se geslag.  In sommige gevalle omhels sulkes selfs God se ontwerp van man en vrou terwyl hulle nie die toegekende geslag van geboorte aanvaar nie.  

Terwyl hulle die biologiese seks van manlik en vroulik aanvaar, kies hulle om inteenstelling daarmee te identifiseer as ‘n persoon van die teenoorgestelde geslag.  Dit doen hulle in ‘n pooging om ‘eerlik aan hulleself’ te wees en sodoende te assosieer met die geslag waarmee hulle identifiseer al is dit teenstrydig met hulle biologiese seks. 

So ‘n benadering is teenstrydig met God se Woord.  Dit wys op ‘n konflik tussen God se ontwerp en ‘n persoon se persoonlike emosionele (of selfs geestelike) toestand.  Maar ‘n persoon se gevoelens, emosionele of geestelike toestand kan nie gebruik word om te bepaal wat waar of vals is nie.  Die gelowige het die verantwoordelikheid om aan homself te sterf deur sy gedagtes te vernuwe (Rom. 12:2) en sodoende alle persoonlike gevoelens, emosies of geestestoestande teen te staan. Die gelowige kan nie meer leef soos voorheen nie (Ef. 4:17-18). Ons kan nie meer voorleef met ‘n verduisterde verstand wat vervreemd is van die lewe van God nie.  Indien jy nodig het om God se wil te verwerp sodat jy ‘trou aan jouself’ kan wees, is jy besig met sonde en tree jy teenstrydig met God se Woord op.

Die Bybel getuig van ‘n organiese eenheid tussen biologiese seks en geslagsidentiteit op verskeie maniere: 

i.    Man en vrou in hulle uniekheid is nodig om voort te plant (Gen. 1:28; 2:20) en die voortbestaan van die mensdom te verseker

ii.    Homosekualiteit, waarin ‘n man by ‘n man lê soos ‘n vrou by ‘n man is sonde (Lev. 18:22) en onnatuurlik (Rom. 1:26-27)

Die Bybel beskou biologiese seks en geslag as identies en daar is geen Bybelse regverdiging om onderskeid tussen die twee te tref om sodoende jou geslagidentiteit as anders as jou biologiese seks te beskou nie.  God se ontwerp is dat ‘n biologiese man se geslag is manlik en ‘n biologiese vrou se geslag is vroulik.

 

3. Geslagsverwardheid

Om verward te wees oor jou jou geslag is nie maar net ‘n saak van onsekerheid nie, maar dit is teen God se wil.  Die Bybel is duidelik dat dit sonde is.

i.    Dis verkeerd vir ‘n man om seksueel soos ‘n vrou op te tree (Lev. 18:22; Rom. 1:18-32; 1 Cor. 6:9-10)

ii.    Dit is verkeerd vir ‘n man om soos ‘n vrou aan te trek (Deut. 22:5)

iii.   Dit is ‘n oneer vir ‘n man om sy identiteit as die van ‘n persoon van die teenoorgestelde geslag uit te druk (1 Kor. 11:14-15)

Enige pooging op hierdie gedrag te regverdig is teenstrydig met die leer van die Woord van God en daarom teen God se wil.  As gelowiges behoort ons nooit enige iets te probeer regverdig of goedkeur wat teenstrydig met God se wil is nie.  Daarom behoort ons nooit transgenderisme goed te keur nie.

 

4. Bybelse Benadering

Die kwessie van Transgenderisme is nie ‘n saak wat net tussen jou en ‘n individu bestaan nie, maar dit is ‘n golf wat op die oomblik die hele wêreld storm geloop het.  Dit is daarom nodig dat ons moet besin oor hoe ons teenoor die beweging moet reageer so wel as hoe ons teenoor ‘n individu moet reageer en die twee is nie in elke opsig presies dieselfde nie.

a.    Die benadering teenoor die beweging

Die Transgender beweging bevraagteken God se ontwerp vir menslike seksualiteit en daarom behoort gelowiges ‘n profetiese standpunt hieroor in te neem.  Twee redes behoort ons aan te moedig om die transgender beweging teen te staan:

i.    Ons moet dit wat goed is bevorder

Die gelowige moet onbeskaamd opstaan vir die leer en beginsels van ons geloof en kan daarom nie goedkeuring of aanvaarding vir transgenderimse bied nie.  Ons begeerte is om God te verheerlik deur Sy wil te soek en te bevorder.  Transgenderisme is nie tot voordeel van die individu of die weier gemeenskap nie, maar is eerder vernietigend en sondig.  Om hierdie dinge te aanvaar of goed te keer moedig dit en ander sondige gedrag net meer aan.

ii.    Godsdiensvryheid is belangrik

Om saam te gaan met iets wat teenstrydig met die wil van God is omdat dit die opinie van die meerderheid is of omdat dit konflik of vervolging kan veroorsaak is nie tot eer van God nie.  As ons konformeer met wêreldse beginsels ten koste van ons Christelike beginsels gee ons toe aan die konstante druk van die wêreld om dit waarvoor ons staan te versaak.  Sodoende, deur goedkeuring of aanvaarding te gee, ontneem ons onsself van die reg tot Godsdiensvryheid. 

b.    Die benadering teenoor die individu

Praat die waarheid in liefde.  Dis waartoe ons geroep word.  Ons word nie geroep om dit wat God verkeerd noem reg te noem of in enige mate goedkeuring of aanvaarding daarvoor te gee nie.  Tog behoort ons nie liefdeloos op te tree en veragtend te wees nie.  Jou benadering tot so persoon sal ook deels afhang van jou kennis en verhouding tot die persoon.  Ons moet daarteen waak om aan te neem dat ‘n persoon transgender is sonder dat ons seker is, maar as die persoon dit erken, of die persoon is aan ons bekend behoort die volgende ons benadering te wees:

i.    Transgender persoon in die kerk

- Die kerk is vir gelowiges, nie ongelowiges nie

Sommige sal sê ons behoort sulke persone te verwelkom aangesien Christus juis gesterf het vir sondaars.  Dit is so dat Christus vir sondaars gesterf het, maar Hy het vir hulle gesterf sodat hulle hul sonde sal belei en daarvan sal bekeer.  Christus het nie gekom sodat ons in ons sonde kan voortleef nie, maar ons daarvan kan bekeer.  Ons moet onthou dat die kerk is die samekoms van die gelowiges, nie die ongelowiges nie.  Terwyl ongelowiges, insluitende Transgender persone, wel met tye kerk toe kom, bestaan die kerk vir die gelowiges, nie ongelowiges nie.  Net soos die alkoholis, egbreker of godslasteraar nie sy sonde kan praktiseer in die kerk nie, so kan die transgender persoon nie kerk toe kom in die klere van ‘n persoon van die teenoorgestelde geslag nie.

- Die kerk is geroep om die waarheid te verkondig

Terwyl ons met simpatie en liefde teenoor die persoon moet optree in ‘n pooging om die evangelie met hom te deel kan ons God nie oneer in die proses om dit te doen nie.  God het elke mens biologies man of vrou gemaak en Hy word slegs geeër wanneer ons dit so erken en onderskraag. Die probleem daarmee om ‘n persoon wat in sonde leef met ope arms te ontvang is dat jy hom beswaarlik daarna oor sy sonde kan aanspreek en verwag om ‘n positiewe reaksie daarop te kry.  

- Spreek die waarheid in liefde

Terwyl iemand wat met geslagsdisforie worstel waarskynlik ‘n swaar pad gestap het voor hy daaraan uiting begin gee het, en waarskynlik deur baie in die wêreld verag en verwerp is daarna, is die Christelike benadering nie om te sê ‘kom soos jy is en bly soos jy is nie’.  Liefde kom nooit ten koste van die waarheid nie.  Die oproep is: verkondig die waarheid in liefde, dit is nie omhels die leuen in liefde nie.

 

ii.   Transgender persoon in jou familie

Om ‘n Transgender persoon in jou familie te hê kan vir die gelowige ‘n saak van groot hartseer en kommer wees.  Daar is ‘n paar beginsels wat belangrik is om te verstaan en toe te pas:

- Treur soos een met hoop

Die Satan het Job se kinders van hom weggeneem. In hulle geval was dit deur hulle dood asgevolg van ‘n groot storm wat die huis waarin hulle was inmekaar laat val het.  Maar so is sonde ook ‘n manier waarop die Satan ons geliefdes van ons probeer wegneem.  Maar terwyl Job met trane na die Here in gebed gekom het, was hy nie sonder hoop nie.  Job. 1:21 "…Naak het ek uit my moeder se skoot gekom, en naak sal ek daarheen terugkeer.  Die HERE het gegee, en die HERE het geneem: die Naam van die Here sy geloofd!”  Temidde van sy hartseer en oorweldigende verlies het Hy steeds die Here geloof en na Hom gekyk vir hoop.

- Kyk na God vir die onmoontlike

“…Die dinge wat by mense onmoontlik is, is by God moontlik” (Luk. 8:27).  Die gelowige verloor nie moed nie, selfs nie in dit wat vir die mens onmoontlik lyk nie, want God is instaat om te doen ver bo dit wat ons bid of dink (Ef. 3:20).  Daarom moet ons bid sonder ophou (1 Thess. 5:17). Moenie aanneem dat jou geliefde wat die weg van ongehoorsaamheid geneem het nie uiteindelik die weg van geregtigheid sal vind nie.  In my ondervinding keer talle persone met geslagsdisforie uiteindelik terug na natuurlike sienings. 

- Wees lief op God se terme

 Jesus leer ons in Johannes 8:32 “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.”  Vryheid word nie gevind in die omhels van die leuen nie, maar in omhelsing van die waarheid.  Ons word nie geroep om lief te hê soos die wêreld lief het nie, maar soos God liefhet.  Jy moet bereid wees om op te offer sonder om weg te draai van dit wat reg en goed in God se oë.  Liefde versaak nie die weg van geregtigheid nie, maar lei ander daarop.

- Praat die waarheid

Staan vas in dit wat jy glo en deel dit met hulle. Deel ook met hulle hoekom jy dit glo en daarin vasstaan.  Die weg van God is die weg van liefde wat nie sonde aanvaar of goedkeur nie, maar ons roep tot bekering.  Moet jouself ook nie in apatie, selfbejammering of woede onttrek van hierdie familielid nie.  Praat die waarheid en wag geduldig en biddend dat die Here die hart van klip sal vervang met ‘n hart van vlees.  Hoe gereeld jy die saak moet aanspreek vra ook wysheid.  As jy dit te gereeld aanspreek sal jy enige invloed wat jy mag hê daardeur vernietig, maar terselfdetyd kan jy dit nie onaangespreek laat nie.  Bid vir wysheid (Jak. 3:15) om te weet hoe gereed en hoe jy die waarheid in liefde kan oordra.

- Wys liefde

Liefde is bereid om ver te gaan vir hulle aan wie dit gegee word, maar behoort nooit vir die gelowige verder te gaan as wat God toelaat nie.  Liefde kan nie sonde omhels nie, maar liefde is bereid om jouself op te offer vir ander. Jou verbintenis tot God se wil en God se woord behoort te getuig dat jou liefde vir jou familie opreg is sonder dat dit hulle sonde hoef te aanvaar.  Dis belangrik om hulle gereeld te herinner aan jou liefde en om jou liefde prakties aan hulle te wys.

- Deel die evangelie

Sentraal tot die verkondiging van die ware evangelie is 1 Johannes 1:9 “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” Die ware evangelie is  nie ‘kom soos jy is en bly soos jy is nie’.  Die verlore seun het uiteindelik sy weg terug gevind na die vaderhuis en dit moet jou gebed ook vir hierdie familielid wees.  Maar vir hom om te kom na die goeie nuus van verlossing moet hy die boodskap van goeie nuus hoor, veral van hulle wat vir hom lief is.  Ook hier moet jy biddend wag op die regte geleenthede en insig vir hoe gereeld.

- Besef dat nie almal gered sal word nie

Terwyl dit vir die gelowige baie swaar is om te besef dat ‘n geliefde, selfs in sy families moontlik nie gered sal word of hom bekeer van sy sondige leefstyl nie moet die gelowiges soos Job kan sê "…Naak het ek uit my moeder se skoot gekom, en naak sal ek daarheen terugkeer.  Die HERE het gegee, en die HERE het geneem: die Naam van die Here sy geloofd!” Job. 1:21. Terwyl ons alles moet inspan om ons geliefdes na geloof in die Here Jesus te lei, moet ons besef dat nie almal die weg van verlossing sal vind nie.  Tenspyte daarvan is ons roeping om God te loof vir sy onverdiende genade aan elke gelowiges wat Hom vind, en rus in die wete wat Hy gedoen het wat reg is, ook in hierdie saak.  Hiermee sê ek nie ons moet moed opgee nie, ons moet volhard in gebed en poogings solank ons geleentheid het.

 

Jy mag mislei word om te dink jy moet niks sê nie.  Jy mag mislei word om te dink jy moet onmiddelike reaksie kry.  Jy mag mislei word om te dink jy moet hulle aanvaar en omhels in hulle sonde.  Maar die gelowige het groot wysheid, geduld en liefde nodig om te weet dat die heel beste ding vir ‘n transgender persoon is hulle bekering.  Dit moet jy biddend soek terwyl jy deurlopend vra dat God jou wys sal maak om Sy wil te soek en Hom te eer in jou begeerte om die evangelie te verkondig aan ‘n verlore gaande mensdom.


ds. Leon Harmse

Leraar van Sunward Park Baptiste Kerk