Verskillende sieninge oor die eindtye
Die studie van eskatologie (einddinge) is ‘n studie oor die dood, tussenstadium, hiernamaals, oordeel, duisendjaar vrederyk, hemel en hel, maar dit verwys ook na die tyd van Jesus se wederkoms. Reg deur die geskiedenis hou gelowiges vas aan die geloof dat Jesus gaan terugkeer. Maar die tydslyn en aard van die gebeure wat op lei tot Christus se wederkoms is ‘n onderwerp van baie bespreking. Voor ons na die mees algemene sienings oor eskatologie kyk is daar eers ‘n aantal woorde wat gedefinieer moet word:
Algemene terme in
eskatologie
-
Wederkoms – Dit is die finale terugkoms
van Christus na die aarde wanneer Hy beide die lewende en die dode sal oordeel.
-
Millenuim – ‘Mille’ beteken ‘een duisend’. Dis ‘n term wat in Openbaring 20 gevind word
en dit verwys na ‘n periode waartydens Christus sal heers en sy koninkryk op
aarde sal ontvou.
-
Nuwe Hemel en Nuwe Aarde – Dit staan ook
bekend as die ‘Nuwe Skepping’ en verwys na wanneer die Aarde en die hele
mensdom vernuwe sal word om saam met God te leef vir ewig
-
Wegraping – ‘n Geheime terugkeer van
Christus om gelowiges van die aarde af na die hemel te neem. Daar word geglo
dat hierdie gebeurtenis voor Christus se wedekoms sal plaasvind
-
Groot verdrukking – ‘n Periode van lyding
wat gewoonlik die gevolg is van God se toorn wat uitgestort word op die aarde.
-
Antichris, On’dier’, Man van wetteloosheid
– ‘n AntiChristelike leier wat mense sal mislei, of ‘n groep leiers wat saam
werk om ‘n finale en uiteindelik antichrist te vorm
-
Reeds maar nog nie – die idee dat God se
koninkryk, hoewel dit nog nie volledig gerealiseer is nie, reeds in die
vooruitgang van die kerk en mense se navolging van Christus gesien kan word.
Vier historiese
siening van Eskatologie
Amper alle verskille rondom eskatologie handel oor die
interpretasie van Openbaring 20 en die ‘millenium’. Die volgende vier sienings word al deur die
eeue deur Christene gehou. Al hierdie
sienings word deur erkende en gerespekteerde gelowiges en kerke aanvaar as
ortodokse sienings van die einddinge.
1. Postmillennialisme
Volgens hierdie siening sal daar ‘n tydperk van ‘n duisend jaar (of ‘n lang tydperk) wees waarin Christus se koninkryk eers sal uitbrei voordat Hy sal terugkeer. In hierdie tydperk sal die kerk suksesvol die evangelie verkondig en die gemeenskap transformeer. Volgens die wat hierdie siening handhaaf is die Millennium ‘n goue era waartydens die kerk reeds hier op aarde sal oorwin en daardeur alle boosheid sal onderdruk en die wil van God sal laat vooruitgaan in elke terrain van die samelewing. Christus sal dan terugkom na ‘n verloste wêreld. Van al die sienings van die eskatologie is hierdie een die mees optimisties. Dit is gewoonlik baie populêr in tye van herlewing in die kerk. Daar is talle gerespekteerde en welbekende teoloë wat hierdie siening handhaaf. Om ‘n paar te noem: Jonathan Edwards, John Owen, Charles Hodge en meer onlangs Jeff Durbin.
2. Amillennialisme
Volgens hierdie siening verwys die ‘duisend jaar’ in Openbaring nie na ‘n letterlike tydperk van ‘n duisend jaar nie, maar eerder na die hele tydperk tussen Christus se hemelvaart en wederkoms. Hierdie tydperk is ‘n ‘millennium koninkryk waarin die evangelie na elke nasie op aarde versprei word en waartydens gelowiges wat reeds gesterf het werklik saam met Christus in die hemel heers. Deur die geskiedenis is die Amillennial siening te mees algemene siening van meeste gelowiges gewees. Dit is ook een van die oudste eskatologiese sienings in die kerk
Amillennialiste beklemtoon dat elke teksgedeelte in die Skrif behalwe Openbaring 20 baie duidelik verklaar dat Jesus eenvoudig net sal terugkeer en kom oordeel oor die lewendes en die dooies. Asgevolg hiervan behoort Openbaring 20 in hierdie selfde lig gelees te word. Verder wys hulle daarop dat apokaliptiese literatuur soos Openbaring altyd gebruik maak van metafore en ronde getalle eerder as hiper-letterlike interpretasies. Hulle beklemtoon ook dat die Koninkryk van God reg deur die Nuwe Testament beskryf word as beide ‘reeds, maar nog nie’. Ons sien dit nou reeds deur kerke wat geplant word en mense wat red word, maar ons verwag nog ‘n volledige vervulling van die Koninkryk by Christus se wedekoms. Daar is talle gerespekteerde en welbekende teoloë wat hierdie siening handhaaf. Om ‘n paar te noem: Augustinus, Johannes Calvyn, en meer onlangs J.I. Packer en R C Sproul.
3. Historiese Premillennialisme
Hierdie siening word histories genoem omdat dit een van twee oudste sienings van eskatologie is (naas Amillennialisme) en daarom deur talle van die antieke kerkvaders gehou was. Die wat hierdie siening handhaaf glo dat Jesus sal terugkeer om eers vir ‘n duisend jaar liggaamlik hier op aarde te heers. Tydens hierdie tydperk van ‘n duisendjaar sal daar vrede op aarde wees waarna die finale oordeel sal plaasvind. Premillennialiste dring aan dat die duisendjaar letterlik gesien moet word. Daar is talle gerespekteerde en welbekende teoloë wat hierdie siening handhaaf. Om ‘n paar te noem: Papias, Charles Spurgeon, en meer onlangs Gray Allison en John Piper.
4. Pretribulasie premillenianisme
Hierdie siening het nie net die langste naam nie, maar is ook die mees komplekse van al die eskatologiese sienings. Volgens hierdie siening is die duisend jaar ‘n letterlike tydperk waartydens Christus op aarde sal heers. Wat hierdie siening egter uniek maak is al die gebeure wat hierdie millennium sal vooruitgaan. Daar sal eerstens ‘n wegraping plaasvind waartydens Christus geheimsinnig sal terugkeer om die kerk na die hemel te neem vir sewe jaar. Tydens hierdie tydperk wat die kerk afwessig is sal daar ‘n groot verdrukking hier op aarde wees waartydens God Sy toorn sal uitstort op die wat agterbly. Ook tydens hierdie tydperk van seve jaar sal daar ‘n groot ontwaking onder die Jode waartydens talle hulle tot Christus sal bekeer en die antichris sal bekendgemaak word. Na afloop van hierdie tydperk van verdrukking sal Jesus en die gelowiges (nou in verheerlikte liggame) terugkeer en die millennium sal begin waartydens Jesus vir ‘n duisend jaar saam met die gelowiges sal heers oor alle mense (steeds in hulle natuurlike liggame) wat die verdrukking oorleef het vir ‘n duisend jaar. Aan die einde van die millennium sal daar ‘n tyd wees waartydens Satan losgelaat sal word en waartydens hy en die ongelowiges sal dan oorlog voer teen Christus. Na al hierdie dinge sal Christus sy vyande oorwin en die finale oordeel sal plaasvind waarna die ewige Nuwe Hemel en Nuwe Aarde ingelyf sal word.
Pretribulasie premillenianiste dring daarop aan dat die boek van Openbaring letterlik en kronologies verstaan moet word. Anders as enige ander siening, dring volgelinge van hierdie siening aan dat die Kerk en Israel nie as een mensheid gesien moet word nie, maar as twee en dat God afsonderlik met hulle deel. Dit is ook die rede waarom hierdie siening die enigste is wat verwys na ‘n wegraping van die kerk. Daar is talle gerespekteerde en welbekende teoloë wat hierdie siening handhaaf. Om ‘n paar te noem: J. Dwight Pentecost, en meer onlangs Church Smith, Chuck Swindoll, Norman Geisler en John MacArthur.




