Search This Blog

Afrikaans (29) English (28)

22 March 2026

Mag die gelowige ooit lieg?


In die laaste deel van Handelinge 5 bevind die Apostels hulself in 'n baie moeilike situasie. Die Hoëpriester verbied hulle om die evangelie te verkondig. So wat gaan hulle doen? Hulle weet! Handelinge 5:29 “En Petrus en die apostels antwoord [die Hoëpriester] en sê: ‘Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.’”  Die gelowige kan in 'n soortgelyke situasie wees waar hy dink hy het geen ander keuse as om te lieg nie; Of in 'n situasie waar hy dink lieg is die regte ding om te doen. Die Apostel se stelling help ons met hierdie vraag: Mag die gelowige ooit lieg? Is ons ooit geregverdig om te lieg? Is daar ooit 'n situasie waar 'n gelowige kan sê: ‘Ek het geen ander keuse as om te lieg nie’?

 

1. Wat leer die Bybel oor lieg?

Hoe kan ons daardie vraag vra as die agtste gebod so duidelik is: Eksodus 20:16 “Jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie.” Die Bybel is baie duidelik teen lieg! Daar is baie verse in die Skrif wat dit bevestig (Lev 19:11; Psa 5:6; Psa 31:19; Psa 58:4; Psa 101:7; Psa 120:2; Spr 6:16-19; Spr 12:22; Spr 12:22; Spr 14:5; Spr 14:25; Spr 19:9; Spr 21:6; Joh 8:44; Kol 3:9; Jak 3:6; Open 21:8). Jesus se verwagting in Mattheus 5:37 is baie eenvoudig: Maar laat julle woord wees: Ja ja, nee nee.". In Efesiërs 4:25 sê Paulus dat gelowiges klaar moet maak met lieg en die oproep is eerder “spreek die waarheid, elkeen met sy naaste”. Lieg is nie versoenbaar met 'n lewe van gehoorsaamheid aan God nie, want dit eer Hom nie. 

Hier is 3 redes waarom 'n Christen altyd die waarheid moet praat en nooit moet lieg nie:

 

a. Jou Integriteit

Titus 2:7-8 sê: “Betoon jou in alles ‘n voorbeeld van goeie werke, met onvervalstheid in die leer, waardigheid, opregtheid. Laat die woord gesond en onweerspreeklik wees, sodat die teëstanders beskaam kan word en niks slegs kan hê om van julle te sê nie.” Ons word geroep om op te tree in ooreekoms met ons geloof, wat beteken dat leuens iets is wat jy moet laat vaar. Dit is wat 2 Korintiërs 4:2 ook sê: “Maar ons het van die heimlike dinge wat skandelik is, afstand gedoen, en ons wandel nie in listigheid of vervals die woord van God nie; maar deur die waarheid aan die lig te bring, beveel ons ons by elke menslike gewete voor God aan.” Jou Christelike integriteit verwag dat jy nooit moet lieg nie.

 

b. Jou begeerte

In Mattheus 6:33 sê Jesus dat jou begeerte bo alles moet wees: soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid. Die Bybel maak geen geheim daarvan dat God leuens met 'n uiterste haat haat nie. So hoe kan jy as 'n gelowige selfs probeer om leuens te regverdig? Wat ook al jou omstandighede mag wees waarin jy verplig voel om te lieg, in Handelinge 5:29 sê die apostels: Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense. Dit is ons grootste begeerte as Christene, om God te eer en God word nooit deur leuens geëer nie.

 

c. Jou getuienis

Jesus roep ons in Mattheus 5:13-14 om die sout van die aarde en die lig van die wêreld te wees. Dit vereis dat ons reg doen selfs wanneer almal rondom ons verkeerd doen of selfs of al word van ons verwag om verkeerd te doen. Daniël is 'n uitstekende voorbeeld hiervan. Alhoewel hy in baie goddelose omstandighede gewerk het, het hy steeds vasgestaan ​​in die waarheid. Wat opvallend is, is dat hy in Daniël 6:3-4 selfs deur die goddelose koning vereer is en bevorder is omdat hy “bo die ministers en die landvoogde uitgemunt, omdat ‘n voortreflike gees in hom was”

 

Ons moet uitstaan ​​in hierdie bose wêreld soos Efesiërs 5:11 ons aanmoedig: “Hou nie gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis nie, maar bestraf dit liewer. Dit is wat jou getuienis van jou verwag. Gelowiges moet altyd die waarheid praat. Leuens moet nooit deel van ons dade wees as ons God wil eer nie. Ek hoop jy wil God in alles eer. Dit vereis dat jy Hom ook eer deur altyd die waarheid te praat. 

Tog moet ons altyd die waarheid in liefde praat, nie met haat of aanvallend nie. Kolossense 4:6 “Laat julle woord altyd aangenaam wees, met sout besprinkel, sodat julle kan weet hoe julle elkeen moet antwoord.” Dit beteken nie dat ons oor die waarheid kan kompromieë aangaan nie, ek herinner jou weer aan wat Handelinge 5:29 Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense. 

God kan nie lieg nie, sê Hebreërs 6:18. En Hy verwag dat gelowiges ook nooit moet lieg volgens Eksodus 20:16 en talle ander plekke in die Skrif nie. 

Verder het ons die belofte dat God ons nooit in 'n situasie sal plaas waar ons moet lieg nie. In 1 Korintiërs 10:13 sê Paulus: “Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.” Volgens Hebreërs 4:15 was Jesus in elke opsig versoek soos ons, maar sonder sonde. Dit beteken dat Jesus ook versoek is om te lieg, maar Hy het nie. Ons word geroep om ook hierin Sy voorbeeld te volg, want dit verheerlik God wanneer ons die waarheid liefhet en dit verheerlik God wanneer ons leuens haat.

 

2. Is daar ooit 'n regverdiging vir lieg?

Sommige sal sê dat hoewel 'n gelowige nie moet lieg nie, daar geleenthede is waar dit vir hom toelaatbaar is om te lieg. Hulle sal selfs Bybelverse aanhaal wat hulle glo dit toelaat. Verder gee hulle hipotetiese omstandighede waar hulle glo dat dit selfs van Christene verwag word om te lieg.

 

a. Beweerde Bybelse ondersteuning

Hulle wend hulle gewoonlik tot drie tekste wat blykbaar sê dat lieg soms toelaatbaar is: 

               i.Vroedvroue laat babaseuntjies leef – Eksodus 1

In Eksodus 1:15-21 beveel koning Farao die Joodse vroedvroue om die Joodse seuns dood te maak die oomblik as hulle gebore word. Die vroedvroue maak hulle egter nie dood nie. Wanneer Farao dit uitvind en hulle konfronteer, antwoord hulle deur te sê: Die Hebreeuse vroue is nie soos die Egiptiese nie, want hulle is sterk—voordat die vroedvrou by hulle kom, het hulle al gebaar. 

Wat ons weet, is dat hulle op een of ander manier 'n plan beraam het om die lewens van hierdie Joodse seuns te red, maar ons weet nie wat daardie plan was nie. Terwyl Farao hulle gevra het om te verduidelik waarom hulle nie sy bevel uitgevoer het nie, is daar geen duidelikheid dat wat hulle gesê het 'n leuen was nie. Ons kan net spekuleer. 

Verder is daar ook geen aanduiding dat God hulle geseën het of goedkeuring gegee het vir hul leuens nie. Ja, die Here het die vroedvroue geseën, nie as gevolg van hul leuens nie, maar omdat hulle die seuns in die lewe gered het. In Genesis 12:3 sê die Here: “Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.” As hulle gelieg het, wat nie seker is nie, beteken dit nie dat God hulle geseën het as gevolg van hul leuens nie. Dit toon nie God se goedkeuring van hul leuens nie. Hierdie teks regverdig nie leuens nie! 


             ii.Ragab steek die spioene weg – Josua 2

In Josua 2:2-6 lees ons dat Ragab twee Joodse spioene onder die vlasstoppels op haar huis se dak weggesteek het. Die koning van Jerigo het manne na haar gestuur om te vra waar hulle was. Sy het gesê dat hulle na haar toe gekom het, maar toe die stad verlaat het. 

Daar is geen twyfel dat hier Ragab gelieg het om die Joodse mans te beskerm nie. Maar dit is interessant wat die Nuwe Testament oor Ragab sê. In Hebreërs 11:31 lees ons: “Deur die geloof het Ragab, die hoer, nie saam met die ongehoorsames omgekom nie, omdat sy die spioene in vrede ontvang het.” Nog 'n Nuwe Testamentiese gedeelte wat oor Ragab praat, is Jakobus 2:25 wat sê: “...is Ragab, die hoer, nie ook net so geregverdig uit die werke toe sy die boodskappers ontvang en met ‘n ander pad weggestuur het nie? Waarvoor die Bybel haar prys, is dat sy die spioene ontvang en beskerm het. Die Bybel is heeltemal stil oor haar leuen. Die Bybel beveel dit nie aan nie, en die Bybel veroordeel dit ook nie, dit sê niks oor haar leuens nie. Ons moenie vanuit stilsye ‘n argument voer nie. Hierdie teks is nie daar om 'n morele les oor leuens te leer, of dit nou reg of verkeerd is nie, die res van die Woord is duidelik daaroor. 

Verder was Ragab 'n gelowige uit die heidendom in die tyd van die Ou Testament wat nie die volle openbaring van God gehad het nie. In Handelinge 17:30 sê Paulus, aangande die heidene in die tyd van die Ou Testament, dat “God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer”. Ons ken die waarheid oor leuens en God sal ons dienooreenkomstig oordeel. In Lukas 12:47-48 sê Jesus: “En daardie dienskneg wat die wil van sy heer geken het en nie klaargemaak of volgens sy wil gedoen het nie, sal met baie slae geslaan word; maar hy wat nie geweet het nie en gedoen het wat slae verdien, sal met min slae geslaan word. En elkeen aan wie veel gegee is, van hom sal veel gevorder word; en aan wie hulle veel toevertrou het, van hom sal hulle oorvloediger eis.”

 

           iii.Samuel salf Dawid – 1 Samuel 16

Hier stuur die Here Samuel om Dawid as koning te salf terwyl Saul nog op die troon is. Maar wat as Saul dit uitvind? Dus sê die Here vir Samuel om vir enigiemand wat Hom vra, te sê dat hy na Betlehem gekom het om 'n offer te bring. Die Here het hom ook gesê om Isai en sy seuns na die offer te nooi. Ja, die Here het hom ook gestuur om Dawid te salf, maar Samuel hoef dit nie te sê nie. Die manne van die stad het toe vir Samuel gevra of hy in vrede gekom het? Hy het geantwoord deur te sê: Ja, ek het gekom om 'n offer aan die Here te bring. Het Samuel gelieg? Nee! Hulle het nie gevra of hy gekom het om Dawid as koning te salf nie, en Samuel het nie aangebied om dit vir hulle te sê nie. 

In Mattheus 10:16 sê Jesus: Kyk, Ek stuur julle soos skape onder die wolwe in; wees dan versigtig soos die slange en opreg soos die duiwe. Ons moet wys wees in hierdie bose wêreld, maar steeds onthou om die waarheid te praat en die leuen te haat.

 

b. Beweerde regverdiging vir leuens 

               i.Die beskerming van lewe

Kom ons sê jy is 'n gelowige wat in Duitsland woon gedurende die tyd van Hitler. Daar is 'n skielike klop aan jou deur en dit is 'n Joodse man wat smeek dat jy hom moet wegsteek. Oomblikke later klop 'n Nazi-soldaat ook aan jou deur. Hy vra jou of daar enige Jode in jou huis is. Wat gaan jy antwoord? As jy ‘ja’ sê, sal die Jood doodgemaak word, maar as jy ‘nee’ sê, dan lieg jy. So wat moet jy doen? 

Mense gebruik dit as 'n voorbeeld om te sê dat dit soms reg is om te lieg, maar regverdig dit leuens? Is lieg jou enigste opsie hier? Dit is eintlik baie soortgelyk aan hoe die Fariseërs Jesus in Mattheus 22:15-22 probeer vasvra het. Hulle het gevra of ons belasting moet betaal? Toe neem Jesus 'n muntstuk en vra wie se beeld of afskrif daarop is. Die antwoord is Caesar s'n. Hierop het Jesus geantwoord deur te sê dat ons aan die keiser moet gee wat hom toekom en aan God moet gee wat Hom toekom. 

Sir Edgar Allan Poe maak 'n interessante voorstel oor die vraag van die Jood en die Nazi-soldaat. Hy sê jy moet altyd iets ‘in die oopte wegsteek’. Byvoorbeeld, jy moet 'n boek op 'n boekrak of biblioteek wegsteek. As jy 'n voertuig wil wegsteek, parkeer dit in 'n besige parkade. Net so, as jy 'n Jood in jou huis wil wegsteek, laat hom dan die voordeur saam met jou vir die soldaat oopmaak. As die soldaat dan vra: “Steek jy Jode weg?” antwoord jy deur iets te sê soos “Wie sou nou so dwaas wees?”. Of as hy vra “Is daar Jode in jou huis?” moet jy hom nooi om self te ondersoek. Die gedagte is dat die laaste plek waar iemand dikwels na iets soek, reg voor hul oë is. 

Die soldaat mag jou in elk geval nie glo nie en steeds die huis deursoek en dan sal hy verseker die Jood vind en hom gevange neem. Maar deur hom ‘in die oopte’ weg te steek, hoef jy nie te lieg nie en dit is ook jou beste kans om die Joodse man te beskerm.

 

             ii.Die beginsel van liefde

Dit is nog 'n regverdiging wat hulle gebruik vir hoekom jy soms moet lieg. Mattheus 22:39         sê “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Daar is verskeie scenario's waar hulle dit sou         toepas. Die voorbeeld waarna ons so pas gekyk het van die Jood en die Nazi pas ook            hierby in. Maar ander voorbeelde is wanneer jy iets weet wat iemand hartseer sal maak            en daarom sê jy eenvoudig iets soos ‘Nee, jy weet nie’. Nog 'n voorbeeld is as jy iets van         iemand weet wat in die moeilikheid sal kom as iemand dit uitvind, so jy sê ook dat jy nie            iets weet wat jy eintlik weet nie. 

Maar die gebod om jou naaste lief te hê is die tweede gebod volgens Matteus 22. Daar is 'n eerste en grootste gebod wat voor dit kom. Matteus 22:37-38 “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod.” Alles wat ons doen, moet die eerste gebod gehoorsaam. Die vraag is dus, toon leuens liefde vir God uit jou hele hart, siel en verstand? Selfs ons liefde vir ons naaste moet God eer en ons weet dat God leuens haat en ons beveel om nooit te lieg nie. Daarom regverdig liefde vir jou naaste nie leuens nie.

 

           iii.Omstandighede bepaal reg en verkeerd

Hulle verwys na omstandighede soos: Jou bestuurder by die werk vereis dat jy lieg; of iemand se lewe is in gevaar en die enigste manier om hulle te beskerm, is deur te lieg; of as die waarheid iemand meer skade sal berokken as 'n ‘onskuldige leuen’. 

Ons het 'n Bybelse voorbeeld van iemand wat lieg omdat hy geglo het dat sy omstandighede vereis dit. In 1 Samuel 29:1-11 het Dawid vir koning Agis van die Filistyne gelieg. Hy het voorgegee dat hy kwaad was vir koning Saul en die indruk gelaat dat hy bereid was om saam met die Filistyne teen die Israeliete, sy eie volk, te veg. As die Here nie ingegryp het en verhoed het dat die Filistynse leiers Dawid se bereidwilligheid om teen sy eie volk te veg, te aanvaar nie, kon dinge baie tragies afgeloop het. 

Maar ons hoef nie te wonder of Dawid se optrede hier reg of verkeerd was nie, want in 1 Samuel 30:6 lees ons: En Dawid het dit baie benoud gehad, want die manskappe het gepraat om hom te stenig; want die siel van al die manskappe was verbitterd, elkeen oor sy seuns en sy dogters; maar Dawid het homself versterk in die HERE sy God. Hy het homself versterk in die HERE sy God. Dit beteken dat hy sy geloof vernuwe het, berou gehad het oor sy sonde en vergifnis gevind het. Dawid het geweet dat lieg verkeerd was, en ons behoort ook.

 

           iv.As dinge reg uitwerk, het ek reg gedoen

Baie sal argumenteer dat toe hulle gelieg het, dinge steeds vir hulle uitgewerk het, daarom was dit goed om te lieg. Soms sal jy iets doen wat verkeerd is in die oë van die Here, maar dinge werk steeds goed vir jou uit. 

Onthou baie van die rykste en invloedryke mense in die wêreld is oneerlike en goddelose mense. Psalm 73 sê dat die rykdom van die goddelose tot hulle vernietiging sal lei. Die feit dat alles reg uitwerk, beteken nie dat jy geregverdig is om dit te doen nie. Jona wou nie hê dat God Ninevé moes red nie, hy wou hê dat die Here dit moes vernietig. So Jona het na Tarsus gevlug. Alles het uitgewerk vir hom om te vlug: ‘per toeval’ was daar 'n boot na Tarsus; ‘per toeval’ was daar nog een plek op die boot vir 'n vlugtende profeet. Dinge het uitgewerk, maar dit beteken nie dat sy vlug na Tarsus God se wil vir Jona was nie, en hy het dit geweet. 

Die Here het baie duidelike instruksies aan Jona gegee oor Sy wil vir hom en God het ons ook duidelike instruksies gegee oor Sy wil vir ons, ook oor lieg. In Eksodus 20:16 sê die Here: Jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie en dit word keer op keer deur die Skrif herhaal.

 


Omdat God leuens haat moet sy kinders nooit moet probeer om regverdiging vir leuens te vind nie. So wat as jou bestuurder eis dat jy lieg? Wat as die waarheid vertel tot iemand se dood lei? Wat as lieg die enigste logiese opsie in jou situasie lyk? Handelinge 5:29 Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense. En as jou omstandighede vereis dat ons so versigtig soos die slange en opreg soos die duiwe moet wees soos Jesus vir ons in Mattheus 10:16 sê, gee Jakobus 1:5 die antwoord daarop: “As iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word.” 

Maar lieg is nie 'n opsie vir die gelowige nie. Ons moet God gehoorsaam en in alles in Sy soewereine wil rus. Want soos Romeine 8:28 vir ons sê, ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk 

Amen!