Hoe moet ek stem?
Omdat Baptiste glo in die pristerskap van alle gelowiges is politiek en wie jy voor moet stem nie gewoonlik sake waaroor ons ons uitspreek nie. Verder glo Baptiste ook in die skeiding tussen kerk en staat en glo daarom die kerk behoort hulleself te weerhou daarvan om politiese uitsprake te maak. Dit beteken egter nie dat gelowiges wat Baptiste is, nie moet stem nie, dis een van daardie areas waarin elke gelowige vir homself moet besluit. Terselfdetyd omdat Baptiste ernstig is daaroor dat die Woord van God ons riglyn is in alle sake van die lewe, moet ons ondersoek wat die Woord van God sê oor die saak. So terwyl hierdie nie ‘n pooging is om enige van julle voor te skryf vir wie om te stem, of om enigstens te stem al dan nie, wil ek graag wys op wat God verwag van regerings en sodoende elkeen van julle wat wil stem te lei om God se wilt e soek in hoe julle stem.
Uit die Skrif vind ons minstens vier verwagtinge wat God van regerings het:
1. Hulle moet mense lewens beskerm
Toe God menslike regerings ingestel het, het Hy aan hulle die mandaat gee om menselike lewens te beskerm. Omdat die mens, anders as enige ander skepsel, in die beeld van God geskape is (Genesis 9:6), is dit meer kosbaar as enige ander lewe. Hierdie waarde van menselike lewe begin nie by geboorte nie, maar reg van die oomblik van konsepsie af. Daarom behoort gelowiges te stem vir partye wat selfs die lewe van ongebore babas beskerm. Enige party wat byvoorbeeld aborsie goedkeur respekteer sodoende nie God se mandaat om lewe te beskerm nie (Spreuke 24:11-12).
2. Hulle moet intergriteit toon
Van die wat oor ons heers, verwag God intergriteit. Sodoende moet hulle vry wees van geldgierigheid, omkopery, verdraaing van geregtigheid en partydigheid tot voordeel van sekere persone. Twee teksverse help ons om te sien wat God se verwaging in die sake is. 2 Samuel 23:3 “‘n Heerser oor mense, ‘n regverdige, ‘n heerser in die vrees van God”. Eksodus 18:21 “Maar kies jy uit die hele volk bekwame manne wat God vrees, betroubare manne wat onregverdige wins haat.” Gelowiges moet begeer om partye te ondersteun wat geken word as mense van integriteit wat begeer om die belang van alle burgers te soek.
3. Hulle moet wet en orde handhaaf
Augustinus het eenmaal gesê dat die regering is ‘n noodsaaklike boosheid, omdat die mensdom boos is. Sodoende het hy duidelik gemaak dat een van die primêre funksies van die regering is om boosheid teen te werk en geregtigheid aan te moedig deur wet en orde te handhaaf (Romeine 13:1-4). Enige persoon wat deur sy aksies sy naaste skade aandoen moet deur wetgewing verhoed word soda tons, soos Paulus in 1 Timoteus 2:2 sê “’n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid.” Polisiering, Geregstelsels en strafpraktyke moet in plek wees om die welstand van alle mense te bevorder en sodoende boosheid in die samelewing te beprek.
4. Hulle moet eiendom beskerm
Uit
Eksodus 20:15, 17 is dit duidelik dat God die mens se reg erken om eiendom te
mag besit en regerings behoor hierdie reg te beskerm. Wanneer regerings die hulleself skuldig maak
aan grond of eiendom onteiening sonder vergoeding (wat diefstal is) tree hulle
daardeur in teenstryd met God se wil op.
Verder, indien hulle buitensporige belasting, boetes of ander heffings
op eiendom plaas in ‘n pooging om hulleself te verryk toon hulle daardeur die
minagting van die vryheid en reg van hulle burgers. Hierdie is dinge wat God nie eer nie.
Hierdie is minstens vier areas waarin die Woord van God redelik duidelik uitgesproke is oor God se verwagting van regerings. Ek wil hê dat julle daarop moet let dat God nie verwag van regerings om ‘n bepaalde geloof moet ondersteun nie (vandaar die Baptistiese beginsel van ‘skeiding tussen kerk en staat’. Terwyl dit goed is van die staat om die armes te ondersteun, mediese dienste aan te bied en opvoedkunde te gee, is hierdie nie dinge wat God spesifiek van hulle verwag nie.
Terwyl Baptiste (ek ook) nie voorskriftelik of selfs pertinent uitgesproke is oor politiese sake nie, erken ons dat God bepaalde verwagtinge van regerings het, en as ons as gelowiges besluit om te stem, behoort ons te stem in ooreenstemming met wat God van regerings verwag om sodoende God te eer in hoe en waar ons ons kruisie trek.
Hoe jy ookal kies om jou priesterskap as gelowige uit te
oefen op stemdag, bid ek dat jy sal jou liefde vir God eerste sal stel en Hom
sal eer in hoe jy dit doen.
ds. Leon Harmse, die
leraar van Sunward Park Baptiste Kerk
.jpg)