Wat gebeur na ons sterf? – Deel 1
Hierdie studie kom na aanleiding van vra deur verskeie persone oor wat gebeur met mense na die dood.
Die kort antwoord op die vraag wat gebeur met ons nadat ons gesterf het is: Ons hou aan lewe. Die Bybel is duidelik dat beide die regverdiges en onregverdiges bly voortbestaan na die dood. Hierdie voortbestaan sal in twee fases gebeur, (1) Die intermediêre toestand, voor die Dag van Oordeel, en (2) Die Ewige Toestand, na die Dag van Oordeel. Ons sal die week kyk na die eerste en volgende week na die tweede:
1. Die intermediêre toestand
Dit verwys na daardie tyd tussen ons dood en die finale oordeel, daardie dag van die opstanding van ons liggame. In hierdie tyd, leer die Skrif ons, gaan die ondervinding van gelowiges merkbaar anders lyk as die ongelowiges sin.
a. Die gelowiges in die intermediêre toestand
Die oomblik wanneer die gelowige sterf gaan hy onmiddelik na waar Christus is. In Filippense 1:23 sê Paulus dat hy begeer om te sterf sodat hy kan wees waar Christus is. In 2 Korintiërs 5:8 toon hy dat ons eerder moet begeer om uit die liggaam uit te woon, want dan sal ons by Christus inwoon. Aan die dief aan die kruis sê Jesus ook ‘vandag’ sal jy saam met my in die paradys wees (Lukas 23:43). Aangesien Christus aan die regterhand van die Vader is wat in die hemel is, gaan ons dus hemel toe. Terwyl dit so is, is dit nie belangrik waar ons gaan wees nie, maar by wie: By God, by Jesus, by die Heilige Gees.
Soms gebruik die Bybel die woord ‘hemel’ om te verwys na die lugruim bokant ons koppe. Maar die primêr teologiese betekenis van die hemel is ‘n verwysing na daar waar God woon. Dit verwys na ‘n regte plek in ruimte en tyd. Terwyl God gees is en daarom nie beperk is tot enige plek nie (selfs nie die hemel nie – 1 Konings 8:27), is die hemel die plek waar God kies om Homself intensief te manifesteer. So kan ons byvoorbeeld dink aan die Berg Sinai, of die Tabernakel of Tempel. Hierdie was plekke op aarde waar God Homself intens gemanifesteer het, en tog sien ons in Hebreërs 8:1-2 dat die Tabernakel (en Tempel) bloot afbeeldings is van wat in die hemel is. Net soos die offerstelsels en wette wat heenwysings was na die meer Heerlike, Jesus Christus, so is die aardse tabernakel (en Tempel) bloot weerspielings (‘n swakker weergawe) van die hemelse teenwoordigheid van God.
Toe Jesus hemel toe gegaan het, sê 1 Petrus 3:22 vir ons het Hy gegaan om aan die regterhand van God te sit. Hy het gaan sit, want sy versoeningswerk as Priester is voltooi. Hy sit aan God se regterhand, die posisie van gesag want Hy is Here oor alles en almal. Maar Johannes 14:2 vertel ons ook dat Jesus gegaan het om vir ons plek voor te berei, sodat waar Hy is, ons ook sal wees.
Maar wat van Ou Testamentiese gelowiges? Om dit te begryp kan ons kyk na Henog (Genesis 5:24) en Elija (2 Konings 2:11 & Mattheus 17:3). Hierdie is twee wat nie gesterf het nie, maar onmiddelik in die teenwoordigheid van God ingegaan het. Hierdie selfde Elia het saam met Moses en Christus op die Berg van Verheerliking verskyn, wat toon dat Beide Elia en Moses voortgeleef het in die teenwoordigheid van God in ‘n lewe sonder einde. Jesus vertel die verhaal van Lasarus en die rykman, waarin Lasarus in die boesem van Abraham is (Lukas 16:22-23), terwyl die rykman homself in ‘n plek van pyniging bevind.
Daar is sommige Ou Testamentiese tekste wat blyk om die idee te skep dat die mens onmiddelik na die dood in ‘n bewustelose toestand is (siele slaap). Maar selfs die Ou Testament wys op ‘n bewuste teenwoordigheid by God die oomblik na die dood. So lees ons Byvoorbeeld in Psalm 115:17 “Die dode en almal wat na die stilte neerdaal, sal die HERE nie loof nie”, maar net die volgende vers sê “maar ons sal die HERE prys, van nou af tot in ewigheid. Halleluja!” Dit wil voorkom uit hierdie teks dat vers 17 verwys na die liggaam in die graf ‘wat na die stilte neerdaal, (en) sal die HERE nie loof nie’ terwyl vers 18 duidelik toon dat ons van die oomblik van ons dood (van nou af tot in ewigheid) die Here sal prys.
Die Ou Testament verwys ook na die plek waarheen ons gaan na die dood as ‘Sheol’ (die doderyk). Dit is die plek waarheen hulle sou gaan in afwagting van Christus se koms. Hebreërs 11:39-40 verwys moontlik na die geleentheid waar Jesus na sy dood na hierdie plek (Sheol) gegaan het om die inwoners van daar saam met Hom te neem na die teenwoordigheid van God toe. Dit is waarna die Apostoliese Geloofsbelydenis verwys as dit praat van ‘neergedaal het na die doderyk’ (Nie die hel nie).
Die Rooms Katolieke siening dat terwyl sommige gelowiges reguit hemel toe gaan, die meeste van hulle na ‘n tydelike bestemming (die Vagevuur / Pergatory) gaan is geheel en al onBybels en daar is geen Bybelse regverdiging vir hierdie siening nie. Die Adventiste (en ander) se siening van ‘n sieleslaap is duidelik ook onBybels want dit ontstaan uit ‘n misverstand wat Jesus self opgeklaar het in Johannes 11:11-14 by die dood van hulle vriend Lasarus. Eers sê Jesus aan sy Dissipels dat Lasarus ‘slaap’, maar hulle verstaan Hom verkeerd, waarna Jesus duidelik stel ‘Lasarus is dood’.
Sal ons liggame hê in hierdie intermediêre toestand? Terwyl daar tekste is wat blyk om te impliseer dat ons ‘tydelike liggame’ sal het, blyk die algemene verloop van die Skrif dat ons ‘n geestelike bestaan sal hê in afwagting van die opstanding van ons liggame op die Laaste Dag. Op daardie oomblik sal ons liggame (dan verheerlik) met ons siele verenig word en sal ons as liggaam en gees vir ewig in God se teenwoordigheid wees.
Die Bybel verskaf ons nie groot besonderhede oor hierdie intermediêre toestand van die gelowiges nie. Maar daar is ‘n aantal dinge wat ons kan weet:
-
Dit sal ‘n kognetiewe bewuste bestaan wees
-
Ons sal by Christus en by God wees
-
Ons sal volkome gelukkig en tevrede wees
-
Ons sal met verlange (en trane) uitsien van die
volbringing van God se volkome wil (Openbaring 6:10-10)
- Ons sal daar bly tot op die Dag van die Wederkoms wanneer ons liggame opgewek sal word en verenig sal word met ons siele.
b.Die ongelowiges in die intermedieêre toestand
Die Bybel leer ons nog minder oor
die intermediêre toestand van die ongelowiges.
Maar uit die verhaal van Lasarus en die rykman leer ons ‘n aantal
dinge. Hierdie verhaal verbeeld Jesus se
eie verstaan van die hiernamaals: Terwyl Lasarus in die boesem van Abraham is
(die hemel) is die rykman in ‘n plek van ellendige pyniging waar hy geen genade
ontvang nie. Daar is ook geen
moontlikheid van oorgang van hierdie plek van pyniging na daar waar Lasarus is
of anders om nie. Dit toon duidelik dat
daar geen moontlikheid bestaan vir bekering na die dood nie. Ook dat terwyl die
finale dag van oordeel in die toekoms lê, ons ewige eindbesteming bepaal word
by die dag van ons dood en dat dit daarna nie kan verander nie.
Hierdie is ‘n pooging om Skriftuurlik te dink oor wat na die dood gebeur, met die gelowige en met die ongelowige. Dit is seker moontlik om sekere tekste anders te verstaan as wat ek dit verstaan het, solank dit Bybels geinterpreteer word. Ek verstaan self nie alles nie en God het ook nie alles wat daar is aan ons geopenbaar nie. Die menslike verstand kan ook net verstaan wat vir dit moontlik is om te begryp en sodoende is hierdie nie ‘n pooging om volledig en finaal oor die saak te praat nie. Ons opgewondheid oor die ewigheid moet primêr gedryf word deur ‘n rykhalsende verlange om by Hom te wees.
ds. Leon Harmse
Die leraar van Sunwardpark Baptistekerk
.png)