Wat gebeur na ons sterf? – Deel 2
Hierdie is die tweede studie oor wat met ons gebeur na die dood. In die eerste studie het ons gekyk na wat onmiddelik na die dood met ons gebeur. In vandag se studie sien ons wat met ons sal gebeur in en na die dag van oordeel en waar ons die ewigheid sal deurbring.
Die Ewige Toestand, na die Dag van Oordeel is waarna ons vandag sal kyk:
1. Die ewige toestand
Daar sal ‘n dag kom waarom onse Here Jesus Christus sal terugkeer na hierdie aarde. Op daardie dag sal Hy al die afgestorwe gelowiges saam met Hom bring (1 Thessalonicense 3:13; Judas 1:14). Hulle liggame sal opgewek word en die gelowiges wat nog lewe sal opgeruk word (die wegraping) en ons sal die Here in die lug ontmoet (1 Thessalonicense 4:16-17). Ek besef dat mense verskillende opinies het oor presies wanneer hierdie ‘wegraping’ sal plaasvind, maar daar is geen twyfel dat dit wel gaan plaasvind nie.
Na hierdie gebeure sal die finale oordeel plaasvind (Mattheus 10:15; 11:22, 24; Handelinge 17:30-31; Openbaring 20:11-15). Dit sal die oordeel wees van die regverdiges (gelowiges) en onregverdiges (ongelowiges). Elkeen wat nie in die Here Jesus Christus glo nie, sal geoordeel word in ooreenstemming met hulle werke en woorde (Romeine 2:3-8; Openbaring 20:12-13). Hulle straf sal die dood wees (ewige dood, of anders gestel, ewige ellende en verwydering van God se genade).
Ons moet egter besef dat die finale oordeel ook oor die gelowiges sal kom. Paulus verwys daarna in 2 Korintiërs 5:10 “Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad” (sien ook Mattheus 25:31-46 en Romeine 14:10, 12). Die gelowige hoef egter nie die ewige verdoemenis te vrees nie, omdat ons in Christus is. Ons sondes is vergewe terwille van Hom en daarom sê Paulus in Romeine 8:1 sal daar vir ons geen veroordeling wees wat in Christus is nie. In Jesus het ons reeds die ewige lewe, soos Hy self in Johannes 5:24 sê. Ons hoef in geen mate te vrees dat hierdie ewige rus van ons weggeneem sal word op daardie laaste dag as ons in Christus is nie, want Jesus het ons gekoop met Sy eie bloed, wat bevestig sal word op daardie dag deurdat ons in Hom die ewige rus sal ingaan.
Terwyl hierdie ‘n groot geleentheid vir elke mens sal wees, sal dit ook ‘n groot impak hê op die hele skepping. Die skepping wat ons nou sien kerm en kla in pyn in afwagting vir daardie dag waarop die kinders van God bekend gemaak sal word (Romeine 8:19-21). Op daardie dag, by Jesus se wederkoms, wanneer die kinders van God bekendgemaak sal word, sal hierdie hele skepping ook ‘hergebore’ word in ‘n nuwe skepping.
a. Die ewige rus van die gelowiges (Hemel)
Die hele skepping sal herskep word, dis waarna die Skrif verwys na die ‘nuwe hemele en nuwe aarde’. Dit sal ‘n hele nuwe fisies realiteit wees wat geskik sal wees vir ons nuwe verheerlikde liggame (Romeine 8:19-21). Hierdie nuwe liggame sal fisies bestaan, dit sal kan eet en drink (Lukas 22:18; Openbaring 19:9; 22:1-2) en dit sal kan rondbeweeg deur die strate in die stad (Openbaring 21:10-11, 21-26). Ek besef dat talle van die beskrywings in Openbaring waarskynlik simbolies is, wys hulle tog ongetywfeld op die feit dat ons ‘n fisiese bestaan sal hê in fisiese liggame.
Terwyl hierdie verheerlikde liggame wel fisies sal wees, sal hulle terselfdetyd ook onsterflik, kragtig en geestelik (m.a.w. gelei en bekragtig deur die Heilige Gees) wees. So sê Paulus byvoorbeeld die volgende in 1 Korintiërs 15:42-44 “So is ook die opstanding van die dode: daar word gesaai in verganklikheid, daar word opgewek in onverganklikheid; daar word gesaai in oneer, daar word opgewek in heerlikheid; daar word gesaai in swakheid, daar word opgewek in krag. ‘n Natuurlike liggaam word gesaai, ‘n geestelike liggaam word opgewek. Daar is ‘n natuurlike liggaam, en daar is ‘n geestelike liggaam.”.
Huwelike sal nie bestaan in die toekomsige era nie (Mattheus 22:30) en daar sal geen geslagsgemeenskap wees nie, want nuwe kinders sal nie gebore word nie. Aardse families sal vervang word met die wêreldwye familie van God. Vanuit Jesus se verhaal van Lasarus en die rykman en die dissipels se erkenning van Moses en Elia op die berg van verheerliking, is dit egter duidelik dat ons mekaar sal herken. Die ewigheid sal ook nie ‘n plek van minder intimiteit wees nie, maar van meer intimiteit in ons verhouding met God en met al die mede gelowiges deur alle eeue en uit elke nasie. Daar sal ook geen agterdog, vrees of afgunstigheid bestaan nie en ons sal openlik met mekaar gesels oor wie ons is, wat ons dink en wat ons kan doen. Hierdie intimiteit sal groter en heerliker wees as wat ons nog ooit beleef het.
Die boek Openbaring toon ons dat die meeste van ons tyd in aanbidding tot God spandeer sal word. Hierdie aanbidding sal twee vorme aanneem: eerstens sal daar tye wees waarin ons vergader rondom die troon van God in lofsang van Sy heerlikheid, maar tweedens sal daar ook, wat ek wil noem, innerlike aanbidding wees waarin ons ons liggame sal offer as heilige en God aanneemlike offers (Romeine 12:1-2). Maar ons sal ook ander dinge doen. Daar sal verseker baie dinge wees om te ondersoek en leer, en sien, en geniet. Die ewigheid sal verseker nooit vervelig raak nie.
Ons hoof fokus sal egter deurtentyd God wees. Ons sal ‘n oneindigende bewustheid hê van sy grootheid en goedheid wat alles sal oorheers (Openbaring 21:3-4; 22:3-4). ‘n Tempel sal nie daar wees nie, want God self en sy Lam is die tempel (Openbaring 21:22). Sodoende sal ons altyd direkte en intieme kontak met God hê.
b.Die Ewige straf van die ongelowiges (Hel)
Vir die wat nie in Christus glo nie wag daar ‘n geweldige ellende. Die Bybel is verseker nie stil oor die ellende wat op ongelowiges wag nie. Die Skrif is duidelik, elkeen wat nie in die Here Jesus Christus glo nie sal verdoem word (Johannes 3:18; 3:36). God se toorn rus op hulle.
Maar wat beteken dit dat God se toorn op hulle rus? Om iets hiervan te verstaan kan ons kyk na wat Eksodus 15 vertel van wat met die Egiptenare gebeur het nadat God sy volk deur die Rooisee gelei het. In Eksodus 15:6-7 vind ons ‘n beskrywing van die Egiptiese weermag se lot “o HERE, u regterhand is verheerlik deur krag. U regterhand, o HERE, verpletter die vyand. En in u grote hoogheid werp U diegene neer wat teen U opstaan. U stuur u toorngloed uit: dit verteer hulle soos ‘n stoppel.” Hierdie tipe beskrywings is volop in die Ou Testament maar is meestal gefokus op die ellende wat die vyande van God se volk in hierdie lewe sal tref, nie in die lewe wat kom nie.
Die volle straf op die godeloses sal egter nie ‘n tydelike straf in hierdie lewe wees nie, maar ‘n ewige straf in die lewe wat kom. Hiervan gee Hebreërs 10:26-27 byvoorbeeld vir ons ‘n beskrywing “Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie, maar ‘n verskriklike verwagting van oordeel en ‘n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer.” ‘n ewige oordeel van God wag op elkeen wat nie in Jesus Christus is nie.
Hierdie oordeel sal dan wees volgens die dade wat die godeloses in hierdie lewe verrig het (Hebreërs 9:27). Dit wil voorkom asof daar verskillende vlakke van straf vir die godeloses sal wees. Jesus sê in Mattheus 11:22 dat dit vir Tirus en Sidon meer draaglik sal wees as vir Gorasin en Betsaida. In Lukas 20:47 sê Jesus dat die Skrifgeleerdes ‘n swaarder oordeel sal ontvang. Dit stryk met die gedagte dat hulle straf sal wees in ooreenstemming met hulle dade. So sal iemand wat in onkunde sondig se straf ligter wees as een, soos ‘n Skrifgeleerde, wat weet wat reg is en steeds in sonde leef.
Daar is egter geen twyfel dat die Skrif toon dat die straf van die ongelowiges in die hel sal vir ewig duur nie. Net soos die seën van Christus se ‘skape’ ewig is, so sal die straf van die ‘bokke’ wat Hom verwerp het, ewig wees. (Matt. 25:41, 46; Mar. 9:43; Luk. 16:22-24, 28; Open. 14:11; 19:3; 20:10).
Daar is sommige wat glo dat die pyniging van die ongelowiges op een of ander stadium gaan ophou (Annihilisme), maar die Skrif is duidelik dat dit sal in ewigheid nooit ophou nie. Dit sal nie net die vuur van God se toorn wees wat ewig aanhou nie, maar hulle pyniging in dit sal ook vir ewig wees (Openbaring 14:11; 20:10). Dit is so dat die Bybel sê dat die bose ‘vernietig’ sal word, maar dit beteken nie annihilasie nie. Paulus sê byvoorbeeld in 1 Korintiërs 5:5 dat die gemeente ‘n sondaar uit die gemeente moet sit ‘tot verderf van die vlees’. Bedoel Paulus daardeur dat sy vlees tot niet sal gaan? Nee, in teendeel bedoel Paulus daar dat hierdie sondaar hom sal bekeer. As die Skrif dus praat van die vernietiging van die sondaar in die hel, bedoel dit nie dat hulle sal ophou bestaan nie, maar juis dat hulle vir ewig sal ly asgevolg van hulle sonde.
Die hel is uiteindelik ‘n ewig plek van pyniging en terwyl God inderdaad daar sal wees in sy toorn , sal God se genade en barmhartigheid van hulle weerhou word terwyl hulle die verdiende ewige straf vir hulle sonde sal ondervind.
Hierdie is ‘n pooging om Skriftuurlik te dink oor wat na die
dood gebeur, met die gelowige en met die ongelowige. Dit is seker moontlik om sekere tekste anders
te verstaan as wat ek dit verstaan het, solank dit Bybels geinterpreteer
word. Ek verstaan self nie alles nie en
God het ook nie alles wat daar is aan ons geopenbaar nie. Die menslike verstand kan ook net verstaan
wat vir dit moontlik is om te begryp en sodoende is hierdie nie ‘n pooging om
volledig en finaal oor die saak te praat nie. Uiteindelik is dit wat die hemel
hemel gaan maak, die teenwoordigheid van God in sy onbeperkte genade, en wat
hel hel gaan maak is die teenwoordigheid van God se toorn sonder enige genade
of barmhartigheid. Ons opgewondheid oor
die hemel moet primêr gedryf word deur ‘n rykhalsende verlange om by Hom te
wees.
ds. Leon Harmse
Die leraar van Sunwardpark Baptistekerk
.png)