Misverstande
rondom die gebeure by die leë graf.
Met Paastyd wat onlangs verby is wil ek graag, op versoek van iemand, iets skryf oor die skynbare teenstrydighede wat deur sommige opgebring word oor die opstandigsgebeure by die graf. Ek is seker dat ander ook al van hierdie skynbare teenstrydighede gehoor het, soos ek het, of dat sommige van julle miskien ook al self oor hierdie dinge gewonder het. Ek wil julle verseker dat daar in werklikheid geen rede is om oor die waarheid van enige van die opstandings weergawes te twyfel nie en dat daar ‘n logiese verklaring vir alles is wat blyk om teenstrydig is. Dit is my pooging om deur hierdie skrywe daardie skynbare teenstrydighede op te klaar.
Die volgende is die drie vrae toon die skynbare
teenstrydighede wat genoem word aangaande die opstandingsgebeure:
1. Hoeveel vrouens was by Jesus se graf?
Met ‘n eenvoudige lees van die verskillene evangelies se weergawes van die vrouens by Jesus se graf na sy opstanding vra sommige oor presies hoeveel vrouens daardie oggend by die graf aangekom het. Hier is ‘n opsomming van wat die vier evangelies sê:
·
Johannes 20:1 – Maria Magdalena
·
Mattheus 28:1 – Maria Magdalena en die ander
Maria (verwysend na Jakobus se moeder)
·
Markus 16:1 – Maria Magdalena, Maria die moeder
van Jakobus en Salome
· Lukas 24:1 & 10 - Maria Magdalena, Johanna, Maria die moeder van Jakobus, en ander vroue.
Was daar een vrou, twee vrouens, drie vrouens of meer as drie?
Johannes noem net Maria Magdalena en geen ander vroue se name nie. As jy egter die volgende vers versigtig lees, sien jy dat Johannes geweet het dat daar ander saam met Maria Magdalena was. Johannes 20:2 sê “Sy hardloop toe en kom by Simon Petrus en by die ander dissipel vir wie Jesus liefgehad het, en sê vir hulle: Hulle het die Here uit die graf weggeneem, en ons weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.” Let op dat Maria Magdalena vir Petrus sê “en ons weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.” Sy sê ‘ons’ weet nie… So duidelik was sy nie alleen nie, daar was ander saam met haar. Al noem Johannes nie hulle name nie, was hulle daar.
Lukas noem drie name, Maria Magdalena, Johanna en Maria die moeder van Jakobus. Maar Lukas vertel ons dat daar ander vroue ook was. Onder hierdie vroue was onder andere ook Salome van we Markus praat. Waarom neem ons aan dat die evangelieskrywers ‘n voledige lys van al die vrouens se name sou gee? Nie een van hulle sê spesifiek dat die vrouens wat hulle lys die enigstes was daar was nie. Lukas maak dit duidelik dat daar meer as vier daar was. Daar was dus meer as wat enige van die evangelies by name noem.
As ek sê, ‘Ek en my suster het gisteraand iemand wat ons ken in die winkel gesien’ beteken dit nie dat dit net ek en my suster was wat winkel toe gegaan het nie. Dit is heeltemal moontlik dat al vyf my suster se kinders saam was, of sommige van hulle saam was. Dis moontlik dat hulle almal die persoon gesien het, dat hulle almal die persoon geken het, of dat ek en my suster die persoon geken het, maar geen van die kinders nie. Maar die feit dat ek hulle nie spesifiek noem nie, beteken nie dat hulle nie daar was nie. Ons weet dat daar volgens Lukas minstens vyf vroue daar moes wees, maar daar kon selfs meer gewees het, hulle name is net nie genoem nie.
Daar is geen teenstrydigheid hier nie. Ons weet dat sekere vroue daar was, naamlik, Maria Magdalena, Maria die moeder van Jakobus, Salome en Johanna. Ons weet ook dat daar minstens nog een ander vrou was, daar kon selfs meer as dit gewees het. Hulle name word nie genoem nie, maar dit beteken nie hulle was nie daar nie.
‘n Moontlike verklaring is dat die
onmiddelike lesers van die onderskeie evangelieskrywers bekend was met van
hierdie vroue maar nie met ander nie.
Dit kan ‘n moontlike verduideliking wees hoekom die verskillende
skrywers verskillende name genoem het. As ons met eerlike intensies hierdie
verskille ondersoek vind ons dat tenspyte van die skynbare verskille daar geen
teenstrydigheid bestaan nie.
2. Het die vroue die graf oop of toe gevind toe hulle daar aankom?
Die evangelies van Markus, Lukas en Johannes sê dat die vrouens die graf oop gevind het toe hulle daar aankom. In Mattheus 28 blyk dit egter asof die graf nog toe was toe die vrouens daar kom.
Ek wil begin deur te sê dat Mattheus 28:1 nie vir ons sê of die graf oop of toe was toe die vrouens daar gekom het nie. Die afleiding dat die graf nog toe was word gemaak opgrond van dit wat vers 2 sê. Vers twee sê dat daar ‘n aardbeding was omdat ‘n engel van die Here uit die hemel neergedaal het en die steen kom wegrol het. Hoe verduidelik ons hierdie verskil tussen Mattheus se evangelie en die ander?
Ons neem gewoonlik aan dat verse wat op mekaar volg ook in kronologiese volgorde volg maar dis nie altyd die geval nie, en is ook nie hier die geval nie. Vers 2-4 gebeur voor vers 1. Toe Maria Magdalena en die ander by die graf kom het die gebeure van vers 2-4 reeds gebeur.
In vers 2 sê dit ‘WANT ‘n engel van die Here het uit die hemel neergedaal’ Daardie woord ‘want’ is ‘n hoofdeelwoord in verlede tyd in die Grieks. Dit beteken dat verse 2-4 die vooraf gebeure bied wat dit wat die vroue by die graf gevind het verduidelik. Met ander woorde, hulle het by ‘n oop graf gekom, want daar was ‘n aardbewing omdat ‘n engel van die Here uit die hemel neergedaal het en die steen van die opening weggerol het. Om Mattheus se weergawe dus kronologies te lees moet ons vers 2-4 voor vers 1 plaas en dan is die teenstrydigheid opgeklaar. Soos al die ander evangelies sê Mattheus ook vir ons dat die graf oop was toe die vroue daar gekom het. Mattheus verduidelik net vir ons hoe die graf oopgemaak is.
Dit laat miskien nog ‘n vraag: Hoe
het Mattheus geweet dat die wagte ‘uit vrees…gebewe en soos dooies geword’ het
of dat die engel van die Here daar was of van die aardbewing? Terwyl ons nie
met sekerheid kan weet wie vir Mattheus vertel het nie, sou hierdie wagte
verseker nie hieroor stilgebly het nie.
Die wagte het moontlik self vir Mattheus hiervan vertel of hulle het
ander vertel by wie Mattheus dit gehoor het, ons weet nie. Maar die feit is, die vrouens het, soos al
die ander evangelies ook sê by ‘n oop graf gekom en Mattheus se weergawe sê dit
ook. Daar is geen teenstrydigheid
hieroor nie.
3. Het die vroue een man, twee mans of twee engele by die graf gesien?
Die hoeveelheid persone wat die vroue by die graf gesien het, en of hulle mans of engele was is nog ‘n area waar dit blyk asof daar verskille tussen die onderskeie evangelies te wees. Kom ons kyk weereens na elke evangelie se weergawe:
·
Markus
16:5-6 “En toe hulle in die graf ingegaan het, sien hulle ‘n jongman, met ‘n
lang wit kleed om, aan die regterkant sit, en hulle het baie geskrik. En
hy sê vir hulle: Moenie verskrik wees nie. Julle soek Jesus die Nasaréner wat
gekruisig is. Hy het opgestaan. Hy is nie hier nie. Dáár is die plek waar hulle
Hom neergelê het.”
·
Mattheus
28:5 “Maar die engel antwoord en sê vir die vroue: Moenie vrees nie, want ek
weet julle soek Jesus wat gekruisig is.”
·
Lukas
24:4 “En terwyl hulle hieroor in verleentheid was, staan daar twee manne by
hulle in blink klere.”
·
Johannes
20:11-13 “Maar Maria het buitekant by die graf gestaan en ween; en terwyl sy
ween, buk sy na die graf toe en sien twee engele daar sit met wit klere
aan, een by die hoof en een by die voete waar die liggaam van Jesus gelê
het. En hulle sê vir haar: Vrou, waarom ween jy? Sy antwoord hulle: Omdat
hulle my Here weggeneem het, en ek weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.”
Engele het by talle geleenthede in die Bybel aan mense verskyn. Sommige van hierdie verskynings vertel ons iets wat behulpsaam is vir die verstaan van ons blykbare probleem in wat by die oop graf gebeur het.
Genesis 18:1-2 “Daarna het die HERE aan hom verskyn by die terpentynbome van Mamre terwyl hy by die ingang van die tent sit op die warmste van die dag. Toe hy sy oë opslaan en kyk, staan daar drie manne voor hom. En toe hy hulle sien, loop hy hulle tegemoet van die ingang van die tent af en buig hom na die aarde toe.” Hier sê die teks dit was 3 manne, maar in Genesis 19:1 word dit duidelik dat dit nie manne was nie, maar engele.
Genesis 32:22-32 is die verhaal waar Jakob met ‘n man
gestoei het. Uit Hosea 12:4 word dit egter duidelik dit was nie ‘n man nie,
maar ‘n engel.
Josua 5:13-15 Josua noem die ‘leerowerste van die Here’
hier ‘n man, maar dit is natuurlik ‘n engel.
Rigters 13:9-10 hier word dieselfde persoon eers ‘engel
van die Here’ en dan ‘n ‘man’ genoem.
Daniel 10:16-18 beskryf ‘n engel wat aan hom verskyn het as ‘een
wat soos ‘n mens lyk’
Hebreërs 13:2 leer ons om gasvryheid teenoor ‘vreemdelinge’ te betoon omdat sommige sodoende ‘engele as gaste geherberg’ het.
Wanneer ‘n mens na hierdie tekste
kyk is dit duidelik dat talle persone engele as mense misken het omdat dit
voorkom dat engele, anders as die populêre siening, uit die Bybel blyk om net
soos gewone mense te lyk as hulle verskyn.
Dit los dan die probleem op of dit mans of engele was, dit was engele,
maar hulle het verskyn om te lyk soos mans.
Dit laat ons met die vraag of daar een of twee engele was. Dis interesant dat beide Mattheus en Markus fokus op die woorde wat deur die engel gesê is en dis hulle wat verwys na net een engel. Lukas en Johannes wat verwys na twee fokus nie op wat die engel gesê het nie, maar hulle teenwoordigheid daar. Die feit dat Mattheus en Markus nie verwys na die ander engel nie, beteken nie dat hy nie daar was nie, hy het net niks gesê nie en dis waaroor hulle skryf, die engel se woorde.
Daar is geen hopelose teenstrydighede in die vertelling van die opstandingsgebeure in die Bybel nie. Daar is ‘n verklaarbare antwoord op dit wat skynbaar teenstrydig is. Die mees eenvoudige Bybelstudent behoort meeste van hierdie onduidelikhede te kan opklaar en die Here het on sook nie sonder die hulp van mede gelowiges met meer begrip gelaat nie.
Gelowiges behoort en hoef nie met kritiese oë na die Skrif te kyk nie want dit wat daarin staan is waar. Vir dit wat blyk om teenstrydig te wees is daar ‘n verklaarbare en realistiese antwoord. Die Bybel het die toets van tyd deurstaan, dit is meer as tweeduisend jaar oud en staan nogsteeds vas as waar. As jy egter onseker of onduidelik oor iets is, is dit belangrik om egter te vra want vir enige iets wat blyk om teenstrydig in die Skrif te wees, is daar ‘n logiese verduideliking.
ds. Leon Harmse
Leraar van Sunwardpark Baptistekerk
.jpg)