Spandeer geld vir God se eer
Iemand in die gemeente het my gevra om raad te gee oor hoe ons God moet eer met ons finansies, daarom hierdie skrywe.
Alles wat ons het kom van die Here en is ‘n geskenk van Hom
om gebruik te word vir Sy eer. Daarom
behoort jy jou geld te spandeer volgens Sy wil.
1. OnBybelse motiverings
Baie mense spandeer onnadenkend hulle geld op die dinge wat vir hulle belangrik is. Baie keer spandeer selfs gelowiges hulle geld op onBybelse maniere:
a.Moenie spandeer om ‘n identiteit te skep nie
Om geld te spandeer om tred te hou met ander (Keeping up with the Jones’); te spog; jou skuldgevoel te verlig; ander ‘n beter indruk van jou te gee; of belangrik of geliefd te voel, is nie tot eer van God nie. Jy het reeds ‘n identiteit in Christus. Jy is aangeneem as God se kind en is ‘n erfgenaam van die ewigheid, waarom sou jy geld spandeer op ‘n sinnelose identitiet buite dit? Jou spandering van geld moet ooreenkomstig jou identiteit in Christus wees. So jy moet God eer in hoe jy jou geld spandeer. 2 Korintiërs 5:17 “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.”
b.Moenie spandeer om sekuriteit te bekom nie
As jy geld spandeer om finansiele onafhanklikheid te bereik of die lotto te speel of te dobbel eer jy God nie met jou geld nie. Jou sekuriteit moenie in geld of besitting wees nie maar in Christus. God sal jou nooit begewe of verlaat nie en niks sal jou van Sy liefde skei nie.
Jy moet egter jou geld met wysheid en insig spandeer want jou geld is een van die manier waarop God vir jou te sorg en jou veiligheid te verseker. Jy moet jou geld wys bestuur, geld spaar en belê (meer hieroor later). Jou geld is nie jou eie om meë te maak wat jy wil nie, God het dit aan jou gegee om aan te wend vir Sy eer. Jakobus 1:17 “Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie.”
c. Moenie spandeer om vreugde te vind nie
Jou blydskap moet nie gevind word in besittings, ontspanning of plesier nie, maar in die Here. Vakansies, karre, klere, toerusting is dinge wat nie ‘n proriteit moet word in jou begroting nie want terwyl hierdie dinge met tye nodig word en vervang moet word, moet ons nie behep raak en meer daaruit put as waarvoor dit bedoel is nie. Want die volheid van jou blydskap behoort in God te wees. Psalm 16:11 “U sal my die pad van die lewe bekend maak; versadiging van vreugde is voor u aangesig, lieflikhede in u regterhand, vir ewig.” As jou vreugde in blydskap gekoop kan word deur geld is dit van min waarde, maar as Christus jou blydskap is, is dit onbeskryflike vreugde wat vir ewig is.
Paulus leer in Filippense 4 dat
ons tevrede moet wees in alle omstandighede, en sê dan “Nie dat ek dit uit gebrek sê nie,
want ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek
is. Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê; in elke
opsig en in alle dinge is ek onderrig: om versadig te word sowel as om honger
te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. Ek is tot alles in staat
deur Christus wat my krag gee.” (11-13)
In die hede wees tevrede met God, in die toekoms vertrou God, Hy sal ons
behoeftes bevredig terwyl ons geroep word om Hom te dien in hoe ons elke sent
spandeer.
2. Beginsels om spandering te reguleer
Wat is die beginsels was die gelowige moet reguleer wanneer jy geld spandeer?
a.Als wat jy het is ‘n gawe van God
Ek het reeds hierna verwys maar dis nodig om dit hier weer te noem, jou geld is nie jou eie nie, dit is God se gawe aan jou om gebruik te word vir Sy eer. Dit beteken nie noodwendig jy moet als verkoop en als vir die armes of kerk gee nie. Dit beteken egter jy moenie vas hou aan jou geld asof dit jou identiteit, sekuriteit en vreugde is nie. Jy moet bereid wees om dit te gebruik om God te eer. Jy moet dit nie vashou, mors of misbruik nie, maar dit met wysheid spandeer.
b.Bestuur jou spandering
Niemand van ons het onbeprekte inkomste nie en daarom moet jy dink voor
jy enige geld spandeer. Onthou: As jy R
100 vir sending gee, het jy miskien R 100 minder vir kos. As jy R 100 spandeer om uit te eet, het jy R
100 minder om ‘n vriend in nood te help.
Die punt is, waarop jy ookal geld spandeer, jy moet wysheid aan die dag
lê. ‘n Goeie saak is net goed as dit nie
‘n belangriker saak in die wiele ry nie. As ons ongedissiplineerd is in hoe ons
geld spandeer is dit nie tot eer van God nie.
Daarom is dit belangrik om te begroot. Deur te begroot kan jy bepaal wat is waarvoor beskikbaar en hoeveel jy het om te spandeer op watter sake. ‘n Begroting is ‘n instrument wat jou moet help om God te eer met jou finansies.
c. Bid voor jy spandeer
Ek sê nie jy moet in die gang by die winkel staan en bid oor of jy iets moet koop of nie. Ek sê nie jy moet vir die boemelaar vra om eers te wag sodat jy kan bid oor hoeveel jy vir hom kan gee, indien enige iets nie. Ek bedoel gebed behoort deel uit te maak van jou hele bestuur van jou geld.
-
Dank die Here wanneer jou salaris of inkomste
inbetaal word
-
Bid vir wysheid om volgens Sy wil te begroot
-
Bid vir goedhartigheid en onderskeidingsvermoë
om te gee waar nodig
-
Bid vir selfbeheersing om te hou by dit wat God
eer.
-
Erken jou diepe afhanklikheid van God
- Vra vir genade waar jy tekort het.
d.Gee volgens God se wil vir jou
Nie
almal van ons het dieselfde vermoë nie.
Sommige oorleef net elke maand, ander het genoeg of selfs meer as
genoeg. Maar God se verwagting is ook
nie dieselfde van almal van ons nie. In
Markus 10:17-31 vind ons die verhaal van die ryk jongman. Hy begeer die ewige lewe en vertel hoe hy die
gebooie onderhou. Jesus vra van hom al
sy besittings te verkoop en die geld aan die armes te gee en dan te kom om
Jesus te volg. In Lukas 19:1-10 Soek
Saggeus, ‘n baie ryk man, die Here en terwyl hy bereid is om baie te gee vir
die armes, vereis Jesus niks van Hom nie.
In 1 Timoteus 6:17-19 vra Paulus sonder enige vereiste dat die rykes
goedhartig teenoor die armes moet wees.
Wat duidelik is, is dat God se verwagting van ons almal verskillend is
en dat jou gee aan ander ‘n saak van gebed behoort te wees. God se wil vir een persoon is nie dieselfde
as sy wil vir ‘n ander nie. Maar
Handelinge 5 leer ons dat as ons hart voor God voorgeneem het op ‘n bepaalde
gawe, dat ons dit sal eer.
3. Riglyne vir spandering
a.Offergawe
Daar is baie opinies deur verskillende mense van hoeveel jy vir die werk van die Here moet gee. Paulus leer ons in 2 Korintiërs 9:7 “Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief.” Terselfdetyd prys Paulus die gemeente in Macedonië “Want hulle was na vermoë – ek betuig dit – ja, bo vermoë gewillig.” Wat blyk dat sommige in die gemeente gegee het ‘na vermoë’ terwyl ander gewillige ‘bo vermoë’ gegee het. Hiervolgens blyk dit duidelik dat dit ‘n saak is wat elke gelowige met God self moet uitmaak in gebed. Die verwagting is dat ons sal gee, tenminste volgens vermoë, sonder dwang of droefheid, maar met blydskap, as ‘n offer aan God.
b.Plesier
Terwyl ons vreugde in die Here moet wees en ons nie ons vreugde in ander dinge moet soek nie, beteken dit nie ons mag nie geld op plesiere spandeer nie.
Paulus sê in 1 Timoteus 6:17 “Beveel die rykes in die teenwoordige wêreld om nie hoogmoedig te wees nie en ook nie hulle hoop te stel op die onsekerheid van die rykdom nie, maar op die lewende God wat ons alles ryklik verleen om te geniet.” Hoogmoed moet ons nie dryf in waarop ons spandeer nie, ook moet ons nie ons hoop in rykdom stel nie, maar God het aan ons ‘ryklik verleen om te geniet’. Hierdie kan maklik misverstaan word, maar dit wys dat God soms vir ons meer as die noodsaaklike gee en dan mag ons, minstens van dit, spandeer op dinge wat ons geniet solank dit nie God oneer nie. Die eerste deel van die vers waarsku egter indirek teen uitspattigheid of onverskilligheid.
c. Versekering
Spreuke 22:3 maak ‘n intersante stelling “‘n Skrander mens sien die onheil en verberg hom, maar die eenvoudiges gaan verder en word gestraf.” Die beginsel is dat ‘n wyse mens sien die gevaar en beskerm homself teen dit, terwyl die dwase mens in die gevaar inloop. Met ander woorde, enige iemand wat in Suid Afrika bly, en instaat is om dit te bekostig, behoort versekering te hê. Dit sluit kar; huis; lewens versekeringe en mediesefonds in. ‘n Goeie vriend het eenmaal gesê om nie versekering te hê terwyl jy dit kan bekostige nie, is om God nie te eer nie, want jy het ‘n verantwoordelikheid om ‘n goeie rentmeester te wees van dit wat God jou gegee het. Natuurlik is dit ongelukkig nie in almal se vermoë om versekering te hê nie, maar waar dit moontlik is behoort dit ‘n prioriteit te wees.
d.Beleggings
‘n Rand uit my beursie vandag, is ‘n Rand minder vir more. En ‘n Rand gespaar kan in die toekoms vermenigvuldig. Elke Rand wat jy vandag spandeer beteken jy het nie daardie Rand om more te spandeer nie. Wat ek met beleggings bedoel is enige manier om geld te bewaar vir toekomstige voordeel. Daaronder val dinge soos: Goeie opvoeding (vir jou of jou kinders); Mediesefonds; Pensioenfonds; Begrafnispolis; Huis; Spaarfonds vir iets belangrik.
Beleggings soos ons dit ken is ‘n moderne konsep wat nie in die Bybel gevind word nie, maar daar is Bybelse beginsels wat toepaslik is. In Markus 12, koop ‘n boer ‘n land, plant ‘n wingerd, omhein dit, grou ‘n pit en sit ‘n wagtoring op. So wat maak hy, hy gebruik geld om in die toekoms ‘n opbrengs te kry wat beteken hy vermeeder sy geld vir die toekoms. In Spreuke 21:20 bêre iemand ‘n kosbare skat en olie in sy huis wat later vir ‘n wins verkoop kan word, dit was ‘n tipiese ‘spaar vir jou oudag’ onder die Jode.
Ons vertroue moet altyd in die Here bly, maar as ons God moet eer in hoe ons ons geld spandeer moet ons in ons spandering ook dink aan ons oudag en hoe ons God dan gaan eer. As God genoeg voorsien dat jy voorsiening vir jou oudag kan maak moet jy, dis sy voorsiening vir dan.
Opsommend:
Geld kan nie vir ons koop wat ons reeds in Christus het nie. Ons het ons identiteit in Hom, ons het ons sekuriteit in Hom, ons het ons vreugde in Hom. Elke sent wat ons het is deur God aan ons gegee met die doel dat ons Hom sal eer in hoe ons dit spandeer (of nie spandeer nie). Daar is noodsaaklike dinge waarop ons moet geld spandeer, daar is belangrike dinge waarop ons geld moet spandeer, en as daar enige iets oorbly moet ons werklik besin hoe kan ons God die beste eer met dit wat Hy ons oorvloedig geskenk het. Terwyl ons nie ons hoop in geld of besittings moet plaas nie, is dit noodsaaklik dat ons, so ver dit moontlik is, ons eiendom sal beskerm en vir ons toekoms sal sorg terwyl ons altyddeur ons afhanklikheid van God ter harte neem.
ds. Leon Harmse
Leraar van Sunwardpark Baptistekerk
.jpg)