Search This Blog

Afrikaans (28) English (27)

05 April 2024

Wees ‘n Christen in die werkplek

 


Wees ‘n Christen in die werkplek 

Meeste van julle spandeer ‘n groot deel van julle week by die werk.  Ons is nie deeltydse Christene nie en dit beteken jou Christenskap moet jou werk beinvloed.  Wat is die ‘ruik’ wat jy by die werk agterlaat, is dit die ‘geur van Christus’ of die ‘stank van die wêreld’?  Die vrug van die Gees moet ook in jou werksplek gesien word Liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.” Galasiërs 5:22 

Kom ons kyk na praktiese maniere om die ‘geur van Christus’ in die werksplek te versprei:

 

1. Wees altyd op tyd  

Stiptelikheid getuig dat jy jou werkgewer respekteer.  Daarom behoort jy altyd op tyd te wees vir werk.  1 Timoteus 6:1“Almal wat diensknegte is onder ‘n juk, moet hulle eie here alle eer waardig ag, sodat die Naam van God en die leer nie belaster mag word nie.” Terwyl ander miskien laat mag wees, behoort ‘n Christen altyd op tyd by die werk op te daag.  

Terselfdetyd moet jy nie van jou werk ‘n afgod maak nie, en daarom behoort jy ook op tyd te loop.  Werkgewers verwag baie keer meer as hulle pond vleis en dit vra ekstra ure, of miskien wil jy ekstra ure werk om ‘n goeie indruk te los, of jy bring miskien werk huis toe.  Die gelowige moet leer om sy tyd goed te bestuur en om werk by die werk te los binne werksure, anders ly jou gesinslewe, stiltetyd, en gesondheid daaronder.  In jou werksure wees voluit in jou werk en los jou werk daar, moenie jou werk ‘n afgod maak nie.  Jou werksure is in jou kontrak bepaal en jy en jou werksgewer behoort daarby te hou.

 

2. Werk soos vir die Here 

Nadat Paulus die gemeente aangemoedig het om altyd die gemeenskaplike goed van almal te soek leer hy ons iets wat jou werksomstandigheid kan tranformeer:  1 Thessalonicense 5:16-18 “Wees altyddeur bly. Bid sonder ophou. Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.” Die werksplek kan ‘n frustreerende plek wees met baie druk, moeilike mense en ongenadige base, maar die gelowige moet deurentyd poog om ‘n positiewe gesindheid uit te straal.  Wees bly, bid sonder ophou, wees dankbaar, hierdie drie beginsels moet jou help om nie soos ander negatief te wees selfs in krisistye of uitsonderlik druk nie.  Fokus daarop om ‘n ‘geur van Christus’ uit te leef deur jou beste te gee en die resultate in die Here se hande oor te laat.

Ons vergeet baie keer dat ons alles moet doen soos vir die Here, ook ons werk.  Die Here is jou Hoof Bestuurder by die werk, jy werk vir Hom.  Dit vra dat jy daarom altyd jou heel beste sal gee.  Spreuke 16:3“Laat jou werke aan die HERE oor, dan sal jou planne uitgevoer word.” Een wat vir God werk, word nie oorweldig deur vrees nie, het niks wat hy wil wegsteek nie, en probeer nie iets aan iemand bewys nie.  Iemand wat vir die Here werk spandeer al sy energie om goeie werk te lewer asof vir die Here. Hy is eerlik en werk met intergriteit want hy wil God eer. Luister na wat Efesiërs 6:5-8“Diensknegte, wees gehoorsaam aan julle here na die vlees, met vrees en bewing, in opregtheid van julle hart, soos aan Christus; nie met oëdiens soos mensebehaers nie, maar soos diensknegte van Christus wat die wil van God van harte doen en met goedwilligheid die Here dien en nie mense nie, omdat julle weet dat elkeen vir die goeie wat hy doen, loon van die Here sal ontvang, of hy ‘n slaaf is of ‘n vryman.” 

 

3. Werk as ‘n Christen 

Is jou werksetiek en ywer ‘n getuienis daarvan dat jy ‘n gelowige is?  Jou werksplek is die plek waar jy in die week die meeste tyd tussen ongelowiges is en juis hier behoort mense jou andersheid te kan sien in hoe jy werk en wat jy voor staan en nie staan nie.  

As jou jouself handhaaf soos ongelowiges hulle handhaaf dan lewer dit geen getuienis van jou geloof nie.  Jy moet jou beste gee en opstaan vir wat reg is en weerstaan wat verkeerd is. Jy moet selfs bereid wees om ernstige verkeerde gedrag van ander te raporteer selfs al kom dit teen koste.  Jy kan nie ophou om ‘n Christen te wees want ander om jou is nie Christene nie, dis juis wanneer jou lig moet skyn. Onthou Kolossense 3:17 “En wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.” 

 

4. Glo die Here is werklik soewerein 

Ons kan so maklik oorweldig word onder druk of wanneer omstandighede skielik sonder waarskuwing verander.  Dan kan ons maklik kla en mor of angstig word omdat ons nie weet wat gaan vorentoe gebeur nie, of omdat ons nie weet of ons die druk sal kan hanteer nie.  Andersin kan die druk ons baie geirriteerd maak en ons is kortaf en moeilik.  Wat ons moet onthou is dat die Here is steeds soewerein, selfs in ons werksplek.  ‘n Negatiewe houding, ‘n angstige benadering, ‘n ontevredenheid oor omstandighede toon dat jy vergeet het wie werklik in beheer is.  Wees gefokus, werk hard, lewer jou beste en vertrou dat die Here die situasie sal lei soos dit moet wees.

 

5. Bid vir jou medewerkers 

Meeste van jou medewerkers is waarskynlik ongelowiges, so hoe moet jou benadering tot hulle wees?  Jesus leer ons in Mattheus 5:43-45 “Julle het gehoor dat daar gesê is: Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand moet jy haat. Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg; sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is; want Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges.”   Bid jy vir jou medewerkers? is jy ‘n lig vir hulle deur jou optrede? 

Jou medewerkers gaan deur moeilike omstandighede, by die werk en by die huis, is jy daar om hulle te bemoedig en vir hulle te bid? Wat is jou gesindheid teenoor hulle wat in sonde leef, anders na die lewe kyk, en soms moeilik met jou is?  Hier by die werk is jy op ‘n sendingveld en jou gesindheid teenoor hulle behoort liefdevol te wees, sonder om verkeerde gedrag goed te keur.  Jou werksmense behoort gereeld deel te wees van jou gebedslys. 

 

6. Getuig by die werk 

In meeste gevalle is dit deesdae onaanvaarbaar om oor jou geloof in die werksplek te praat, maar Petrus leer ons hoe ons wel so geleentheid kan skep: 1 Petrus 3:15 “Maar heilig die Here God in julle harte en wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is, met sagmoedigheid en vrees;” As jy goeie werk lewer en jou lewe is ‘n goeie getuienis in die werksplek, mag mense jou andersheid opmerk en dit skep dan geleentheid vir jou om te getuig van die hoop wat in jou is.  Jou getuienis moet nie net woorde wees nie, maar jou gesindheid en jou werkswyse behoort iets te vertel van jou Christenskap. Sommige werksplekke en omstandighede in die werksplek laat toe dat jy vrylik kan getuig en dan behoort jy so ‘n geleentheid aan te gryp. 

 

7. Moenie gaan voor jy gaan nie 

Jou werksomstandighede en werksplek is miskien nie ideaal vir ‘n gelowige nie, maar dit is die plek waar jy jouself op die oomblik bevind en daarom moet jy steeds jou Christelike getuienis handhaaf.  In die tyd waarin ons leef is min werksplekke ideaal vir gelowiges en ons moet besef die meeste mense dink en doen anders as wat ons doen.  Dit mag wees dat jy opsoek is na ander werk, of dalk reeds ander werk het. Solank as wat jy by die maatskappy werk vir wie jy werk, moet jy jou heel beste gee.  Jou gesindheid teenoor jou werkgewer moet altyd dankbaarheid toon en respek want God sorg vir jou deurmiddel van jou werkgewer, wat sodoende ‘n dienaar van God is vir jou voordeel.  Selfs na jy weg is, moet jy altyd met respek en eer na hulle verwys, terwyl jy nie daardeur blind is vir hulle verkeerde gedrag nie.  Onthou die woorde van Filippense 2:3-4 in jou houding teenoor jou werkgewer “Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n.”

 

  

Om te werk is ‘n noodsaaklikheid.  Dit is vir meeste van ons die manier waarop die Here vir ons daaglikse behoeftes (en soveel meer) voorsien.  In die werksplek is ons omring deur ongelowiges wat anders ding en doen as ons.  Ons werk vir bestuurders wat onrealistiese verwagtinge aan ons mag stel.  Kom ons vergeet nie dat ons eintlike ‘baas’ is nie jou bestuurder by die werk nie, maar die Here in die hemel. Lewer daarom altyd jou beste en gedra jouself altyd soos dit ‘n gelowige betaam.  Vertrou die Here in alles en dan sal Hy jou ondersteun en help om in jou werksplek dit te bereik wat reg is.  Wees ‘n ‘geur van Christus’ en Hy sal jou eer vir jou troue diens aan Hom.

ds. Leon Harmse

Leraar van Sunwardpark Baptistekerk.