Die Christen en sosiale media
Ons leef in ‘n era waarin sosiale media ‘n groot realiteit
is en dit blyk nie of dit vinnig gaan verdwyn nie, maar eerder gaan
toeneem. Dit vra dat ons as gelowiges
hieroor moet besin en te kyk of dit goed of sleg is. Daar is verseker voordele aan sosiale media,
maar daar is ook baie nadele en dan is daar ook die kwessie van hoe ons onsself
daar gedra. Dit is in kort die kwessies
waarna ons gaan kyk.
1. Voordele van sosiale media
a.Verkondiging
Kort voor die Covid pandemie het ons begin om preke op te neem en op YouTube te plaas en ons was baie dankbaar vir hierdie platform toe ons asgevolg van die pandemie nie by mekaar kon kom nie. Van daardie tyd af word al ons preke steeds op ons YouTube blad geplaas en bereik dit mense wat nie in ons gemeente is nie. Ek weet van minstens een persoon vir wie daar nie ‘n goeie kerk in hulle omgewing is nie, wat weekliks na ons preke luister. Ook talle van die in ons gemeente wat siek is kan ‘aanlyn’ na ons preke luister (1 Korintiërs 9:19-23; 1 Petrus 3:15). Terwyl dit nooit ‘n plaasvervanger kan word vir die gemeenskap van die gelowiges nie, is dit tot hulp vir persone wat nie by die kerk kan uitkom nie.
Dit is ook tot seën vir mense wat wel na ander kerke gaan maar addisionele Christelike lering soek. Ek luister byvoorbeeld gereeld na preke van ander predikers deur die loop van die week en vind dit geestelik opbouend.
b.Bemoediging
Terwyl dit nooit direkte kontak of selfs ‘n telefoonoproep kan vervang nie, is dit ‘n goeie manier vir gelowiges om mekaar te kan bemoedig (1 Thessalonicense 5:11). Wanneer iemand siek is, of wanneer iemand deur ‘n beproewing gaan kan gelowiges mekaar bemoedig deur gebruik te maak van sosiale media (Galasiërs 6:2). WhatsApp is hiervoor uitsonderlik behulpsaam want dit bied ‘n privaat platform om met iemand te gesels.
Baie mense is al bemoedig deur ‘n boodskap of ‘geselsie’ op WhatsApp by ‘n geleentheid waar persone nie by mekaar kan uitkom op daardie spesifieke oomblik nie.
c. Kontak
‘n Mens kan baie makliker kontak hou met familie of vriende wat ver van jou af bly en wie jy daarom nie gereeld kan sien nie (Spreuke 27:10). Fotos kan gedeel word en lief en leed kan gedeel word deur die gemak van ‘n selfoon. Nie net WhatsApp is hiervoor behulpsaam nie, maar ook FaceBook en sommige ander platforms.
d.Informasie
Jy kan groepe en bladsye skep om inligting oor byeenkomste, reëlings en planne vinnig aan al die betrokke persone deur te gee.
Inligting oor ons kerk kan wyd bekend gemaak word deur gebruik van publieke platforms soos FaceBook, YouTube, Instagram ens. Jy kan ‘n groep stig vir familie of vriende of enige groepering van mense en hulle op hoogte hou van belangrike sake. Een area waar dit baie keer behulpsaam is is by die siekte van ‘n familielid of vriend.
e. Christelike material
Individuele Christene mag miskien nie die vermoë hê om self ‘n Christelike boodskap elke dag te tik nie, maar hulle kan ‘n boodskap, ‘n preek, ‘n prentjie stuur wat vir ander ‘n bemoediging kan wees. Ek weet van talle persone wat dit doen en van talle wat ook gereeld daardeur bemoedig word, ek self ook.
f. Ontspanning
Daar is talle goeie sosiale media
groepe en blaaie wat goeie gesonde ontspanning bied. Om net ‘n paar te noem:
-
Preke
-
Teologiese vraag en antwoord sessies
-
Natuurprogramme
-
Films (Christelik en familie gefokus)
-
Praktiese wenke
-
Skoon komedie
2. Die gevare van sosiale media
a.Morele gesag
Kinders word nie net deur hulle ouers en onderwysers geleer nie, maar nou ook deur enige iemand op sosiale media. Gelowiges ontvang nie meer net lering van hulle predikante nie, maar deur persone op sosiale media. Dokters moet kompeteer deur raad en wenke deur mense op sosiale platforms. Sosiale media probeer kompeteer teen persone met formele gesag en die gevolg is dat mense navolgers word van invloedrykes op sosiale media wat baie keer geen kundigheid het op die bepaalde gebied nie, maar baie invloed. Dit lei tot misverstande, dit lei tot valshede, dit lei tot dwaasheid en bevordering van leuens en sonde.
Sonde word ook aangemoedig en afgemaak as normaal en natuurlik op hierdie platforms en as jy dit teëstaan, selfs op Bybelse gronde, word jy afgemaak as ‘n hater van God en ‘n bose mens.
b.Sondige invloede
Terwyl blatante boosheid soos pronografie nie op algemene sosiale platforms toegelaat word nie, is daar verseker talle dinge wat ongesond is vir die siel om te sien en te hoor wat deur hierdie platforms ontbloot word. Advertensies wat op hierdie platforms geplaas word is nie soms net steurend nie, maar selfs onvanpas of sondig. Die plasings van baie persone is ook nie altyd opbouend vir die siel nie en kan soms kras en vuil taal bevat en segestiewe aanmerkings bevat wat God nie eer nie. Partymaal is dit fotos wat geplaas word wat nie tot stigting van jou geloof is nie.
Sosiale media platforms is nie Christelike platforms nie, en terwyl dit tans nog Christelike plasings aanvaar, aanvaar dit ook godsdienstige plasings van ander gelowige. Dit plaas ook sogenaamde plasings van ‘kerke’ wat ons nie as kerke sou klasifiseer nie en wat ‘n valse evangelie verkondig. Dis soms harde werk om deur hierdie goed te sif en vir die ongeoefende oor kan dit baie keer lei tot misleiding en miskonsepsies van die ware evangelie.
c. Slegte gesindhede
Daar is op baie platforms van sosiale media mense wat sterk uitgesproke raak oor sekere kwessies. Persoonlik vir ek baie persone se aanmerkings op byvoorbeeld, publieke groepe as baie negatief en kras. Eerder as om ‘n positiewe gesindheid te hê en te kweek maak hierdie platforms jou ook negatief en bevorder dit ‘n gesindheid van kla oor alles.
Persone word aangeval, verneder, ge‘cancel’ omdat ander persone vir hulle kwaad is of iets wat hulle gesê het verkeerd verstaan het. Veral die aanval op raadslede in jou omgewing kan baie keer baie onChristelik, onnodig en onmenslik wees. Daar is ‘n gesindheid wat geskep word dat almal moet inval en saam aanval en baie keer is dit presies hoe dit gebeur en iets klein en onskuldig word heeltemal uit verband geruk.
d.Vermorsde tyd
Baie ure kan vermors word deur tyd op sosiale platforms te spandeer. Die manier waarop hierdie platforms ontwerp is waarin jy inligting kan ‘opskuif’ of ‘afskuif’ bevorder die gedagte dat jy nie so baie tyd daarop spandeer soos jy dink nie. ‘n Vinnige loer om te sien wat aangaan lei baie keer na ‘n baie lang tyd wat jy daar spandeer. Video of video, prentjie op prentjie, aanmerking op aanmerking en voor jy weet spandeer jy ure op so ‘n platform sonder dat jy dit ooit besef.
As jy te veel tyd op sosiale platforms spandeer is daar 3 areas wat skade ly: Jou verhouding met God, jou verhouding met jou familie, jou werksverrigting by die werk.
e. Aanmoediging van sonde
Behalwe vir al die bogenoemde
kwessies is daar nog maniere waarop sosiale media jouk an aanmoedig tot sonde. Ek wil hier net ‘n paar noem:
-
Dit dryf selfbevrediging na (jy soek ‘likes’
‘thumbs up’ ‘aanmerkings’ om goed te voel)
-
Dit word ‘n tipe afhanklikheids dwelm (jy kan
nie te lank wegbly nie)
-
Dit ontneem jou van refleksietyd (tyd alleen is
tyd om te reflekteer oor God en die lewe)
-
Dit weerhou die aanspreek van probleme ( Dis
bied ontsnapping van emosionele probleme)
3. Jou gedrag op sosiale media
Die gevare op sosiale media kan jou dryf om self skuldig te word aan die gedrag van ander mense daar. Hier is ‘n paar praktiese voorstelle van hoe jy jouself moet gedra op hierdie platforms as ‘n gelowige
a. Moenie
vergeet dat jy ‘n gelowige is nie – Romeine 6:13
b.Moenie stry nie – 2 Timoteus
2:23-26
c. Moenie
impulsief wees nie – Prediker 5:1
d.Moenie disrespekvol wees nie
– 1 Korintiërs 10:24
e.Moenie skinder nie – Efesiërs
4:29
f. Moenie
aandag soek nie – Mattheys 6:1 & Romeine 2:8
Opsomming:
Ondersoek jou eie sosiale teenwoordigheid, besin die gevare wat hier bo genoem is en ander waaraan jy kan dink. Wees versigtig! Die gelowige het die Heilige Gees, maar dit beteken nie ons is immuun teen die aanslae van die bose op hierdie platforms nie.
Daar is baie voordeel in Sosiale media en sien dit vir myself en vir die uitbreiding van die evangelie. Beperk die hoeveelheid tyd wat jy daarop spandeer en die hoeveelheid platforms waarop jy is. En beperk die invloed van die slegte.
Die gevaar is om die baba saam met die badwater uit te gooi,
sien die gevaar, sien ook die voordeel en weeg dit vir jouself op. In alles
soek die eer van God. Laat die woord van
Romeine 12:2 jou lei “En
word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die
vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en
welgevallige en volmaakte wil van God is.”
ds. Leon Harmse
Die leraar van Sunwardpark Baptiste kerk
