Search This Blog

Afrikaans (28) English (27)

03 May 2024

Hoe oorwin jy angstigheid?


Hoe oorwin jy angstigheid? 

Wat is die ding wat Jesus in die evangelies die meeste sê ons nie moet doen nie?  Dit is “Moenie vrees nie”.  Ons kan aanneem dat Jesus dit selfs meer vir sy dissipels en mense gesê het as dit wat opgeteken is.  Die rede hoekom Jesus dit sê is omdat Hy die mens verstaan.  Hy wat die mens gemaak het, en wat self mens geword het (en dit sonder enige sonde), verstaan die mens beter as enige iemand.  Jesus sê, moenie vrees nie, want mense vrees.  Angstigheid is iets waarmee meeste (indien nie alle) mense sukkel met tye, sommige meer as ander.  Vrees kan soms verlammend oorweldigend wees. Angstigheid is een van die grootste probleme van die moderne mens. 

Maar wat is die oplossing?  Die wêreldse oplossing is medikasie.  Medikasie is die antwoord as jou angstigheid die gevolg van ‘n chemiese wanbalans in jou liggaam is, maar in meeste gevalle is dit nie die probleem nie.  Jesus wys vir ons dat die rede waarom ons angstig word is in meeste gevalle ‘n geestelike probleem, eerder as ‘n fisiese een.  Dit hou verband met ons verhouding met God. 

In Mattheus 6:19-34 praat Jesus oor angstigheid.  Hier bied Hy aan ons ‘n langtermyn oplosing vir die probleem.  Baie keer as jy dokter toe gaan, behandel hy die probleem sonder om aandag te gee aan die oorsaak.  Jesus wys egter vir ons in verse 19-24 die oorsaak van ons angstigheid voordat Hy in vers 25-34 lei tot die behandeling.

 

1. Die oorsaak van angstigheid 

Wat ons angstig maak is dat ons gefokus is op die verkeerde dinge in hierdie lewe.  Jesus gebruik 3 beskrywings om ons uiteindelik te lei tot wat ons angstigheid veroorsaak.  Soos ‘n goeie dokter ondersoek Hy jou om uit te vind presies wat die probleem veroorsaak: 

a.Waar jou skatte is 

“Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie;” (v6:19).  In Suid Afrika verstaan ons die tweede voorbeeld miskien beter as die eerste.  Skatte hier op aarde kan gesteel word en kan deur mot en roes verniel word.  Let egter op, Jesus praat nie hier van besittings nie, maar skatte.  Besittings is goed wat jy reken as noodsaaklik, maar jou geluk hang nie daarvan af nie.  Skatte is goed wat vir jou so belangrik geword het, jy kan nie sonder dit klaarkom nie. Kom ek noem ‘n voorbeeld:  Jou selfoon kan vir jou ‘n besitting wees (dis belangrik, goed en bruikbaar), of dit kan vir jou ‘n skat wees (Ek moet dit hê, ek kan nie daarsonder nie).  Jesus praat hier van skatte en as jy ‘n skat verloor lei dit tot angstigheid! 

As jy van enige goed hier op aarde ‘n skat maak, is jou skatte in die verkeerde skatkamer.  En daardie dinge sal noodwendig daartoe lei dat jy angstig word.  Dokter Jesus het sy vinger gedruk op iets en dis seer, maar nie ondraaglik seer nie.  Ons begin sien wat die probleem is, maar dis nog nie duidelik nie. 

b.Wat jou fokus is 

“Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg is, sal jou hele liggaam verlig wees.” (v22).  Hoe kyk jy na situasies? Hoe som jy omstandighede op?  Dit vertel vir jou iets van jou oog, of dit reg of verkeerd kyk.  As jou oog gefokus is op aardse dinge is jou oog sleg en sien dit net duisternis.  As jou oog op hemelse dinge gefokus is, is jou oog reg en sien dit lig.  As jy ‘n wêreldse gesindheid en perspektief van gebeure het, sal jy oorweldig word deur hopeloosheid in omstandighede. Wêreldse dinge is onseker en onvas.  

So wat Jesus sê is, as jou oog op die verkeerde plek fokus in jou omstandighede gaan dit veroorsaak dat jy angstig word.  Ons kom nader aan wat die probleem is, Jesus het sy vinger in jou oog gedruk, en die pyn is amper ondraaglik, maar ons is nog nie heeltemal by die werklike oorsaak nie. 

c. Wie jou meester is 

“Niemand kan twee here dien nie; want òf hy sal die een haat en die ander liefhê, òf hy sal die een aanhang en die ander verag.” (v24).  Jesus se ondersoek vorder nou, Hy het gedruk op jou skatte en dit maak seer, Hy het toe gedruk op jou oog en dit was baie pynlik, nou om verder te ondersoek en die werklike oorsaak te vind. En wat is die werklike probleem?  Die hart van die probleem is ‘n probleem met jou hart.  En hier is die probleem met jou hart:  Terwyl jy die seën van Christenskap soek wil jy nie die dinge van die wêreld agterlaat nie.  Ons verstaan die rede waarom God vir ons wêreldse dinge gee verkeerd.  God skenk aan ons die dinge van hierdie wêreld as dienaars om Hom te eer, maar ons het van die dienaars ons heer gemaak en van die Here ons dienaar.  Ons soek Hom vir Sy seëninge, maar ons soek nie Sy eer met wat Hy vir ons gee nie.  Dit lei tot ‘n konflik in die hart wat lei tot ons angstigheid.  Ons kan nie twee meesters dien nie, dis of God en Sy eer, of dis die wêreld en sy ellende. Maar twee meesters tergelyketyd dien is nie ‘n opsie nie, dis of God of dis die wêreld, nie albei nie.  

Hiermee het Jesus uitgekom by dit wat die oorsaak van ons angstigheid is: Ons fokus is nie volledig op God nie, ons probeer wydsbeen leef met een voet in die koninkryk en die ander in die wêreld.  As ons besorgheid oor wêreldse dinge ons oorweldig lei dit tot angstigheid.

 

2. Die oplossing vir angstigheid 

Dit bring ons by die ‘daarom’ van vers 25.  Daarom, omdat die oorbeklemtoning van wêreldse dinge die oorsaak van ons angtigheid is, hou op om julle te kwel “Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor julle lewe – wat julle sal eet of wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam – wat julle sal aantreke nie. Is die lewe nie meer as voedsel en die liggaam as klere nie?” vers 25.  Let op dat die dinge wat Jesus hier lys as die dinge wat ons kwel alles toekomstige dinge “wat julle sal eet of wat julle sal drink…of wat julle sal aantrek nie”. Terwyl die gevolge van die dinge uit die verlede of in die hede kan lei tot angstigheid, is ons angstigheid gewoonlik oor dinge wat moontlik (of sekerlik) gaan gebeur in die toekoms.  Die rede waarom ons angstigheid meestal oor toekomstige dinge gaan, is omdat ons dit nie kan beheer of kan weet wat dit gaan bring nie.    

So ons het ‘n diagnose:  Dit wat ons skat geword het het ons oë verduister en het ons god geword en ons vrees om dit te verloor.  Ons het ons vertroue geplaas in dinge wat ons nie kan vertrou nie, dinge wat onseker is en ons kan teleurstel en nou is ons daaroor angstig. 

So wat is die oplossing? Wat moet ons doen om van ons angstigheid ontslae te raak?  Die antwoord is twee woorde: Glo God! Glo die een wat belowe het en wat werklik in beheer is.  Jesus wys ons hoe hierdie geloof in God moet lyk:  

a.Dink aan jou Vader se heerskappy

Wat ons gaan eet, wat ons gaan drink, wat ons gaan aantrek, is dit dinge waaroor ons angstig is, maar hierdie is die dinge wat God aan ons belowe het.  As God vir die voëls van die lug sorg en die lelies van die veld aantrek, hoeveel te meer sal Hy nie vir ons sorg nie.  Ons is meer as hulle!  Hulle is skepsels van Sy hande, maar ons is Sy kinders, ons is veel meer waardevol as hulle, so hoeveel te meer sal Hy nie vir ons sorg nie. 

Die dinge waaroor ons angstig word is die dinge waaroor die heidene hulle bekommer sê Jesus, en ons kan God vir hierdie dinge vertrou, Hy sal vir ons sorg!  Die eerste ‘pil’ wat jy moet neem vir jou angstigheid is: Glo God is werklik in beheer! 

b.Gee jou lewe oor in Sy hande

Geloof is nie maar net om die Woord te verstaan en te glo dat dit waar is nie, geloof vra dat ons God moet vertrou vir dit.  Dit vra dat ons alles moet los en moet spring in die absolute vertroue dat Sy arms ons gaan vang.  Ons moet ons behoeftes na Hom bring wat vir ons sal voorsien. 

Dit is dan Jesus se punt met die bekende woorde van verse 33-34.  “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.  Kwel julle dus nie oor môre nie, want môre sal hom oor sy eie dinge kwel. Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad.” As ek glo dat God werklik God is, dan sal ek buig voor Sy koningskap en glo dat Hy sal doen wat reg is.  As Hy belowe het om te voorsien, dan sal Hy, want Hy is betroubaar en opreg.  Hy wat aan my die ewige lewe belowe het, het ook aan my my daaglikse brood belowe en saam met dit alles wat ek nodig het.  

Die tweede ‘pil’ wat jy moet neem is: Vertrou Sy voorsiening. Vertrou Hom, dis die medikasie om jou angstigheid te behandel. 

 

Dit waaroor jy angstig is, is miskien iets wat werklik ‘n bekommernis is, maar as dit werklik ‘n bekommernis is, sê 1 Petrus 5:7 “Werp al julle bekommernisse op Hom want Hy sorg vir julle.” Maar om angstig oor hierdie dinge te wees gaan niks help nie, dit gaan nie die probleem oplos nie (v27)  Ons moet doen wat Jesus ons aanmoedig om te doen in Johannes 14:1 “Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My”.  Die konteks van hierdie vers is dat Hy vir ons ‘n ewige plek gaan voorberei, ons hoef nie te vrees dat ons verlore sal gaan nie. Maar vers 13 wys dat dit ook oor sy tydelike voorsiening van elke behoefte van ons gaan.  Hy sal vir ons sorg, daarom moenie angstig wees nie, vertrou God en Hy sal voorsien.  Geloof in God is hoe om angstigheid te oorwin!

 ds. Leon Harmse

Die leraar van Sunwardpark Baptistekerk