Search This Blog

Afrikaans (29) English (28)

17 May 2024

Die verskil tussen die Rooms Katolieke ‘kerk’ en Gereformeerde Christenskap

 


Die verskil tussen die Rooms Katolieke ‘kerk’ en Gereformeerde Christenskap 

Onlangs het verskeie mense gevra en gewys op die verskille wat tussen ons en Rooms Katolieke bestaan wat aanleiding gegee het tot hierdie studie.  Ek wil begin deur te noem dat nie almal wat hulleself Katoliek of Gerefromeerd noem is nie.  In hierdie studie poog ek egter om te wys op die amptelike leer van die onderskeie groepe soos gevind in hulle belydenisskrifte en kategismes.  

Deur die jare het ek van talle gehoor dat ons, instede daarvan om die Rooms Katolieke ‘kerk’ te weerstaan, eerder moet poog om met hulle saam te werk in die sake van evangeliesasie en hulle sodoende moet erken as ‘n ware kerk.  Hierdie is onmoontlik, eerstens omdat julle sal sien dat hulle leer geheel en al afwyk van die wat die Skrif leer, maar ook omdat die Rooms Katolieke ‘kerk’ geen ander kerk erken as ‘n ware kerk nie.  Hulle sien gelowiges uit ander dinominasies as ‘afgesonderde broers’ wat die liggaam van Christus verdeel en verskeur.  Hulle sien hulleself as die enigste ware kerk wat deur apostoliese opvolging tot stand gekom het en hulle predikers as priesters wat uit die nageslag van Petrus self is.  Leiers en predikers van enige ander kerkverband word nie gesien as georden in die apostoliese tradisie nie en onwaardige dienaars van Christus.  

Die volgende is ‘n fokus op ‘n aantal spesifieke leringe van die Rooms Katolieke ‘kerk’ wat afwyk van ware Christenskap.  Ek het ook in kort die leer van Gerformeerde Christenskap uiteengesit soos dit verskil van die Rooms Katolieke ‘kerk’.

 

1. Middelaars 

Die Rooms Katolieke kerk het ‘n aantal persone wat gesien word as middelaars tussen mens en God.  ‘n Middelaar is iemand wat namens mense na God kan gaan en/of namens God met mense kan praat.  

(a)    Die maagd Maria

Hulle glo dat Maria as moeder van die Here optree as tussenganger tussen Christus en mens en hulle bid tot haar en betoon toewyding aan haar. 

(b)   Die Pous

Hy word gereken as ‘die hoof van die kerk’ wat direk afstam van die apostel Petrus en die Biskop van Rome.  Hy word deur hulle gesien as ‘n middelaar wat namens mense kan intree by God. 

(c)    Talle afgestorwe ‘heiliges’

Hierdie ‘heiliges’ word na hulle dood deur die Pous aangestel om in te tree namens gelowiges wat nog lewe en daar word van Katolieke verwag om tot hierdie afgestorwe ‘heiliges’ te bid. Moeder Teresa is een voorbeeld hiervan, maar daar is talle ander. 

(d)   Die leraar of leiers van die plaaslike gemeentes

Hulle word Priesters genoem wat die rol van Christus vervul.  Hulle word sodoende gesien as middelaars wat tussen God en mens staan en vir mense kan intree deur hulle verskeie funksies.

 

Gereformeerde siening:

Gereformeerde Christenskap leer dat daar slegs een ware Priester is wat as Middelaar tussen God en mens kan optree en deur Sy dood genoegsame versoening gedoen het vir elkeen wat in Hom glo (1 Tim. 2:5).  Jesus Christus, en Hy alleen, is die Hoof van die Kerk, Sy liggaam wat Hy gekoop het met Sy eie bloed(Ef. 1:22-33).  Terwyl ons Maria erken as die moeder van ons Heer en haar maagdelikheid bely, het Sy geen ander rol as ‘n voorbeeld van gehoorsaamheid en liefde vir God nie.  Die gelowige bid alleen tot God deur Jesus Christus ons genoegsame Middelaar.  Ons glo dat die leiers in ‘n gemeente die verantwoordelikheid het om hulleself te wy aan gebed, die bediening van die Woord (Hand. 6:4) en die versorging van die kudde(1 Pet. 5:1-2).  Ons glo verder in die priesterskap van alle gelowiges waardeur elke gelowige (1 Pet. 2:9) die verantwoordelikheid het om self alle leringe te ondersoek en te sien hoe dit ooreenstem met die leer van die Skrif.  Hulle verantwoordelikheid is verder as priesters om verantwoordelike Skrifstudie (Hand. 17:11) te doen om sodoende ‘n Skriftuurlike teologie vir geloof en lewe te ontwikkel deur die leiding van die Heilige Gees wat in elke gelowige is.

 

2. Byeenkomste 

Rooms Katolieke byeenkomste verskil van ons byeenkomste om verskeie maniere: 

(a) Basis van hulle leer

Die godsdienstige byeenkomste van Rooms Katolieke word geken deur talle onBybelse praktyke en elemente.  Hierdie tradisies en gebruike is nie gebaseer op enige lerstellings uit die Skrif nie maar kom deur buiteBybelse bronne en leerstellings.  Hierdie buiteBybelse bronne en leerstellings word op dieselfde vlak gereken as die 66 boeke van die Bybel en in baie gevalle verkies hulle voorkeer bo die leer van die Skrif.

(b)Afbeeldings

So vind mens in die geboue van Rooms Katolieke verskeie beelde van persone.  Jy vind byvoorbeel beelde van Jesus aan die kruis, van die maagd Maria en soms selfs beelde van ander afgestorwe ‘heiliges’ wat deur die Pous erken word.  Dit is Rooms Katolieke gebruik om voor hierdie beelde te buig en hulle te aanbid.

(c) Sakramente

Hulle erediens word die Mis (Mass) genoem en die sentrale element daarvan die die Eucharist (nagmaal) wat by elke samekoms gebruik word.  By die nagmaal bring die priester weer opnuut die offer van Christus en die brood word letterlik Sy liggaam en die wyn word letterlik Sy bloed.  Die nagmaal is een van sewe sakramente wat deur hulle erken word. Die sewe sakramente is: die Doop, die Nagmaal, die Bevestiging, die Versoening, die Salwing van siekes, die Huwelik, die Heilige Ordes. Die doop, nog een van hulle sewe sakramente, dra nie net ‘n simboliese betekenis nie, maar dit red en regverdig jou voor God.  Die doop alleen is egter nie genoegsaam nie en talle ander goeie werke moet bygevoeg word sodat jy gered kan word.

 

Gereformeerde siening:

Gereformeerde eredienste word geken deur elemente en gebruike wat Bybelse gefundeer is.  Omdat ons die ses en sestig Boeke van die Ou en Nuwe Testament aanvaar as die enigste gesag in sake van geloof en lewe word alle erediens gebruike op die Woord gebou. Standbeelde is afwessig in ons aanbiddingsplekke en word nie voor gebuig of aanbid nie.  Gereformeerde gelowiges erken net die twee Bybelse sakramente (soms ordinansies genoem), naamlik die doop (Matt. 28:19) en die nagmaal (Matt. 26:26-29).  Die doop het geen regverdigings- of reddingswaarde nie. Dit is ‘n teken dat ons geregverdig en gered is deur geloof.  Dit is verder ook ‘n teken van die reiniging van sonde en nuwe lewe wat ons in Christus alleen ontvang het.  Die nagmaal is ‘n gemeenskapsmaal wat deur gelowiges onderhou word in herinnering aan die voltooie werk van Christus aan die kruis.  Die brood en die wyn is betekenisvolle simbole wat die liggaam en bloed van Christus verteenwoordig.  Die kerk is nie ‘n instutuut nie, maar ‘n gemeenskap van gelowige, godvresende mense (Hand. 2:42-47).  Hier word die evangelie verkondig, saktramente (ordinansies) geadministreer en Christelike dissipliene toegepas(Matt. 18:15-17).  Ware apostelskap bestaan deur geloof in en prediking van die evangelie soos uiteengesit deur die apostles en in die Skrif vervat.

 

3. Verlossingsleer 

Opgrond van hulle tipiese praktyke en leerstelling wat teenstydig met die leer van die Skrif is, is daar heelwat verskille in hoe hulle die saak van verlossing sien.  Hier volg ‘n paar enkele afwykings van die tipiese siening van die Skrif soos uiteengesit in Gereformeerde leer. 

(a) Openbaring

Omdat die Bybel nie gesien word as die enigste gesag in sake van geloof en lewe nie, het die Rooms Katolieke talle vreemde en onBybelse sienings oor sake van geloof. 

(b)Middelaarskap

Jesus is nie hulle enigste middelaar nie maar verlossing kom deur Christus, Maria, engele en afgestorwe heiliges en hulle priesters. 

(c) Verlossing

Verlossing is ook nie ‘n werk van God deur genade alleen nie, maar is ‘n span pooging tussen wat God gedoen het in Christus en jou eie werke.  Verlossing is uiteindelik meer afhanklik van die mens se vrye wil en waardigheid as wat dit is van God.

(d)Regverdiging

En regverdiging vind plaas deur geloof en goeie werke wat verrig word om jou deurlopend gedoen moet word.  Uiteindelik kan geen Rooms Katoliek oor seker wees van verlossing nie want hulle is nooit seker of hulle genoeg goeie werke verrig het nie.

(e)Eer

Die ‘Maagd Maria’ en afgestorwe heiliges het ook almal ‘n aandeel in ons redding en daar moet aan hulle erkenning gegee word vir dit, is wat die Rooms Katolieke Kerk leer. Alle eer word nie aan God alleen gegee vir verlossing nie

 

Gereformeerde siening:

Ons glo dat ons gered word deur die leer van die Skrif alleen (Rom. 10:17; 1 Thess. 2:13), deur die kruisdood van Jesus Christus alleen (1 Tim. 2:5-6), uit God se bonatuurlike werk wat ons lewend gemaak het uit genade alleen (Ef. 2:1-5), deur die regverdiging wat God ons in Christus skenk deur geloof alleen (Rom. 3:19-26; Ef. 2:8-10), en vir God se eer alleen wat ons geredding bepaal het voor die grondlegging van hierdie wêreld volgens Sy eie wil (Ef. 1:3-14; Matt. 4:10; Open. 19:10).

 

4. Ander vreemde leerstellings 

Die volgende twee sake het nodig om genoem te word soda tons ‘n meer volledige verstaan van die Rooms Katolieke leer kan hê en die gevaar van hulle teologie kan begryp. 

(a)    Leerstellings

Kerklike tradisie en geskrifte word op dieselfde vlak geplaas as die Skrif.  So ook word alles wat die Pous ‘Ex Cathedral’ (in amptelike posisie) sê gereken as gesaghebbend en Goddelike uitsprake.  Die interprutasie van die Skrif kan selgs gedoen word deur ‘n oorhoofse liggaam in Rome wat die Magisterium genoem word en enige leerstellings wat daarvan verskil word as valse lering beskou.

(b)   Vagevuur

As ‘n Katoliek sterf en nie genoegsame vergoeding in hierdie lewe vir sy sondes gedoen het nie gaan so ‘n persoon na sy dood na die Vagevuur (Purgatory) waar hy boetedoening sal doen totdat hy ‘heilig’ genoeg is om hemel toe te gaan.  Geliefdes wat nog lewe kan die tyd wat so ‘n persoon in die vagevuur spandeer deur gereeld die Mis by te woon, deur aflate (indulgences) namens hulle te verkry en deur vir hulle te bid.

 

Gereformeerde siening:

Die gereformeerde siening is dat die Skrif alleen, soos vervat in die ses en sestig boeke van die Ou en Nuwe Testament die finale en gesaghebbende woord van God is (Ef. 2:20).  Enige leer of praktyk wat hiermee teenstrydig is word geheel en al verwerp as onBybelse en onChristelik.  Die Woord van God alleen is ons riglyn in alle sake van geloof en lewe (2 Tim. 3:15-17).  Daarom verwerp gereformeerde Chrstene ook die konsep van die ‘vagevuur’ (Purgatory) as ‘n onBybelse lering.  Hulle glo, volgens die Skrifte, dat by die dood die siel van die gelowige sy liggaam verlaat en gaan om te wees waar Christus is in die hemel (Fil. 1:23; 2 Kor. 5:8), waar hierdie siel afwagtend is vir die opstanding tot lewe, heerlikheid en onsterflikheid.

 

Ek het in hierdie studie gepoog om ‘n earlike refleksie te gee van die amptelike leer van die Rooms Katolieke ‘kerk’ en te wys op hoe ons as Gereformeerde gelowiges van hulle verskil op die verskeie kwessies.  Dit is my hoop dat dit tot hulp sal wees wanneer jy met Rooms Katolieke in gesprek is oor die evangelie met die begeerte om hulle tot bekering te lei.  Verder moet hierdie ‘n waarskuwing wees sodat ons nie dink dat Rooms Katolieke is maar net ‘n ander variant van ware Christenskap nie, hulle leer is vals en teenstrydig met die leer van die Woord.

 

ds. Leon Harmse

Die leraar van Sunwardpark Baptistekerk.