Search This Blog

Afrikaans (28) English (27)

24 May 2024

Is my lyding asgevolg van sonde?


 Is my lyding asgevolg van sonde? 

In kort is die antwoord op hierdie vraag altyd ‘JA’.  Lyding bestaan asgevolg van sonde.  Toe Adam en Eva God se opdrag verontagsaam het deur te eet van die vrug aan vir boom wat God gesê het om nie te eet nie, sê Genesis 3:7 “toe gaan altwee se oë oop”, en dood, tesame met alle lyding wat die dood impliseer, het toe in die wêreld ingekom (Genesis 2:16-17).  Die gevolg van sonde word in Genesis 3:14-19 verduidelik: Dit beinvloed ons verhouding met God, met mekaar en met diere.  Selfs die grond is vervloek asgevolg van Adam en Eva se sonde (Rom. 8:20-21).  Sonde is die rede waarom die baar van kinders swaar is, ons swaar moet arbei in werk, en die oorsaak van twis in menseverhoudings.  Uiteindelik is sonde ook die oorsaak van fisiese dood.  Om op te som: Sonde het die deur oopgemaak vir allerhande tipes lyding reg deur die hele skepping. 

Die vraag wat ons egter moet vra, en miskien eerder dit is waaroor jy eintlik wonder, is of jou lyding asgevolg van jou sonde is? Die vraag is moeiliker om te antwoord en die antwoord hierop kan ‘JA’ of ‘NEE’ wees.  Terwyl dit soms moontlik is om ‘n direkte konneksie tussen ‘n spesifieke sonde en ‘n spesifieke lyding bestaan, is dit soms nie moontlik om ‘n direkte konneksie te sien nie, en is dit ook moontlik dat jou lyding nie die gevolg van enige sonde in jou is nie.  Die Skrif is egter baie duidelik dat daar twee katogorieë van lyding bestaan:  (1) lyding as ‘n direkte gevolg van sonde (1 Kor. 11:30-32) en (2) lyding wat nie die direkte gevolg van sonde is nie (Joh. 9:3; 2 Kor. 12:8-9).  Hierdie twee katogorieë oorvleuel soms want hulle is nie noodwendig onderling uitsluitend nie.  Dit is moontlik dat jou lyding deels asgevolg van jou sonde is, en deels nie.

 

1. Lyding moet lei tot ondersoek en lydsaamheid 

Die vraag is dan, indien ons nie altyd kan weet of lyding die gevolg van ons sonde is of nie, hoe moet ons daarop reageer?  In ‘n sekere sin maak dit nie saak wat die oorsaak van jou lyding is nie, jou reaksie behoort altyd dieselfde te wees.  In Jakobus 5:10 sien ons dat dit ons moet lei tot lydsaamheid.  Met ander woorde, lyding moet ons lei tot geduld en stille berusting in God.  Lukas 13:2-3 wys egter vir ons dat ons lyding ons ook moet lei tot selfondersoek om te sien of daar nie sonde in ons lewe is waarvan ons moet bekeer nie.  

Of God lyding stuur sodat jy jou lewe moet ondersoek (Heb. 12:6) en of Hy lyding stuur sodat jy sal volhard in geloof en geduld (Joh. 9:3), die antwoord op hoe jy moet reageer word uitgespel in Jakobus 1:2-4 “Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val, omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk. Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie.”  

Let op dat Jakobus nie hier onderskeid maak oor die rede waarom hierdie lyding oor jou pad gekom het nie.  Hy sê nie of dit asgevolg van enige sonde in jou is of nie.  Wat hy sê is, maak nie saak watter tipe versoeking jou oorval nie, jou geloof word getoets.  Die doel van elke vorm van versoeking is dat jy dit sal verdra op ‘n manier wat God se betroubaarheid, wysheid, goedheid, waardigheid, en algenoegsaamheid in alle omstandighede wys. 

Maar in Psalm 139:23-24 lê daar nog ‘n belangrike beginsel. “Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ‘n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!” Hierdie behoort nie net ons gebed te wees in tye van lyding nie, maar in alle tye, insluitend tye van lyding.  Dit is noodsaaklik vir die gelowige om met erns sy eie hart te ondersoek.  As enige sonde nie die voor die hand liggende oorsaak van jou lyding is nie, moet die gebed van Psalm 139 ook jou gebed wees.  Bid dat die Here jou bewus sal maak of daar sonde is wat hierdie lyding veroorsaak. 

So, wanneer ookal lyding oor jou pad kom moet jy hierdie twee dinge doen: Ondersoek en Volhard.  Ondersoek of daar sonde is, en volhard in jou geloof in die Here.  Daar is egter twee dinge wat ‘n gelowige nooit in tye van lyding moet doen nie: (1) Moenie dit ignoreer nie, en (2) moet dit nie sien as God se veroordeling nie (Rom. 8:16-17).  Selfs al is jou lyding die gevolg van sonde is die doel nie om jou tot vrees te dryf nie, maar tot bekering.  God werp nooit Sy kinders uit of veroordeel hulle nie, Hy roep hulle tot bekering. 

So wat behoort jou reaksie te wees op lyding? Dit moet altyd dieselfde wees.  Ondersoek jouself, is daar enige sonde in jou wat hiertoe gelei het? Bekeer jou dan, en tweedens volhard in jou geloof deur die lyding.  Ondersoek en volhard behoort altyd die gelowige se reaksie op sonde te wees.

 

2. Lyding is ‘n hulpmiddel tot heiligmaking en getuienis

Terwyl lyding nie deel was van God se oorspronklike plan nie (dit was die gevolg van die sondeval), gebruik God lyding om die gelowige te ontwikkel en vorm.  Daar is min dinge wat jou so gou lei na selfondersoek as wanneer jy deur lyding gaan nie.  Lyding moet die gelowige lei tot ondersoek van sy eie hart, dade, gedagtes en intensies.  Dit moet ons lei na daardie plekke binne in ons wat ons eintlik graag wil ignoreer.  Is my dade tot eer van God? Wat is die intensies van my hart in wat ek doen? Is my begeerte om God te eer in my dade?  Is my gedagtes deurentyd heilig en rein?  God gebruik soms lyding om ons te lei om beter mense te wees.  Dis Paulus se punt in Romeine 5:3-5 “En nie alleen dit nie, maar ons roem ook in die verdrukkinge, omdat ons weet dat die verdrukking lydsaamheid werk, en die lydsaamheid beproefdheid en die beproefdheid hoop; en die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is.”  

Lyding toets ook ons geloof.  Is ons geloof geloofwaardig? Is dit ware en diep geloof?  In tye van pyn en onstuimigheid gryp ons na dit wat ons ware hoop en rus is.  Na wat gryp jy in oomblike van lyding? Is dit na die Here, of is dit na iets anders?  Tye van lyding ontbloot of ons geloof opreg is of vals.  Dit wys die opregtheid van ons geloof ook nie net aan onsself nie, maar dit wys dit ook aan ander om ons wat opmerk hoe ons op ons lyding reageer.  Lyding is ‘n uitstekende geleentheid vir die ware gelowige om ‘n getuie te leef as hy gryp en vashou aan Hom wat sy enigste troos in lewe en in dood is, Jesus Christus. 

Ons lyding skep ‘n geleentheid om te getuig.  Ons moet soos Habakkuk kan sê “Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie— nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil. Die HERE Here is my sterkte, en Hy maak my voete soos dié van herte, en Hy laat my tree op my hoogtes.” (Hab. 3:17-19).

 

3. Lyding as dissiplinering

Die lyding van ‘n gelowige is soms die direkte gevolg van sonde wat ons gedoen het.  Dit kan selfs sonde wees wat ons gepleeg het voor ons tot geloof gekom het, maar ook sonde wat ons na ons bekering gepleeg het.  Ons sonde regverdig lyding, en kan selfs lei tot die gelowige se fisiese dood.  Hiervan het ons ‘n voorbeeld in 1 Korintiërs 11:30 “Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ‘n aantal het ontslaap.”  Wat egter belangrik is om te sien in die geval van ‘n gelowige se lyding, is dat dit nooit ontstaan uit God se oordeel oor hulle nie.  Romeine 8:1 “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie.”  Die gelowige se lyding asgevolg van sonde is God se dissiplinering van die gelowige.  Daardeur verhoed God iets erger vir hulle (1 Kor. 11:31-32).  Lyding vir die gelowige, selfs al sou dit tot sy dood ly, is nie ‘n veroordeling tot die hel nie, maar dit hou hom inderwaarheid uit die hel en neem hom in God se eie teenwoordigheid in. God se dissiplinering het nooit die gevolg om Sy kinders van Hom te vervreem nie, maar juis om hulle na Hom te bring.  

Inderdaad soos Hebreërs 12:6 getuig “…die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem.” Net soos ons nie ons kinders dissiplineer omdat ons nie van hulle hou of hulle selfs haat nie, maar liefhet, so dissiplineer God Sy kinders omdat Hy hulle wil terugroep; wil bewaar van groter ellende; wil bring tot bekering.

 

4. Lyding en saligheidskwessis

Die realiteit is dat terwyl lyding vir die gelowige beperk is tot hierdie lewe, is lyding hier op aarde net ‘n voorsmaak van die ellende wat die ongelowige vir ewig sal smaak.  Christene ly (1 Thess. 3:3; 2 Thess. 1:5), maar hulle lyding sal eindig.  Gelowiges se leiding is in die hande van ons alwyse, almagtige en ewig goeie Vader.  Lyding is nooit die werk van Satan nie!  Die gelowige se lyding het nooit die gevolg dat hy sy saligheid verloor nie.  Elke steek en pyn van lyding is aangestel en word bestuur deur ons liefdevolle Vader wat alle dinge ten goede sal meëwerk, ook ons lyding (Rom. 8:28) vir die wat Hom liefhet.  Dit is ‘n groot rede tot troos wanneer die gelowige ly om te weet (1) God het dit bestem, (2) dit bewerk uiteindelik goed, en (3) dit bewerk God se wyse plan. 

Vir die ongelowige is lyding egter ‘n oproep tot bekering en geloof in Jesus Christus.  Dis God se waarskuwing dat, indien hulle op hulle huidige weg voortgaan, groter en meer onbeskryflike ellende op hulle wag in die ewige hel.  

God gebruik ook lyding self as ‘n veroordeling van die ongelowige.  Openbaring 16:5-6 getuig hiervan “En ek het die engel van die waters hoor sê: Regverdig, Here, is U wat is en wat was, U, die Heilige, omdat U hierdie oordeel uitgevoer het; want hulle het die bloed van die heiliges en profete vergiet, en U het aan hulle bloed gegee om te drink, want hulle het dit verdien.” Sodoende kan die lyding van die ongelowige ‘n voorondervinding wees van veel groter ellende wat op hom wag oor sy goddeloosheid.  Sy lyding kan in so ‘n geval direk ly tot sy dood, of dit kan ‘n voor verklaring wees van God se ewige toornigheid wat op hom wag.

 

 

Daar is ‘n paar belangrike beginsels waaraan die gelowige moet vashou wanneer hy deur lyding gaan.  Ons lyding is asgevolg van die sondeval van die mens.  Ons lyding is nie uit die hand van Satan nie, maar uit die hand van God.  Ons lyding het ten doel om ons te lei tot selfondersoek en bekering van sonde.  Ons lyding het ten doel om ons te leer om te verdiep in ons vertroue van God en te volhard in die geloof.  Ons lyding is nooit God se oordeel oor ons nie.  Ons lyding is soms God se tugtiging sodat ons weer sal terugkeer na die weg van geregtigheid.  

Vir die ongelowige is daar ook ‘n paar beginsels om te besef.  Jou lyding is God se waarskuwing dat jy jou van jou sonde moet bekeer.  Jou lyding kan ook reeds God se veroordeling van jou wees omdat jy in die weg van ongeregtigheid bly voortleef en God nie eer nie.  Jou lyding is egter altyd uit die hand van God wat regverdig is en doen wat reg is.  Jou lyding is net ‘n voorsmaak van die ellende van die ewige hel wat jy sal ontvang tensy jy jou bekeer.

 

ds. Leon Harmse

Leraar van Sunwardpark Baptistekerk.