Search This Blog

Afrikaans (28) English (27)

02 August 2024

Sondeskuld by die gelowige

 


Sondeskuld by die gelowige 

Herinneringe uit jou verlede kan ‘n wonderlike ding wees, ons almal kan dinge uit ons verlede onthou wat ons bly maak.  Herinneringe uit die verlede kan ook ‘n hartseer ding wees, want almal van ons het dinge in ons verlede gedoen waaroor ons nou skaam is.  Vir die gelowige is een van daardie hartseer herinneringe die sonde van ons verlede.  

Almal het gesondig, en dit veroorsaak vir baie ‘n geweldige skuldgevoel.  Hierdie skuldgevoel kan ‘n goeie ding wees, want dit behoort jou te dryf om daardie sonde te bely en vergifnis te vra.  Vir die gelowige is daar vergifnis van sonde in Jesus Christus.  Soos 1 Johannes 1:9 sê “As ons ons sonde bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reining.” 


1. Bely jou sonde 

Skuldgevoel oor sonde is belangrik, dit kan wys op onbelyde sonde in jou lewe.  Terwyl die gelowige se sonde in Christus vergewe is, maak sonde belydenis steeds ‘n gereelde deel uit van ons geestelike disiplines.  Die rede waarom ons voortdurend sonde moet bely is omdat die gelowige steeds sonde doen.  Ons word nie perfek heilig die oomblik wat ons tot bekering kom nie.  In teendeel, tot die dag van ons dood, sal elke gelowige steeds val in die sonde.  So hier is ‘n aantal dinge wat die gelowige behoort te doen as hy oorweldig is deur skuldgevoel oor sonde: 

a. Ondersoek jou hart en lewe en sien of daar nie enige sonde is wat jy nog nie bely het en voor vergifnis gevra het nie.  In sommige gevalle is so ‘n skuldgevoel gepas, want ons het sonde in ons lewe wat ons moet bely.  Ons voel soms skuldig want ons is skuldig.  Dit is wat Dawid in Psalm 32:3-5 beleef het.  Hy het ‘n oorweldigende skuldgevoel beleef en besef dit is omdat hy onbelyde sonde gehad het, wat hy toe bely het.

b.Bid tot die Here en vra Hom om enige onbelyde sonde waarvan jy vergeet of onbewus was te openbaar sodat jy hierdie sonde ook kan bely.  Die vraag is dat ons oop en eerlik voor God moet wees oor ons sonde.  Soos Dawid ons weereens wys in Psalm 139:23-24 “Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ‘n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!” 

c. Sondebesef behoort ons ook te lei na restitusie waar dit enigstens moontlik is.  Waar ons sonde teen ander gepleeg het, of waar ander deur ons sonde beinvloed is behoort ons dit met sulke mense reg te stel. Ons moet vra dat hulle ons sal vergewe en dit kan selfs vergoeding moet insluit.  In Lukas 19:8 sê Saggéüs dat hy ‘as ek iemand afgepers het…vierdubbel terug’ sal betaal. 

2. Herinner jouself aan die Evangelie

Maar sommige gelowiges sukkel met oorweldigende skuldgevoelens oor sonde wat hulle reeds bely het.  In sommige gevalle is dit skuldgevoelens van sonde wat hulle gedoen het voor hulle bekering.  In sommige gevalle is hulle so oorweldig deur hierdie skuldgevoel oor hulle sonde dat hulle selfs oor hulle verlossing begin twyfel.  Al het hulle hierdie sonde miskien selfs al meermale bely, bly hierdie skuldgevoel soos ‘n swaard oor hulle hang.  Dit is belangrik dat ons besef dat in so geval, terwyl die skuldgevoelens wat jy hieroor beleef werklik is, is jou skuld vir daardie sonde nie meer werklik nie.  As jy jou sonde bely het en vergifnis gevra het, het God jou vergewe, want Jesus Christus het die prys vir jou sonde betaal.  

Terwyl ons almal sondaars is, en ons die erns van ons sonde moet besef, moet  die gelowige ook nooit die ander kant van die muntstuk vergeet nie. Paulus herinner ons aan die twee kante van die muntstuk in 1 Timoteus 1:15 “Dit is ‘n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red, van wie ek die vernaamste is.” Hier sien ons Paulus se geweldige bewustheid van sy sonde, hy noem homself die ‘vernaamste’ van alle sondaars.  Maar Paulus is nie belas met sondeskuld nie, want hy weet dat Jesus Christus juis gekom het om sondaars soos hy te red.  Vir elkeen wat in Jesus Christus glo is daar die vergifnis van sonde. Ons bewustheid van ons sonde moet ons juis na Jesus Christus dryf wat ons gered het.  Terwyl die loon van die sonde die dood is, is die genade gawe van God in Christus Jesus die ewige lewe (Rom. 6:23). 

Maar miskien sukkel jy steeds met skuldgevoelens oor sonde wat jy reeds bely het en voor vergifnis gevra het.  Die Satan is die aanklaer wat jou in so oomblik laat twyfel, selfs oor jou verlossing en jy moet dan bid dat die Here die vreugde van jou heil weer sal herstel (Psalm 51:14).  Daar is ook ‘n aantal beloftes in die Skrif waaraan jy jouself in so ‘n oomblik kan herinner: 

a. Kolosense 2:13-14 “En julle wat dood was deur die misdade…, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het, en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael”

b.1 Petrus 2:24 “[Jesus Christus] wat self ons sondes in Sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees is”

c. Jesaja 53:5 “Maar Hy (Jesus Christus) is terwille van ons oortredinge deurboor, ter well van ons ongeregtigheide is Hy verbruisel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.”

d.Jesaja 53:6 “Ons almal het gedwaal soos skate, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.”

e.Galasiërs 3:13 “Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ‘n vloek te word—want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout hang—” 

Die gelowige wat sy sonde voor God bely het, het geen rede om te twyfel oor God se vergifnis daarvan nie.  God self maak duidelik in sy Woord dat Jesus Christus die volle prys daarvoor betaal het.  Om as ‘n gelowige in die vergifnis van belyde sonde te twyfel is om te twyfel aan die algenoegsame werk van Jesus Christus vir ons.

3. Vergeet God werklik ons sonde? 

Daar is minstens twee teksverse wat die gedagte skep dat God ons sondes vergeet nadat ons dit bely en vergifnis daarvoor gevra het.  Jesaja 43:25 “Ek, Ek is dit wat jou oortredinge uitdelg om My ontwil, en aan jou sondes dink Ek nie.” Hebreërs 8:12 “Want Ek sal barmhartig wees oor hulle ongeregtighede en aan hulle sondes en hulle oortredinge nooit meer dink nie.” Terselfdetyd is die Bybel baie duidelik dat God alles weet en niks vir Hom weggesteek is nie (1 Johannes 3:21; Hebreërs 4:13).  So het God my oortredinge vergeet of is dit steeds oop en bloot voor Hom?  

a. God onthou

Die Bybel praat gereeld oor dinge wat God onthou en nie onthou nie.  Die gedagte is nie dat God vir ‘n tyd lank vergeet het en toe skielik onthou het of andersom nie.  So onthou God sy belofte aan Noag (Gen 8:1) , Hy onthou die onvrugbaarheid van Ragel (Gen. 30:22).  Die bedoeling is nie dat God vooraf daarvan vergeet het en toe skielik weer onthou het nie.  Die bedoeling is dat Hy op daardie spesifieke oomblik op daardie spesifieke saak gaan optree.  Met ander woorde, God het nooit daarvan vergeet nie, die tyd waarop Hy bepaal het om daaroor op te tree het egter dan aangebreek.  

So is dit ook met ons sonde. Dis nie dat God ons sonde vergeet het, asof Hy die alwetende, nie meer kan onthou wat ons gedoen het nie, maar dat God kies om nie teen ons op te tree asgevolg van ons sonde nie.  Wanneer die Here ons sonde vergewe, roep Hy nie ons sonde op om ons daarvoor te straf of aan te kla nie.  Wat God instede doen is om ons sonde van ons af te verwyder, so ver as wat die ooste van die weste is (Psalm 103:12).  Met ander woorde, dis nie dat God ons sonde vergeet nie, maar dat God dit nie meer teen ons hou nie. 

b.God sal op oordeelsdag dag onthou

2 Korintiërs 5:10 maak egter ‘n baie belangrike stelling: “Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.”  Volgens hierdie vers sal elke mens, gelowiges en ongelowiges deur alle eeue ‘n regoordeel ontvang vir al hulle werke.  

Volgens Lukas 12:2-3 sal alles uiteindelik, op daardie dag, geopenbaar word sodat niks meer verberg sal wees nie.  Dit beteken dat nie net ons goeie dade nie, maar ook ons slegte dade sal bekendgemaak word.  Terwyl dit so is, het die gelowige niks om te vrees nie, want Jesus Christus is ons geregtigheid (1 Kor. 5:21; Gal. 3:13; Heb. 10:12). As die gelowige volgens sy werke geoordeel word, sal hierdie werke ons nie verdoem tot die ewige hel nie.  Die prys vir ons sonde is reeds betaal deur die kruisdood van Jesus Christus.  

Hierdie bekendmaking van ons sonde mag dalk vir baie soos ‘n geweldige angstige saak klink, maar hierdie angstigheid word veroorsaak deur ons huidige gevalle denke wat nou so groot ag slaan op die oordeel van mense, terwyl ek min geraak word deur wat ek is in die oë van die reine en heilige God, sê John Newton.  En wat is ons in die oë van die reine en heilige God? Geheilig, geregverdig, skoongewas en verlos deur die bloed van Jesus Christus onse Heer.



Die genade gawe van verlossing in Jesus Christus is inderdaad wonderlik.  Die dag waarop die gelowige tot geloof kom en met opregtheid sy sonde voor God bely en vergifnis vra, sal hy vergifnis ontvang.  Die bloed van Jesus Christus sal ons reining van alle ongeregtigheid.  Die gevolg is dat God ons nie sal straf vir ons sonde nie, nie nou nie, en ook nie op die dag van oordeel nie.  Ons sonde is inderdaad van ons verwyder so ver soos die Ooste van die Weste is en God reken ons dit nie meer toe nie.  Die gelowige moet egter deurlopend sy hart ondersoek en deurentyd sy sonde voor God bely en vergifnis vra, wat hy ook sal ontvang.  Sondeskuld oor belyde sonde is egter onnodig en ons moet daardie angstigheid deur Bybelse beloftes tot ruste stel.  God vergeet nie ons sonde nie, maar Hy hou dit nie meer teen ons nie, die prys daarvoor is betaal.  Op die oordeelsdag sal dit bekend wees, tot lof van Jesus Christus vir sy genoegsame werk vir ons sonde, en ons sal die ewigheid ingaan, nie omdat ons dit verdien nie, maar omdat Jesus Christus ons verlos het.

ds. Leon Harmse

Die leraar van Sunward Park Baptiste Kerk