Search This Blog

Afrikaans (28) English (27)

30 August 2024

Hoe getuig ek teenoor Jehova Getuies?


 

Hoe getuig ek teenoor Jehova Getuies?

Daar is na raming omtrent 8.7 Miljoen Jehova Getuies in die wêreld en daar is ‘n redelike sterk verteenwoordiging van hulle in Suid Afrika.  Dit is daarom baie moontlik dat jy op een of ander stadium ‘n klop aan jou deur sal kry van twee van hulle.

 

1. Wat is hulle hoof ootruigings?

Die Jehova Getuies geken word vir hulle verwerping van: die Drie-eenheid, die Godheid van Jesus, die Persoon van die Heilige Gees, en die konsep van ewige straf.  Ek gaan kortliks uitbrei op hulle lering hier:

 

a.Hulle verwerp die Drie-eenheid’s leer

i.   Net die Vader is God

Hulle naam ‘Jehova getuies’ het ontwikkel uit die transliterasie van God se Hebrewse verbondsnaam in Afrikaans (of Engels) en hulle erken God (die Vader) as die enigste Persoon wat God is.  Hulle verwerp daarom die Christelike leerstelling van die Drie-Eenheid en beskuldig Christene daarvan dat ons drie gode aanbid.

ii. Jesus is ‘n geskepte wese

Jesus, word deur hulle ‘die enigebore van God’ genoem, maar Hy was die eerste wese wat God geskep het, en hulle sien Hom as die aardsengel Migael.  Volgens hulle leer het Jesus ingestem om uit die skoot van die Maagd Maria gebore te word om ‘n sondeoffer vir mense te wees, maar erken nie dat Hy die ewige toorn van God afgewend het nie.

iii.   Die Heilige Gees

Die Heilige Gees is nie ‘n unieke Persoon of God nie, maar eerder ‘n voorspruitende en aktiewe mag van God. 

 

b.Hulle verwerp die ewige straf en hel

Omdat hulle glo dat die liggaam en siel van die mens onlosmaaklik aan mekaar verbind is, leer hulle dat die straf wat Adam (en sy nageslag) vir die sonde ontvang het is net fisiese dood, nie ‘n ewige straf nie.  Hulle glo nie dat daar ‘n ewige pyniging op die ongelowiges was in die lewe hierna nie.

Volgens hulle leer is die 144 000 in Openbaring die letterlike getal van die wat opgeneem sal word na die hemel.  Alle ander Jehova Getuies sal opgewek word om hier op aarde voort te leef.  Alle ander mense sal opgewek word by die ‘opwekking van die onregverdiges’ waar hulle ‘n tweede kans sal ontvang om die leer van die Jehova Getuies te glo en gehoorsaam aan God te wees om sodoene ‘n ewige erfenis hier op aarde te ontvang.  Indien hulle dit nie glo en gehoorsaam nie sal hulle tot niet (Annialisasie) gemaak word.  Hulle verwerp sodoende enige geloof in ‘n ewige hel en ewige straf.

 

2. Bybelse Christenskap

Die leer van die Jehova getuies verskil van die leer van die Bybel.  Terwyl hulle hul eie uiters onakkurate weergawe van die Bybel het (Nuwe Wêreld Vertaling), moet ons hulle leer opweeg teenoor die ware leer van die Skrif soos gevind in behoudende Bybel Vertalings.  Die volgende is die korrek Christelike leerstellings soos gevind in die Skrif.

 

a.Die Drie-eenheid

Dit is onmoontlik om die Bybel te lees sonder om tot die besef te kom dat die God van die Bybel ‘n Drie-enige God is.  Dit is duidelik dat die Vader, die Seun en die Heilige Gees in die Skrif as God gesien word.

i.   God as drie Persone

Die Bybel leer baie duidelik dat God in drie Persone bestaan wat nie drie gode is nie, maar een God wat in drie Persone bestaan: Matt. 28:19 “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”  2 Kor. 13:13 “Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sy met julle almal! Amen.”  

ii. Die Seun van God is God

Jesus verklaar dat Hy die ‘Ek is’ van Eksodus 3:14 is, wat die verbondsnaam (Jehova) van God is. Joh. 8:58 “Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, voordat Abraham was, is Ek.”

Jesus verklaar dat Hy gelyk aan die Vader is en daarom self God is. Joh. 10:30 “Ek en die Vader is een.”

Jesus word op dieselfde manier as God gedefinieer as wat die Vader. Rom. 9:5 “aan wie die vaders behoort en uit wie die Christus is na die vlees Hy wat oor alles is, God, lofwaardig tot in ewigheid! Amen.” Fil. 2:5-6 “Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was. Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie.”

Joh. 1:3 “Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.” Kol. 1:16 “want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte—alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape.” Die Seun is die Skepper van alle dinge (hoe kan Hy dan self geskep wees?)

 

iii.   Die Heilige Gees is God

Die Heilige Gees word deur Dawid, Jesus (wat Ps. 110 aanhaal) en die Hebreër skrywer (wat Ps. 95 aanhaal) as ‘n kommunikerende goddelike Persoon gesien deur wie die bonatuurlike openbaring van God kom.  2 Sam. 23:2 “Die Gees van die HERE spreek in my.” Matt. 22:43 “Hy sê vir hulle: Hoe is dit dan dat Dawid Hom in die Gees Here noem as hy sê” Heb. 3:7 “Daarom, soos die Heilige Gees spreek: Vandag as julle sy stem hoor.”

In Handelinge 5:3-4 noem Petrus die Heilige Gees God wanneer hy Ananías konfronteer. Hand. 5:3-4 “Toe sê Petrus: Ananías, waarom het die Satan jou hart vervul om vir die Heilige Gees te lieg en van die prys van die grond agter te hou?... Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God. ”

 

iv.  Die Niceense Geloofsbelydenis

Die Niceense Geloofsbelydenis is reeds in 325 n.C. geskryf en erken die Godheid van Christus en die leerstelling van die Drie-eenheid as die ware leer van die Christelike geloof

 

b.Die Ewige dood is die bestemming van die bose

i.   Die mens het ‘n ewige siel

Die mens is in die beeld van God gemaak volgens Gen. 1:26 “En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip.” 

Die Prediker leer duidelik dat die mens ‘n ewige siel het wat nie sal sterf nie. Pred. 12:5-7 “Ook sal hy bang wees vir ‘n hoogte, en verskriklike dinge sal op die pad wees! En die amandelboom sal in bloei staan, en die sprinkaan sal homself met moeite voortsleep, en die kapperkruid nutteloos wees; want die mens gaan na sy ewige huis, en die rouklaers sal op die straat rondgaan.  Voordat die silwerdraad verwyder word en die goue oliekruik stukkend val en die kruik by die fontein gebreek word en die wiel stukkend in die put val en die stof na die aarde terugkeer soos dit gewees het, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het. ”

 

ii. God se oordeel is ewige dood

In Rom. 5:12-21 leer ons dat die oordeel van God teen die mens se sonde in die tuin was  ‘n ewige dood.  Deur sy ongehoorsaamheid het Adam fisiese, geestelike en ewige dood op homself en al sy afstammelinge gebring.

Die Skrif gebruik deurlopend die woord ‘ewig’ om die aard van die straf van sonde oor die mens te beskryf.  Die gedagte dat God alle ongelowiges tot niet gaan maak is teenstrydig met die leer van die Skrif.  Die Seun van God het as mens gekom om die ‘ewige’ straf van God te versoen en het in plek daarvan ‘ewige’ lewe geskenk aan elkeen wat in Hom glo (Joh. 3:15-18). Jer. 20:11 “Maar die HERE is met my soos ‘n geweldige held; daarom sal my vervolgers struikel en nie oorwin nie; hulle staan diep beskaamd, omdat hulle nie geslaag het nie, ‘n ewige smaad wat nie vergeet sal word nie.” Matt. 18:8 “En as jou hand of jou voet jou laat struikel, kap dit af en gooi dit weg van jou af; dit is vir jou beter om in die lewe in te gaan, kreupel of vermink, as om twee hande of voete te hê en in die ewige vuur gewerp te word.” 2 Thess. 1:9 “Hulle sal as straf ondergaan ‘n ewige verderf, weg van die aangesig van die Here en van die heerlikheid van sy sterkte.” Jud. 1:6-7 “En die engele wat hul eie beginsel nie bewaar het nie, maar hul eie woning verlaat het, het Hy vir die oordeel van die groot dag met ewige boeie onder die duisternis bewaar; soos Sodom en Gomorra en die stede rondom hulle, wat op dieselfde manier as hierdie mense gehoereer en agter vreemde vlees aangeloop het, as ‘n voorbeeld gestel is, terwyl hulle die straf van die ewige vuur ondergaan.” 

 

3. Deel die evangelie met Jehova Getuies

a.Fokus op die Godheid van Christus

Terwyl hulle die leer van die drie-eenheid en die Godheid van die Heilige Gees verwerp ontstaan hierdie valsheid uit hulle ontkenning van die Godheid van Christus.  Dit is daarom noodsaaklik om in jou gesprek met hulle te fokus op die Godheid van Christus. 

Die Jehova Getuies se ‘Nuwe Wêreld Vertaling’ verwyder talle van die verwysings na die Godheid van Christus.  Daar is egter enkele tekste, in hulle eie vertaling, wat goddelikheid aan die Seun toeskryf.

i.   Jesaja 9:6 in hulle eie vertaling noem die beloofde Messias ‘Magtige God’

ii. Terwyl Hebreërs 1 in hulle vertaling verander is, noem die Vader die Seun Jehova in Hebreërs 1:8.  Hierdie is ‘n aanhaling uit Psalm 102:26-27.

iii.   In hulle vertaling is alle verwysings na aanbidding van Jesus verwyder.  In Lukas 24:52 is dit egter onmoontlik om dit weg te laat en daarom het hulle dit vertaal as ‘aan hom hulde bewys’ eerder as die korrekte vertaling wat sê “hulle het Hom aanbid”. Aangesien net God waardig is van aanbidding moet hulle dit hier verkeerd vertaal.

b.Fokus op die regverdige straf vir sonde

i.   Fisiese dood lei na ewige dood vir hulle wat onder God se vloek is.  Jesus en die Apostels leer dat die verdiende straf vir sonde ‘n ‘ewige straf’ is (Matt. 25:46; 2 Thess. 1:9; Jud. 1:7).

ii. God is oneindigend en ewig en daarom verdien elke sonde teen Hom ‘n oneindigende en ewige straf.  Om die verdiende straf van ons sonde te begryp is fundamenteel om hulle te lei tot besef dat die ewige God-mens, Jesus Christus se versoeningsdood noodsaaklik was.

iii.   As daar geen ewige straf is nie is dit net sinvol dat die mens, eerder as om God te soek, moet begeer om te lewe vir sy begeertes en plesiere want daar is dan geen ewige nagevolge vir sy sonde nie.  Dit is die argument wat Paulus in 1 Korintiërs 15:32 voer “As die dode nie opgewek word nie, laat ons dan eet en drink, want more sterf ons!” Sonder ‘n ewige straf in die hel, is daar niks vir die ongelowige om te vrees nie, al wat dan uiteindelik sal gebeur is hy sal tot niet gaan.


Opsommend:

Die valse leer van die Jehova Getuies kan saamgevoeg word onder twee hoof valshede: Hulle verwerp die leer van die Drie-eenheid en hulle verwerp die leer van ewige straf vir die onregverdiges.  In hierdie twee areas is hulle nie net teenstrydig met die hele Christelike geloof nie, maar ook teenstrydig met die Bybel, God se Woord.  Hulle verdraaide vertaling is nie ‘n akkurate weergawe van die oorspronklike teks nie en hulle vertallers het opsetlik tekste verdraai en weggelaat om hulle valse godsdiens te regverdig. 

Die Jehova Getuies moet geensins gesien word as ‘n Christelike ‘sekte’ of een van talle ‘weergawes’ van die Christelike geloof nie.  Hulle aanbid nie die ware God wat in drie Persone (Vader, Seun en Heilige Gees) bestaan nie.  Daarom moet ons ons beywer om die ware evangelie aan hulle te verkondig en die valsheid van hulle leer uit te wys.

 

ds. Leon Harmse

Leraar van Sunwardpark Baptistekerk