Treur oor die dood van ‘n geliefde
Die dood van ‘n geliefde is ‘n baie pynvolle belewenis. Jesus het verstaan wat dit is om ‘n geliefde te verloor. In Johannes 11:1-4 vind ons die verhaal van Jesus se treuring oor Sy geliefde vriend Lasarus. Jesus was diep geraak en het gehuil oor die dood van Sy vriend. Maar hierdie verhaal eindig egter nie in trane nie, Jesus het Lasarus uit die dood opgewek (Joh. 11:25). Ons kan troos vind in die wete dat die dood nie die einde is van hulle wat sterf nie. Elkeen wat in die Here Jesus Christus glo sal ewige lewe ontvang (Joh. 10:28). ‘n Nuwe woning is vir ons voorberei waar daar geen dood, trane of pyn meer sal wees nie (Open. 21:1-4). Maar terwyl ons hierdie troos het, dat ons gelowige geliefdes by die Here is vir ewig, bly ons hier agter en die hartseer kan oorweldigend wees. Hoe moet ons as gelowiges treur oor die dood van ‘n geliefde?
1. Christene
mag treur
As Jesus getreur het oor die dood van Sy vriend kan dit nie sonde wees, of verkeerd wees om te treur oor die dood van jou geliefde nie. Gelowiges is mense wat treur, maar ons treur nie soos ongelowiges nie, want ons het hoop (1 Thess. 4:13). As ons geliefde ‘n gelowige was, is hulle nou by die Here, en hulle is gelukkig waar hulle is, dit bied vir ons vertroosting. Ons is bly vir hulle onthalwe, terwyl ons hulle mis. Dood is ‘n onnatuurlike inbreker wat by ons iemand kosbaar geneem het, maar dood is deel van God se vervloeking op die mensdom asgevolg van sonde. Dood was nie deel van God se perfekte hoop vir ons nie.
Om te treur oor die dood van
iemand getuig dat jy vir hulle lief was, dat hulle vir jou iets beteken en dat
jy nou armer is omdat hulle nie meer daar is nie. Ons leer dit by die Jode wat toegekyk het hoe
Jesus oor Lasarus huil wanneer hulle sê ‘Kyk,
hoe lief Hy hom gehad het!’ (Joh. 11:36).
Dit is nie verkeerd vir ‘n gelowige om te treur nie, want Jesus het self
getreur oor die dood van Sy geliefde vriend.
2.
Die
Here is ons bron van vertroosting
“Maar Hy wat die nederige troos, naamlik
God, het ons getroos” (2 Kor. 7:6).
Ons moet vertroosting en genesing by God vind deur gebed. Hy is ‘die
Vader van ontferminge en die God van alle vertroosting wat ons troos in al ons
verdrukkinge.’ (2 Kor. 1:3-4). Die
Here ken jou pyn en Hy is lief vir Sy kinders, hardloop daarom na die ‘skuilplek van die Allerhoogste’ waar jy
‘toevlug’ en ‘n ‘ bergvesting’ sal vind in jou hartseer (Ps. 91:1-2).
Dit is ook baie belangrik om so veel moontlik die Woord van God te bestudeer (Rom. 15:4), want dis daar waar jy God se woorde van vertroosting sal vind. Jy moet ook nie nalaat om kerk toe te gaan en aandagtig te luister na die prediking van God se Woord nie. Daar is ‘n groot gevaar dat jy vertroosting (of ontsnapping) sal soek by mense, in kos, in winkels, op die internet of televisie, maar niks hiervan kan jou vertroos nie, net die Here kan die gelowige vertroos, kom na Hom.
3.
Gee
uitdrukking aan jou emosies
Onthou dat Jesus sy hartseer uitgedruk het. Deur trane en deur woorde
moet ons aan ons hartseer uiting gee. Om
jou emosies in te hou is onnatuurlik want ons is nie liggaamlose siele
nie. Ons moenie vergeet dat God ons
emosionele wesens gemaak het en dat in tye van hartseer net reg is om dit uit
te druk nie. Ons moet egter onthou dat ons emosies wel beinvloed word deur
sonde en daar is sondige emosies en emosies kan ook sondig uitgedruk word. Daar is ‘n tyd en ‘n plek vir trane en trane
op die regte tyd is ‘n seën van God.
Treuring verskil ook van persoon tot persoon want die Here het aan ons
verskillende persoonlikhede gegee. Die
hoeveelheid trane wat iemand stort is daarom nie ‘n maatstaf van iemand se
hartseer of liefde vir die persoon nie.
4.
Wees
voorbereid dat hartseer jou gaan oorweldig
‘n Storm op die see is miskien die beste vergelyking met hoe die proses
van rou kan wees. Soos die storm van
Jona (Jona 2:3) of die van die kinders van Korag (Ps. 88:8) kan dit soms voel
of ons in ons hartseer verdrink. Jy mag
tye van hopeloosheid en vreugdeloosheid beleef waarin jy so diep in ‘n gat van deppressie
mag voel. Dit mag vir jou voel of alles
en almal jou oorweldig en asof die Here self van jou vergeet het. David skryf van so belewenis in Psalm 13. Maar in daai oomblik roep hy tot die Here en
hy herinner homself aan die goedheid van die Here teenoor Hom en dit lei hom om
sy vertroue en rus in die Here te vind wat hom uit sy ellende sal verlos.
5.
Vat
dit een dag op ‘n slag
Die proses van treur oor die dood
van ‘n geliefde neem tyd. Die seer wat
daarmee gepaardgaan is onvermydelik omdat ons hulle mis. Ons mag moontlik langs die pad mismoedig word
omdat ons dink dit gaan nooit ophou nie, dat ons hartseer sal wees vir die res
van ons lewe. Maar Jesus leer ons ‘n belangrike
les in Mattheus 6:34 ‘Kwel julle
dus nie oor more nie, want more sal hom oor sy eie dinge kwel. Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad.’ Maar net soos elke dag sy eie hartseer bring,
so sal ons ook genoeg genade vir elke dag ontvang (2 Kor. 12:9). Neem elke dag op sy eie en jy sal vind ‘God sal [jou] help as die dag aanbreek’
(Ps. 46:6). As ‘n dag vir jou te swaar
is, keer jouself van God se Woord (Ps. 119:28) vir sterkte en roep Hom aan in
gebed want Hy sal jou rus gee (Matt. 11:28-30).
6.
Fokus
op jou dagtake
Daar is ‘n groot gevaar dat jou
hartseer jou so sal oorweldig dat jy niks kan of wil doen nie. Die dood van ‘n geliefde is ‘n geweldige knou
en dit mag jou gedagtes en tyd oorneem sodat jy eintlik voel dat al wat jy dag
vir dag doen is net bestaan. Ons moet
egter opstaan en aangaan en hoe vinniger hoe beter, want hoe langer jy in daai
magtelose toestand bly, hoe moeiliker gaan dit word om op te staan uit
dit. Die beste is om op te staan en te
begin om die noodsaklike dinge elke dag te doen en uiteindelik uit te brei
totdat jy weer terug in volle aktiwiteit kan kom (Jes. 35:3).
7.
Praat
met ander
Dit
is belangrik om nie jou seer en hartseer vir jouself te hou nie. Dit is ongelukkig so dat baie mense moeg sal
raak om te luister en jou miskien selfs sal vermy. Omring jouself met mense wat gewillig is om
te luister en jou te rig na die Here wat ons toevlug en ons sterkte is in tye
van benoudheid (Ps 46:2) en jou so bemoedig.
Mense het soms nie woorde om te sê of raad vir jou hartseer nie, maar
dit is altyd goed om iemand te hê wat net sal luister. Dis ook belangrik om jouself veral te omring
met mede gelowiges wat vir jou in jou tye van hartseer kan bid.
Opsommend:
Laat ons nooit vergeet dat die gelowige se hartseer lei
uiteindelik na hoop nie. As ons op die
Here vertrou en na Hom kom met ons hartseer sal Hy ons vertroos en uiteindelik
neem na waar Hy en die leerskare van medegelowiges vir ons wag, en as jou
geliefde Hom liefgehad het soos jy, sal julle mekaar weer in die ewigheid in
die heerlikheid ontmoet. Die Here het
aan ons emosies gegee sodat ons daardeur uitdrukking aan ons seer kan gee, dis
‘n groot genade en ons moet nie skaam wees om te huil wanneer die tyd reg is
nie. Daar sal tye van groot storms kom,
maar bid tot die Here wat jou daardeur sal help. Staan elke dag op en pak die dag aan in die
wete dat die Here jou sal sterkmaak.
Moet jou nie bekommer oor die hartseer van môre nie, die Here sal jou dan
weer opnuut versterk as jy na Hom kom.
Terwyl ons dankbaar kan wees vir mense om ons wat ons bemoedig, kom ons
vergeet nie dat dit die Here is wat ons sal dra.
ds. Leon Harmse
Leraar van Sunward Park Baptiste Kerk
